BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 09 Februarie 2012

GOLIAT HET REEDS GEVAL

- dis werklik GOEIE NUUS!

(Maak jou Bybel oop by 1 Samuel 17)

Ons ken die verhaal van die jong skaapwagterseun wat die reus verslaan so goed, dalk het dit al bietjie vaal geword. Ek wil jou verseker en waarborg hier is heerlik verrassende goeie nuus. Ek sê doelbewus “verrassende” nuus, want die meeste mense het nog nooit die werklike goeie nuus hierin raakgesien nie. Vir baie is hierdie verhaal bloot net ̕n vroom voorbeeld van ̕n gelowige wat met God se hulp ̕n groot probleem oorkom het. Nee, dit gaan oor baie meer!

Kom ons bekyk die toneel van die slagveld. Sien die prentjie, voel die spanning, die afwagting! Die linies van die twee leërs op die teenoorstaande rante. Net ’n smal vallei wat hulle skei. Hierdie toestand gaan al vir 40 dae aan. Die vyand het ‘n ongemaklike greep gehad op God se beangste volk.

Dan betree die jong Dawid die verhoog....ons weet wat het toe gebeur...toe verander als! Ek wil net vier aspekte uitlig wat belangrik is vir die verstaan van die boodskap:

 

1) Baie belangrik! Wie is die Dawid, wat skielik hier op die slagveld verskyn? Uit hoofstuk 16 is dit duidelik, Dawid was nie maar net ‘n besonder gelowige skaapwagter nie. (Dis nie wat hom uniek maak nie, daar was sekerlik ook ander skaapwagters wat God geken het.) Dawid was iemand spesiaal. Hoekom? God het Samuel gestuur om een van Isaï se seuns as koning te salf in Saul se plek. Dawid was wel jonk, in almal se oë onbelangrik, maar hy was God keuse. Ons lees : “Die Gees van die Here het kragtig in hom gewerk.” (1 Sam 16:13) God se keuse, God se man, meer nog God se Gesalfde! Dawid was verseker ’n gelowige maar hy was terselfdertyd baie meer as net nog ’n gelowige Israeliet. Dawid is God se Gesalfde en Gestuurde. Gestuur om die hele volk te bevry! Hier is die sleutel vir die verstaan van die verhaal. Bo alle twyfel staan dit vas : Dawid is ’n voorbeeld van Iemand wat groter is as hyself. Die Nuwe Testament herinner ons herhaaldelik : Jesus is die Seun van Dawid, gebore in Betlehem, die stad van Dawid. Jesus is immers die Christus (Gesalfde in Grieks)

2) Waaroor gaan die stryd? Wat is op die spel? (17: 8-10) Dit gaan oor die voortbestaan van God se uitverkore volk in hulle beloofde land! Wen Goliat - word die Israeliete slawe, wen Dawid dan is God se volk vry om in hulle land te woon. Die volk se toekoms en welsyn is hier op ’n mespunt gebalanseer. Net een geveg, maar met verreikende gevolge. Groot ellende of groot blydskap. Vryheid of verslawing! En veral het dit gegaan oor God se eer en God se beloftes. (17:26) Dit gaan nie bloot oor Israel as ’n volk nie - Israel was Gód se volk, Dawid verwys na hulle as die linies van die lewende God! Die stryd gaan dus oor God se belange - dis nie bloot ’n konflik tussen twee etniese groepe nie, dis nie ’n persoonlike relletjie tussen ’n reus en ‘n skaapwagter nie!

3) Wie het die verlossing bewerk? (Vers 45-50.) Ons is geneig om te sê : “Wow, hierdie Dawid kon slingervel gooi! Dis om die punt te mis. Hier is iets groter as Dawid se bedrewenheid met ’n slingervel. Ons moenie fokus op Dawid nie, maar op God wat ’n bomenslike wonder bewerk. Dit was God wat sy gesalfde, Dawid as instrument gebruik het. Die hele oorwinning is ’n Goddelike ingryping ten behoewe van sy volk! God verlos sy volk. En die manier hoe Hy dit doen is so belangrik - nie deur ’n magtige vaardige krygsman nie, maar ‘n veragte jong seun, heeltemal ontoereikend toegerus volgens menslike standaard. Hy moes die smaad en spot van ander verduur. Dawid was heeltemal onwelkom en is beledig ! (Vers 25-28) Klink bekend, nê? Ons het ook mos 'n Verlosser wat onwelkom was en bespot is!

