BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 Desember 2011

SPOKE EET NIE VIS NIE!

JESUS HET WAARLIK OPGESTAAN! LUKAS 24:36-49


Spoke eet nie vis nie! Dis hoekom die opgestane Jesus 'n stuk vis vat en voor die oë van sy dissipels eet! Hy wil hê hulle moet weet dat Hy nie maar net 'n gees of 'n illusie is nie, maar werklik die liggaamlik opgestane Jesus. Dieselfde Jesus wat 'n paar dae vantevore voor hulle oë gekruisig is. Daarom vra hy ook dat die dissipels aan hom vat, dat hulle kan voel Hy het vleis en bene. Daarom wys Hy hulle die wonde aan sy hande en voete, dat hulle kan seker wees van sy identiteit. Jesus doen moeite dat sy dissipels moet verstaan dat Hy letterlik, liggaamlik opgestaan het. Dis ook vir ons belangrik om aan hierdie feit vas te hou veral omdat daar deesdae valse profete en dwaalleraars (sommige noem hulself teoloë) is wat beweer dat die opstanding nie regtig plaasgevind het nie. Hulle sien die opstanding as iets wat maar net in die gedagtes van die dissipels gebeur het. Hulle beweer die dissipels het aan hallusinasies gely.

Geliefdes, ons glo saam met die dissipels en al God se kinders deur die eeue :

Jesus het histories, liggaamlik opgestaan en sy graf is leeg!

Belangrik : Die dissipels wat Jesus op hierdie dag gesien en aan Hom gevat het, was so oortuig van sy opstanding dat hulle later bereid was om te sterf vir hierdie waarheid! Die meeste van hulle het inderdaad marteldode gesterf omdat hulle vas gestaan het by hierdie oortuiging en getrou aan Jesus gebly het. Niemand sal willens en wetens vir 'n leuen sterf nie. Die dissipels was bereid om vir hierdie waarheid hulle lewens op te offer, want hulle het die Lewende Jesus van aangesig tot aangesig ontmoet en was absoluut oortuig van die waarheid : HY LEEF!

Waarom is die feit van die liggaamlike opstanding so belangrik? Waarom kan niemand 'n Christen wees as hy nie werklik glo in die opstanding nie?  Waarom is die feit van die leë graf ononderhandelbaar? Kom ons onderstreep net paar sake:

Die Opstanding bevestig dat alles wat Jesus gesê het waar is. Ons moet verstaan, Jesus het geweldig omstrede en vreemde uitsprake gemaak byv : "Ek het mag om sondes te vergewe, Ek is die weg, die waarheid en die lewe, Ek gaan kom om te oordeel, Ek en die Vader is Een..." Ongelooflike radikale uitsprake! Maar is dit waar? Onthou Jesus het soos ’n gewone Jood gelyk en geleef (Hy het nie ’n goue stralekrans om sy kop gehad en altyd in ’n spierwit kleed rondgeloop soos die Kinderbybels dit teken nie.) Nou wie sê Jesus se bewerings is waar, wie sê Hy is nie maar net ’n mal mens nie, wie sê Hy is nie maar net ’n kulkunstenaar of ’n slim geslepe redenaar nie? En toe sterf hierdie Jesus ook nog, die dissipels het dit voor hulle oë gesien (dink aan die twyfel - "hoe kan hy die Beloofde Verlosser wees, Hy sterf dan soos ’n vervloekte misdadiger, magteloos aan 'n skandpaal?) Maar dan die ongelooflike! Hier staan Hy, Hy praat met ons, Hy eet hier voor ons, ons vat aan Hom.... Daarom weet hulle (en ons) : "Ja, Hy is werklik wie Hy gesê het Hy is, Hy is waarlik die unieke Seun van God!"

 

Die Opstanding bewys dat alles wat die Skrif oor Jesus gesê het waar is. Dit gaan spesifiek hier oor die Ou Testament. Jesus vestig die dissipels se aandag op die uitsprake oor Hom in die Bybel van destyds, die Ou Testament! In al die Ou Testamentiese boeke, wat verdeel word in drie groot hoofdele (die wet van Moses, die Profete en die Psalms) is Jesus se koms en lyding en oorwinning voorspel. Nou kon die dissipels sien dat God getrou was aan sy beloftes oor ’n Verlosser (die Messias) Jesus gee vir hulle op hierdie oomblik ’n insig om te kan raaksien hoe al die Skrifuitsprake waar geword het in Hom. Jesus het reeds in die sinagoge van Nasaret uit die Jesajaboek gelees en vir die mense gesê dat Hy die Gestuurde is wat God beloof het. (Lukas 4:16-20) Nou kan die dissipels en ons weet Hy is waarlik die Beloofde Verlosser van wie God al eeue vantevore deur die profete gepraat het. Jesus se opstanding bevestig dat God se Woord waar en betroubaar is. Ja, al sy beloftes en al sy waarskuwings!

