BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 02 Februarie 2012

AS MY PLANNE MISLUK

Op ’n dag kry Dawid ’n wonderlike idee, ’n blink plan! Lees nou eers hiervan in 1 Kronieke 17:1-12. Hy wil vir die Here ’n tempel bou. Volgens alle aanduidings was dit die regte ding om te doen. Die Here het vir Dawid ryklik geseën sedert Hy hom agter die skape weggevat en koning van Israel gemaak het. Dawid het die vermoë gehad om ’n pragtige tempel te bou. So ’n tempel sou ’n blyk van dankbaarheid wees en ’n pragtige monument tot eer van God. ’n Getuienis vir God onder al die heidennasies. Ook God se profeet Natan was ten gunste van die plan! (Vers 2)

Maar dan kry Dawid ’n onaangename verrassing. God sê NEE vir sy plan. Die Here sê dit nou wel op ’n mooi taktvolle manier, maar dit bly NEE. Dit lyk vir ons as mense onverstaanbaar. Hierdie plan kom tog voort uit Dawid se toewyding aan God, maar God sê NEE! Nou, dit raak ons elkeen, want gebeur dit nie ook maar dikwels met ons nie? Ons wil graag iets spesiaals vir die Here doen en dan val alles plat, ons word teleurgestel en ons wonder wat het nou fout gegaan. Hoekom help die Here my nie om hierdie projek of planne deur te voer nie? Ek het sulke goeie voornemens gehad om vir die Here te gaan werk of om hierdie projek aan te pak, en nou het dit als misluk... Hoekom sê God vir my NEE? Hoe moet ons God se manier van werk verstaan?

In hierdie gedeelte kry ons kosbare insig in God se werkswyse. Waarom sê God, NEE? Was daar fout met Dawid se motiewe en bedoelings? Ons kry geen so ’n aanduiding nie. Ons kry wel ’n rede in 1 Kronieke 22:5-10. (Lees) Dawid het baie bloed vergiet. Dit was egter nie in hierdie konteks ’n sonde nie en die Here veroordeel hom ook nie daarvoor nie. Dawid het mos juis die oorloë van die Here gevoer. (Vgl. 1 Samuel 25:28) Dit was God se taak vir Dawid om Israel van sy vyande te verlos. Dis duidelik : God het vir sy verskillende kinders verskillende take.

Maar weet julle dit gaan in hierdie gedeelte oor iets baie groter as God wat net vir Dawid sê NEE!

Dawid het ’n skitterende idee gehad, maar God het  nog ’n baie beter idee gehad!

Kyk, Dawid het gesê : “Here, ek wil vir U ’n huis bou!” En wat is God se reaksie in effek? God sê : “Dawid ek sal vir JOU ’n huis stig” (OAV - vers 10) Dawid wil iets groots vir die Here doen, maar die Here sê as’t ware : “Wag ’n bietjie Dawid, ek gaan vir jou nog iets groters doen, baie groter as wat jy dink. Ek gaan vir jou ’n ewige koningshuis vestig, ’n onvernietigbare dinastie.” Ons weet dat hierdie belofte betrekking gehad het op Salomo, maar ons weet ook dat hierdie belofte verder strek as Salomo. Dit gaan oor die ewige heerskappy van die Seun van Dawid, Jesus Christus! Dis Hy wat vir ewig sit op die troon van sy voorvader Dawid! Dis die heerlike boodskap van die engel aan Maria toe hy Jesus se geboorte aangekondig het! (Lukas 1:31-33) Dawid as mens (soos ons) het ’n beperkte visie gehad. Hy het gedink aan ’n tempel, ’n gebou... God kyk baie verder vooruit, na die ewige tempel, die onvernietigbare Koninkryk, die heerlike heerskappy en verlossingswerk van Jesus Christus!

Twee uitstaande waarhede dring hulleself aan ons op uit hierdie gedeelte:

~ God se planne is altyd die beste. Ons kan daarom volkome berus by sy besluite. Ons moet geduldig aanvaar dat God vir ons elkeen verskillende gawes en verskillende funksies gegee het. Dawid het ’n ander rol in die geskiedenis van God se volk gespeel as sy seun Salomo. Pasop vir impulsiewe “brainwaves” of mensgemaakte visies. Onderwerp jou aan die feit dat ons tyd nie altyd, God se tyd is nie. Ons planne is nie altyd juis Sy planne nie. Wag vir God se opdragte! Dit was eintlik die groot fout van Dawid. Sy idee was opsigself goed, maar dit was nie ’n opdrag van God nie! Daarom word Dawid bietjie in die bek geruk met God se NEE. En weet julle, Dawid berus blymoedig by God se beslissing. Hy is nie dikbek daaroor nie en hy gaan sit ook nie passief eenkant nie. Hy begin solank om die materiaal vir die bou van die tempel bymekaar te maak sodat Salomo nie moet sukkel nie. (1 Kronieke 22:5) Dawid is nie jaloers dat sy seun Salomo die eer sal kry vir die bou van die tempel nie, hy help hom onselfsugtig! In die Nuwe Testament is dit so duidelik dat God vir elkeen van sy kinders verskillende gawes en verskillende funksies gee. (Romeine 12:3-8) Laat ons net dit wat die Here nou aan ons opdra voluit en blymoedig doen! Laat ons dit doen sommer om jaloers te wees op ander Christene wat ander gawes en ander opdragte van die Here ontvang.

....maar nog belangriker....

 

~ Ons is altyd eers ontvangers en dan doeners. Die klem in die Bybel, die fokuspunt van die evangelie is nie wat ons vir God doen nie, maar wat Hy vir ons gedoen het en nog steeds doen. Dis wat God vir Dawid in hierdie gedeelte probeer verduidelik. (Sien vers 8)

 In God se verhouding met die mens is Hy die Een wat gee en ons is die onverdiende ontvangers!

Ja, as ons ontvang het, sê ons uit dankbaarheid : “Neem my lewe Heer, laat dit U gewy wees meer en meer....” Maar ons bly in die eerste plek ontvangers! Dis ook hoe ons gered word van sonde, dood en hel. Die inhoud van die evangelie boodskap is mos : “Dis klaar gedoen.” Jesus het deur sy kruis en opstanding alreeds die volle boete vir ons sonde betaal, Hyself het reeds die volle straf vir ons sonde op Hom geneem. Glo dit en ontvang sy vergifnis en vryspraak. Ons maak so maklik die fout om te dink dat ons verhouding met God afhanklik is van wat ONS doen! Ons maak die fout om te dink dat ons nader aan God kan kom of dat Hy meer van ons sal hou as ons dit of dat doen! Dis ’n groot fout. Ons moet soos kindertjies die verlossing uit Jesus se hand ontvang! Die ewige lewe is immers ‘n genadegawe (geskenk) van God. (Romeine 6:23) Dis heeltemal verniet, want Jesus het daarvoor betaal.

Ek kan nie ’n Christen wees, voordat ek nie ’n ontvanger geword het nie! Is jy al ’n ontvanger? Kom...dis verniet! (Openbaring 22:17)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.