BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 23 Maart 2012

KINDEROFFERS

- pasop wat jy met God se eiendom doen!

Die Here beskuldig sy volk Israel in Esegiël 16 (maak gerus jou Bybel hier oop) van ontrou en afvalligheid. Om dit te verduidelik gebruik God ’n besonder treffende beeld. Israel was soos ’n klein babadogtertjie wat weggegooi is by geboorte. (Vers 4&5) God het haar opgetel en haar onder sy sorg geneem. Toe hierdie meisie groot word, het sy God se eiendom (bruid) geword. (Vers 8) Sy was nou ’n pragtige vrou, geskik om ’n koningin te wees! (Vers 13) Maar Israel het afvallig geword. Met ander woorde, hierdie mooi meisie het ’n slet geword! Ontrou! (Vers 15)

Van weggooikind tot koningin tot slegte vrou!  Wat het sy gedoen? AFGODERY! Israel het in afgodery verval. (Vers 16) Maar dit was nie die ergste van Israel se sonde nie. Dit wat die Here die meeste ontstel was dat hulle nie net self afgode gedien het nie, maar ook hulle kinders aan die afgode geoffer het. (Vers 20-21) Dit was ’n letterlike gebruik onder die heidense nasies en Israel het so ver weg van God afgedwaal dat hulle ook ook aan hierdie gruwel meegedoen het. Selfs die koning van Juda, Manasse was hieraan skuldig. (2 Kronieke 33:6) Dis hoe laag die sondaarmens kan daal : Verbrand my kind vir ’n afgod!

Dis niks anders as Satanisme nie!

In Esegiël 16:20-21 vind ons ten minste twee belangrike uitsprake van God rakende ons kinders :

1. God is begaan oor die kinders van sy verbondsvolk. Hy is besorg oor hulle. Hulle is baie belangrik vir Hom. Hy noem kinders hier “jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het” (20) en “my kinders”(21) Verbondskinders is God se eiendom. God maak aanspraak op hulle. God is inderdaad ook die God van kinders, selfs die ongebore kinders van sy mense. Psalm 71:6 bevat ’n uiters belangrike waarheid :

“Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder”

Natuurlik bedoel dit nie dat kinders wat in verbondshuise grootword outomaties gered is nie. Geloof en bekering is vir alle mense nodig volgens hulle bevatlikheid. Geloof en bekering is juis ’n vereiste binne die verbond. Dis die noodsaaklike reaksie op God se beloftes. Die punt is net : God is betrokke ook by die kinders van sy mense. Hulle is deel van God se sigbare kudde op aarde. Is dit ook so in die Nuwe Testament, wonder jy dalk? Ja, beslis! Jesus ruim alle twyfel daaroor uit die weg as Hy klein kindertjies seën. Jesus se seën van die kindertjies was tog nie maar net 'n leë gebaar nie, of hoe? Seën is 'n verbondsterm! God se reddingsplan sluit ook kinders in, ook kinders wat nog nie kan verstaan nie.

 Die kinders van God se mense is kosbaar vir Hom!

2. Dis ’n gruwelike sonde om verbondskinders aan die afgode te offer. Nou het dit vandag nog iets vir ons te sê? Daar is darem seker nie meer in ons dag mense wat sulke bloeddorstige barbaarshede aanvang nie. Ja, ongelukkig! Dis ’n feit dat mense vandag nog steeds God se verbondskinders vir die afgode voer. Dit gebeur daagliks, sommer hier tussen ons. Mens sien elke dag die tragiese gevolge daarvan. Laat ek twee praktiese voorbeelde noem van afgode wat ons kinders verteer:

Materialisme. Om sigbare materiële dinge eerste te stel en na te jaag. Gierigheid word pertinent afgodsdiens genoem. (Kol 3:6) Hoe raak dit ons kinders? Ons jaag so rond om geld te maak, ons skeep ons kinders af. “Ja, maar ek werk ekstra hard juis omdat ek vir my kinders lief is en vir hulle ’n toekoms wil skep!” Dis ’n ou leuen wat Satan in ons koppe inprent. Weet jy hoe spel ’n kind die woord liefde? “T-Y-D” Ja, natuurlik het ’n kind kos en klere nodig. Maar hulle het veral tyd en aandag nodig! Jy kan nie ’n kind se hart met geld en duur goed koop nie! Jou kind het saamwees nodig! Onthou : Jy het net 18 jaar om ’n kind positief te beïnvloed en waardes en waarheid te leer!

As ek my kinders liefhet, sal ek tyd maak om die belangrikste aan hulle oor te dra : DIE WAARHEID VAN DIE WOORD!

Deur materialisties ingestel te wees leer ouers van kleinsaf  boonop nog vir hul kinders ook verkeerde waardes. Ons leer hulle om belangrikheid en sukses te meet in terme van welvaart.  Wat 'n leuen! Vra jouself eerlik : "Is sukses baie geld of is dit ’n gesin wat gelukkig saam die Here dien?"

Sekularisme. Om te leef asof God nie bestaan nie of dat Hy glad nie belangrik is nie. ’n Sekulêre mens of samelewing steur hulle nie aan God se reëls en ordes nie. Ons offer ons kinders aan die god van sekularisme as ons woorde en dade die indruk by hulle skep dat God nie belangrik is nie. Ons steur ons nie byv. aan God se reëls vir huwelik en gesin nie. Ouers wat Sondae oggende lê en slaap en net die kinders Sondagskool toe stuur, verkondig luidkeels : "God is nie die moeite werd nie!" In effek verbrand hulle hulle kinders in ’n afgod se arms!

Hoe kan ons die gruwelike sonde van kinderoffers regstel? Deur ons voor God te verootmoedig, berou te toon en te bekeer (ons gedrag te verander). Waar daar berou en bekering is skenk God genade. Die einste slegte koning Manasse het hom voor God verootmoedig en het genade ontvang. 2 Kron 6:12 (Lees) 

God se genade is ook genoeg vir 'n kindermoordenaar! Genade, onbeskryflik groot!

Net as ek my tot Jesus bekeer het en dankbaar ’n nuwe lewe leef, kan ek die regte pad vir my kinders wys. Nie een van ons kan van ons kinders, Christene maak nie. Dis net die Heilige Gees wat hulle van sonde kan oortuig en na Jesus toe kan trek. Maar God gebruik Christen ouers se woorde, voorbeeld en gebede. Christen ouers wat getrou is aan hulle verbondsbeloftes. Christen ouers wat standput ingeneem het teen die afgode van materialisme en sekularisme. Mag God ons die genade skenk om ons kinders aan Hom toe te wy en nie aan die afgode te offer nie. Want onthou hierdie kinders is eintlik God se eiendom! Wee, die een wat God se eiendom vir die afgode voer!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.