Die Opstanding beteken dat ons Jesus en sy boodskap ernstig moet opvat. Want Jesus leef! Jesus se uitnodigings aan sondaars, Jesus se beloftes van die ewige heerlikheid, maar OOK Jesus se waarskuwings oor die hel moet ernstig opgeneem word. Die Opstanding bewys dit was nie sommer net praatjies nie. Samevattend gaan dit oor die boodskap van bekering en vergewing van sondes! (47) Het jy al self daarop gereageer, erns gemaak, jou bekeer en vergifnis ontvang?. Is ons besig om hierdie heerlikeboodskap van hoop  uit te dra? As Jesus dan die Redder is, as Jesus waarlik mense kan verlos van sonde en hel, dan moet ons Hom ook gehoorsaam om hierdie boodskap van bekering en vergifnis die hele wêreld vol oor te dra.. Die opgestane Jesus beveel dit. Jesus beloof ook dat sy dissipels die Heilige Gees sal ontvang en dit het ook so gebeur en die belofte van die Heilige Gees is ook vir ons! Die opstanding bewys Jesus is die enigste unieke Verlosser! Al die groot godsdiensfigure van die verlede (Boedha, Mohanmmed) het gesterf en is steeds dood! Ons aanbid ’n lewende Middelaar, ’n lewende hoëpriester: ons kan met Hom praat, ons kan ons harte voor Hom uitstort, ons kan Hom vertrou en ons kan met verwagting uitsien na sy koms!

Uit hierdie waarhede wat die opstanding bevestig het kan ons nog twee praktiese persoonlike nuttige gevolgtrekkings maak:

Die opstanding gee persoonlike vaste sekerheid aan elkeen wat Jesus as Here aanvaar het. Hoe so? Jy het Jesus aanvaar as Verlosser maar miskien twyfel jy partykeer, sal God nie tog maar die slegte goed wat ek gedoen het straf nie, wat van daardie een vreeslike ding, daardie aaklige sonde van 15 jaar gelede wat ek nooit kan vergeet nie...? Die feit van die opstanding is die bewys, dis die kwitansie dat God die betaling, die offer van sy Seun aanvaar het. Ons sekerheid lê in die vaste historiese feite van die kruis en die opstanding! Ons emosies kan wisssel, maar hierdie feite staan ewig vas! Die opstanding troos ons, want my sonde ja, ook myne is volledig gestraf, ek is vry!

 

Die opstanding gee ’n heerlike hoop vir die toekoms. Ons almal moet geliefdes aan die dood afgee, ons almal moet self deur die Doodsjordaan gaan. In sulke tye troos die opstanding God se kinders. Jesus se fisiese opstanding is die waarborg van ons liggaamlike opstanding. So seker as wat die opgestane Jesus nie ’n spook was nie, so seker gaan ons ook nie eendag spoke wees nie. Ons gaan ook opstaan met nuwe liggame, sonder smart en gebreke. Ons kan uitsien na nuwe verheerlikte liggame net soos Jesus s'n! (Fil 3:21) Ons sal volmaak wees soos HY!


Jesus was nie ’n spook nie. Hy het waarlik opgestaan. Hierdie feit is die fondasie van die kind van God se Verlossing!

















2 opmerkings:

  1. Die persoon wat homself voorgedoen het as jesus was n kulkunstenaar. Hy het die graf oopgemaak, die lyk verwyder en daarna voorgegee hy is jesus, nogal met tekens op die hande en aan die sy. Niemand het hom eers erken nie, nie eers sy ma nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dis jammer jy noem nie jou 'n naam nie, maar ek sal tog die moeite doen om jou kortliks te probeer antwoord.

      Net 'n paar vrae om oor te dink:

      Wat sou die "kulkunstenaar" kon bereik met sy toertjie? Geldelike gewin was daar nie in nie, want die dissipels was brandarm en bevrees. Ook nie roem nie, want in elk geval lees ons nie weer van so 'n persoon nie.
      Wat van die hemelvaart waarvan die dissipels getuies was, was dit die "kulkunstenaar" wat opgevaar het hemel toe, hoe sou hy dit regkry? 'n Mens wonder ook hoe hierdie skelm verby die Romeinse wagte by die graf gekom het om die klip weg te rol en die lyk te steel? Hierdie kwaadwillige ou sou ook maklik die hele kerk kon vernietig deur dan later bloot net die liggaam van Jesus wat hy sou weggesteek het te voorskyn te bring.

      Gelukkig het ons ook die boek Handelinge. Dit vertel van die buitengewone wonders wat gedoen is in die Naam van Jesus. Dit was 'n bewys vir die dissipels en hulle hoorders dat Jesus waarlik opgestaan het, deur die Gees met hulle was en hulle gebede verhoor het.

      Hierdie teorie is maar een van die baie wat mense probeer uitdink omdat die koningskap van 'n lewende Jesus vir hulle ongemaklik is, omdat hulle lewens veroordeeld staan.

      Ek hoop jy ontmoet die Lewende Jesus!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.