BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 06 Maart 2012

AS DIE OMURAMBA LOOP

- strome van lewende water!

Min dinge maak ons Suidwesters (Namibiërs as jy wil) so opgewonde soos ’n omuramba (droë rivierloop) wat afkom! Lopende water is vir my van kleinsaf ’n vreemde en fassinerende verskynsel. Vir die wat ons land dalk nie ken nie; die enigste standhoudende riviere is op die verre Noordgrens (Kunene, Kavango en Zambesi) en die verre Suidgrens (Oranje). In Windhoek waar ek grootgeword het was lopende water maar ’n skaars gebeurtenis. As dit gereën het en die stroompies kom af, het dit groot opgewondenheid veroorsaak! Toe ons kinders was het ons huisgesin so ongeveer elke twee jaar die lang (en warm) pad af Kaap toe aangedurf. Hoe wonderlik dan om na die lang tog deur die vaal suide oor die bruisende groenomsoomde Oranjerivier te ry. 'n Lafenis vir die oog. Maar dis maar ’n kort verposinkie. Gou bevind jy jouself weer in die droë Richtersveld en Namakwaland. (Onthou dis Desember skoolvakansie - daar’s nie blomme nie) Maar dan... daar in die omgewing van Klawer en Clanwilliam is daar ’n oorvloed van lopende water! Verruklik!

’n Rivier wat afkom sal altyd vir my ’n opwindende belewenis bly. Toe ek dus nou die dag hoor dat die omuramba by Tsintsabis water in het, is daar sommer ’n vinnige besluit geneem om dit vir vroulief en die kinders te gaan wys! Hoe aangenaam! Statige makalani’s wat ons met hulle weerkaatsings in die water bederf. In die plek van droogte en hitte is daar nou water en Boesmans wat babers vang! Ja, water maak werklik ’n wonderlike verskil!




Dit herinner sterk aan Jesus se veelseggende uitnodiging en belofte in Johannes 7:37&38. Jesus staan te midde van ’n skare mense en roep hardop uit:

“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê : Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Jesus alleen kan aan die dorstige sondaar lewe en verkwikking bied. Deur die persoonlike geloof in Hom ontvang ons die vernuwende lewegewende Heilige Gees. Dis ’n lewe van oorvloed - volledige vergifnis, volhoubare vreugde (ten spyte van hartseer en slegte omstandighede) en ’n onaantasbare ewige erfenis in God se teenwoordigheid! Dis inderdaad strome wat opborrel uit ons binneste!

Jesus nooi jou ook uit tot hierdie tot hierdie nuwe lewe!



'n Stroom in die woestyn! Die Kuiseb kom af in 2011 na buitengewone goeie reën!





Die Swakoprivier bereik die see in 2011. Die eerste keer in my lewe wat ek die voorreg kon smaak om dit te sien.




Vasgekeer deur die geelstroom! Februarie 1997. Dit was oppad van Walvisbaai na Windhoek via die Gamsbergpad dat hierdie stroom my voorgekeer het. Wat 'n onvergeetlike belewenis!





Hierdie foto is deur my pa geneem tydens 'n sendingveldtog in Kaokoland nog in die tyd van die Bosoorlog. Ek dink die weermag het hulle deurgesleep.




Dors les in die Ugab (Damaraland) - Maart 2012



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.