BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 27 Februarie 2012

VEILIG IN DIE HEMELSE BRANDKLUIS

- moenie twyfel oor jou ewige erfenis nie!

Gestel ‘n brandarm man kry eendag ‘n brief van ’n prokureur. Na jare het iemand iewers ontdek hy is ‘n afstammeling van ‘n ryk koninklike in Europa en die enigste erfgenaam. Die koninklike het al jare gelede gesterf en het ’n kasteel en groot landgoed agtergelaat. Toe die arm man dit lees het daar hoop opgevlam in sy hart... wat ’n wonderlike erfenis! 'n Heerlike vooruitsig!  Maar namate die tyd vorder kom daar allerhande kwellings by hom op : hy het nie geld om te reis nie, hy wonder of die brief hoegenaamd eg is en as dit wel is in watter toestand die erfgoed is. Dalk is alles nou net ruïnes? Hy het steeds ’n mate van hoop, maar dis ‘n taamlik onseker en onrustige hoop. Dit skep eintlik meer onsekerheid as blydskap. Baie Christene se hoop op hulle ewige erfenis vertoon ook so ‘n onsekerheid en onrustigheid. Dikwels is ons hoop maar wankelrig en wek min blydskap.

Kind van God, ons behoort nie onrustig en onseker te wees oor ons ewige toekoms nie!

Kom lees saam met my 1 Petrus 1:3-5 en sien hoekom ons hoop vas en seker is!

God het ’n volk in hierdie wêreld. Dis nie die Jode (of die Afrikaners) nie, maar elkeen wat aan Jesus behoort. Anders gesê, dis die mense wat die wedergeboorte as geskenk ontvang het op grond van die opstanding van Jesus. Hier sien ons alreeds ’n rede waarom ons verlossing vas en onwankelbaar is. Dis nie gebou op ons eie werk of prestasies nie, maar op die heerlike vaste feit van die OPSTANDING VAN JESUS!* Hierdie volk van God is oor die hele wêreld verstrooi. Ons pas ook eintlik nêrens in nie. Ons is soos vreemdelinge. Ons het ’n ander Koning en ’n ander Vaderland! (Vers 1) Maar dit beteken nie ons is doellose swerwers en uitsiglose rondlopers nie. Ons is mense met vaste hoop!

Omdat ons God se kinders is, het hy ’n erfenis aan ons bemaak. Ja, daar is ’n ewige skat vir ons weggelê en dit word spesifiek ’n erfenis genoem. “Erfenis” - lui dit ’n klokkie? Erfenis/besitting is ’n belangrike en deurlopende tema in die Skrif. Dit word spesifiek gebruik ten opsigte van God se beloftes van ’n land aan sy volk Israel. God het ’n belofte van ‘n erfenis aan sy volk gemaak (Genesis 17:8; 28:4 Deuteronomium. 1:8, Psalm 79:1 - God se erfenis is besoedel) Hierdie belofte van hulle erfenis het Israel aan die gang gehou in hulle omswerwinge in die wildernis. Soos Israel is God se Nuwe Testamentiese volk (die Christene) ook swerwers deur hierdie wêreld, maar ons is nie bedelaars sonder hoop en eiendom nie! Ons is titelhouers van ’n erfenis. Hierdie erfenis behoort aan ons omdat Jesus uit die dood opgestaan het, nie omdat ons God self op een of ander manier beïndruk het nie. Ons behoud van ons erfgenaam status is ook nie afhanklik van ons prestasie nie. Hoe belangrik om dit te besef!

Niks kan met hierdie erfenis foutgaan of skeefloop nie, dis nie in die weegskaal nie. Ons erfenis is :

Onverganklik, onbesmet en onverwelklik!

Wat is die betekenis van hierdie drie terme? Nee, dis nie sommer maar net drie mooiklinkende woorde nie. Dis vol gelaai met betekenis vanuit die heilsgeskiedenis! Dit hou verband met die land Kanaän wat die volk Israel se erfdeel was.

~ In teenstelling met die aardse Kanaän, is die Kanaän van die voleinding, onverganklik! (onvernietigbaar) Julle sal onthou die aardse Kanaän is dikwels verwoes en geplunder deur Israel se vyande as ’n straf op hulle sondes. Die beloofde land van die verlede was maar baie kwesbaar! Ons hemelse erfenis daarenteen is egter onaantasbaar veilig. Geen duiwel en geen vyand kan daar bykom nie!