4) Wat was die gevolge? Goliat delf die onderspit! Toe die Filistyne dit sien kies hulle die hasepad. (Vers 51-52) Toe hulle kampioen val, VLUG hulle! Goliat se nederlaag was ‘n beslissende moment (draaipunt.) Goliat se dood het ook ‘n ander gevolg. Dit spoor die Israeliete aan tot aksie. Hulle volg Dawid se oorwinning op, om af te rond en skoon te maak. Merkwaardige verandering! Die einste manskappe was kort tevore nog bang, moedeloos en radeloos. Nou skep hulle moed! Hoekom? Die beslissende slag is geslaan, God het ingegryp, die uitslag is nie meer in die weegskaal nie. Stel jouself die vreugde voor in die stede van Israel toe hierdie goeie nuus hulle bereik. Daar was benoudheid en angs. Nou kom die nuus dat Dawid die reus verslaan het! Daar word gedans en gesing en gejubel. (18:6-7)

Die groot Hervormer Martin Luther het dit so treffend raak gestel :

“Toe Dawid die groot Goliat verslaan het, het die Joodse volk die goeie rapport en bemoedigende nuus gekry dat hulle vreeslike vyand neergeslaan is en dat hulle verlos is en vreugde en vrede gebring is. En hulle het gesing en gedans en was bly daaroor.. So is hierdie evangelie van God in die Nuwe Testament ̕n goeie verhaal en rapport wat in die hele wêreld deur die apostels uitgebasuin is, wat ons vertel van ’n ware Dawid wat gestry het teen sonde dood en die duiwel en hulle oorwin het en so almal verlos het wat gevang was deur sonde, geteister is deur die dood en oorweldig is deur die duiwel."


In hierdie verhaal lê ’n kragtige hoopvolle boodskap opgesluit. Dit raak die sekerheid van ons VRYSPRAAK en die sukses van ons HEILIGMAKING!

Boodskap vir ons vryspraak/regverdiging. Jesus is ons Dawid wat reeds die oorwinning behaal het. Die evangelie is die rapport, die berig van hierdie oorwinning... Die evangelie sê nie jy moet dit of dat doen nie, Nee : DIT IS GEDOEN. ons moet dit glo en in dankbaarheid aanvaar. Sien Jesus, swak en onaansienlik in mense oë ..... Hy oorwin sonde, satan, dood en hel. Hoe so? Hy het ons straf gedra- ja, my eie sondes is reeds gestraf...as ek dit in geloof aanvaar het Satan geen mag meer oor my, die dood het geen verskrikking, en die hel is geen bedreiging meer nie!

Boodskap vir ons heiligmaking m.a.w. ons daaglikse stryd teen sonde. Ons is nie Dawid nie, Jesus is ons Dawid! Ons kan eerder vergelyk word met die volk, die manskappe van Israel. Omdat hulle geweet het die oorwinning is reeds behaal kon hulle met moed teen die oorblywende Filistyne veg. So kan ons daagliks met moed teen die sonde stry, omdat Jesus reeds ons verlossing bewerk het. Ons geveg is teen ’n vyand, wat alhoewel nog gevaarlik is, reeds verslaan is!


God het Dawid gebruik om Goliat te verslaan en die volk te bevry. God het sy Seun Jesus gebruik om die Satan vir eens en vir altyd te oorwin en so ons vryheid bewerk. Ek moet hierdie Goeie Nuus (evangelie) gelowig aanvaar, dan kan ek seker wees van my verlossing en met alle krag stry teen die oorblywende sonde!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.