BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 17 Maart 2012

VERKLEURMANNETJIES VERLOËN JESUS

- is ek miskien skaam vir my Verlosser?

Is ons geloof nie dalk verkleurmannetjie geloof nie? In Johannes 12:42-43 vind ons so ’n situasie. (Lees dit gerus) Die verkleurmannetjie verander sy kleur na gelang van die omstandighede en probeer doelbewus onopsigtelik bly. En die verkleurmannetjie Christen? Presies dieselfde! Tussen ander Christene praat hy soos ’n Christen, maar tussen mense van die wêreld praat en lyk hy soos ’n wêreldling. As ek saam met die manne gaan visvang of rugby kyk, tydens die maatskappy se spanbou naweek of daar langs die braaivleisvuur waar ons die land se probleme probeer oplos... smelt ek so goed saam met my goddelose geselskap, dat my geloof onsigbaar en onhoorbaar raak. Skaam om Christus openlik te bely en te sê dat ek aan Jesus behoort. Johannes se uitspraak in vers 43, “hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God" impliseer:

Verkleurmannetjie geloof is ’n valse geloof!

Dis ’n soort geloof wat ons nie ver gaan bring nie. Dit wys mense se opinie weeg vir ons swaarder as God se eer. God se eer is nie regtig dan vir ons belangrik nie.

Jy vra : “Kan ek nie maar net in my hart glo en stilbly nie? Moet ek regtig vir my vriende sê en openlik wys dat ek ’n Christen is? In alle omstandighede?”

Wat sê die Woord? Kom ons kyk na Romeine 10:9:

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word."

Geloof met die hart en belydenis met die mond gaan saam. Altwee is ewe belangrik, die een beteken niks sonder die ander een nie. Dit help nie ek glo, maar bly stil daaroor nie. Dit help natuurlik ook nie ek sê dat ek glo, maar ek glo nie regtig nie. (Let op -die volgorde in vers 10 word omgeruil.) Belydenis en openlike standpuntinname vir Jesus is ’n integrale deel van reddende geloof. Openlike belydenis is ’n bewys dat ek regtig glo. Dit wys ek is so oortuig wat ek glo dat ek bereid is om gespot te word of watter gevolge ookal te dra.

Belydenis van Jesus is nie opsioneel nie! Die erns van hierdie saak word deur Jesus self in Matteus 10:32,33 gestel:

“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal ek my ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is."

Skaam stilswye oor Jesus is waarskynlik een van die groot redes waarom mense onseker is oor hulle verhouding met God. Hierdie skaamte is dalk die blok aan my been wat keer dat ek spoed kry op die geloofspad. Reddende geloof is nie ’n wegkruipertjie geloof nie. Dit kom daarop neer, as Jesus my Verlosser is, sal dit openlik sigbaar en hoorbaar word. Hoekom bly ek stil? Dalk bang vir my vriende? Is inwees by vriende vir my belangriker as God se goedkeuring? Ek pas maar aan by hulle en verswyg my geloof in Jesus. Ek maak soos ’n verkleurmannetjie!

Nou hoor ek die algemene beswaar: “Ek is bang om vir ander mense te sê dat ek God se kind is, want ek maak soveel foute!

Onthou net :

~ Christen wees beteken nie dat ek nooit weer foute maak of sondig nie. Die Onse Vader gebed is ’n bewys daarvan, want dit maak voorsiening vir vergifnis van sonde. Jesus weet ons sal nodig hê om vergifnis te vra! Onthou net, Christene is dissipels en ons weet die woord “dissipel” beteken leerling. Tydens ons leerlingskap gaan ons foute maak!

~ Om Christus te bely beteken in elk geval nie dat ek sê dat ek nooit sonde doen nie. Dit bely juis dat ek ’n Advokaat, naamlik Jesus het. (en inderdaad nodig het) Bedink die heerlike waarheid van 1 Johannes 2:1

~ As ek ’n Christen is en bewus raak van ’n sonde moet ek dit nie as ’n verskoning gebruik om stil te bly oor Jesus nie (dan doen ek nou twee sondes in plaas van een!) Nee! Wat moet ek maak? Ek vra vergifnis vir daardie sonde, stel dit reg en roei dit uit deur die krag van die Heilige Gees! As ek mos geval het, hoef ek nie te bly lê nie.....Miga 7:8!

Daar's geen wettige verskoning om stil te bly oor ons geloof in Jesus nie! Om stil te bly oor Jesus is om Jesus te verloën! En as ek hieraan skuldig is? Hou moed! Petrus se verhaal wys daar is radikale vergifnis ook vir hierdie sonde..... Kyk hoe herstel Jesus hom weer ten volle in sy amp in Johannes 21! Vra om vergifnis en moenie langer ’n verkleurmannetjie Christen probeer wees nie. Wys jou ware kleure! Wys en sê dat jy kant gekies het vir Jesus! So stel jy God se eer eerste! Hy sal jou ook eer en seën!  STERKTE!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.