~ Ons erfenis is onbesmet. Dit was juis die tragedie met Kanaän. Israel het met hulle sondige praktyke hulle erfenis, Kanaän besmet en bevuil. Hulle het nie mooi gewerk met hulle erfgoed nie. Dis deur hulle afgodery en sonde bemors. Jeremia 2:7 (lees) In kontras hiermee sal die erfenis wat God vir diegene wat Jesus glo onbesmet en rein bly.

~ In teenstelling met die aardse Kanaän is ons erfenis onverwelklik. Dit sal nie uitdroog en verdor soos die land Kanaän destyds onder God se oordeel nie. Droogte was een van die strawwe van God oor sy volk.

Om dit saam te vat : Petrus stel hier die kontras tussen die aardse land Kanaän en ons hemelse erfenis. Israel het maar net die aardse Kanaän as ’n voorafskaduwing ontvang. Ons ontvang die hemelse vervulling daarvan. Israel se Kanaän was maar gebroke, juis vanweë Israel se sonde. Die beloofde land Kanaän was maar soos die geskiedenis dit leer ’n kwesbare stuk besit. Ons erfenis kan egter nie vernietig of besoedel word nie. Ons God beloofde erfenis word in die hemelse kluis bewaar. Dis bestand teen die bederf van die sonde en die bedreiging van dood.

Maar hier kom nou nog ’n verrassing : ons erfenis is nie net iets nie - dis Iemand! Dis God self! Dit wat God vir die hoëpriester Aäron gesê het sal nou waar word van elke gelowige - Numeri 18:20. “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel” ** Die priesters van destyds het nie grond in Kanaän gekry soos die ander Israeliete nie, God self was hulle erfdeel! In die nuwe bedeling is alle kinders van God mos sy priesters! (Vgl. 1 Petrus 2:9-10)

God self  is ons ewige erfdeel en rykdom!

Ons weet nie wat ons ewige erfenis als behels nie, maar die essensie daarvan soos Openbaring ook leer is God self. God sal by die mense woon. Ons sal Sy heerlikheid sien! Hyself sal oor ons skyn! 'n Son gaan nie eers nodig wees nie. Hy sal ons volkome vertroos en vervul met sy teenwoordigheid! (Ons hoef dus byvoorbeeld nie debat te voer of ons in die hiernamaals troeteldiere sal hê nie!!)

Ons erfenis word gewaarborg met ’n hemelse sekuriteit.

Maar nou kom daar nog iets by. Ook die erfgename (ons)  word bewaar en beskerm. (Vers 5)  Dit sou maar min troos bied as die erfenis veilig sou wees, maar ons wat moet erf weet nie of ons behoue sal bly om dit in ontvangs te neem nie. Heerlik om te hoor : Ook ons word deur die “Krag van God” bewaar.

Hierdie feit moet ons troos! Wat kan fout gaan met iets wat deur God se krag gewaarborg word? Ons sien tog die tekens van God se krag - die heelal, die detail wondere van die skepping, die mens en veral die opstanding van Jesus!

Dis God wat ons bewaar. God se aksie. En tog ons is in dit alles nie passief en onbetrokke nie. Die manier waarop God ons bewaar vir ons erfenis, is via die weg van ons geloof. (Vers 5) Die krag is God se krag, maar God se krag maak ons nie toeskouers of robotte nie. God sluit die mens in by sy aksies. Ons aksie is geloof, volhardende geloof!

Nou wat staan my as kind van God te doen? Hoe stimuleer ek geloof in my eie eie hart? Hoe bevorder ek geloof?

John Murray gee kosbare insig oor hierdie saak : "It is not by looking within, in the attempts to discover the movements of God’s regenerative grace that faith is evoked. It is preoccupation with the glories of the Saviour that constrains faith.”

Dit beteken prakties : Hou op om te tob oor jouself en jou (swak) geloof en bedink Christus se heerlike persoon en werk! Aanskou en bewonder die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis. Dis deur sy kruis en opstanding dat Hy vir ons plek berei het in die Vaderwoning! (Johannes 14:1-6) Sy kruisdood was voldoende. Die volledige prys is betaal. As ek my gedagtes en hoop fokus op Jesus dan sal ek agterkom hoe my geloof en vertroue groei. “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil....”

My broer en suster, jou erfenis word veilig bewaar vir jou! En jy word veilig bewaar vir jou erfenis! Deur die krag van God! Wees hieroor bly en volhard in die geloof.

 

* Lees ook : SPOKE EET NIE VIS NIE

** Ek verkies Numeri 18:20 in die Ou Vertaling. Dit stem ook ooreen met die NIV wat sê : “I am your share and your inheritance among the Israelites” en ook La Bible wat lees : “C'est moi qui serai ta part, ta richesse au millieu des autres Israélites” So pragtig, God self is ons rykdom!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.