BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 10 Februarie 2012

PROFEET ONDER DIE BOS

- God se kind in die DONKER DIEPTES van DEPRESSIE

(Lees gerus eers 1 Konings hoofstuk 19)

Sonder enige twyfel was Elia een van die mees toegwydste en dapperste dienaars van God! Hy is ’n uitstekende voorbeeld van die moed wat ’n Christen moet hê. In die vorige hoofstuk lees ons van sy heldhaftige geloofsoptrede op die berg Karmel... Man alleen het hy met geloofsmoed die heidense duisternis uitgedaag! Op Karmel het hy ’n klinkende openbare oorwinning behaal! God het met vuur geantwoord. ’n Absolute klimaks in sy loopbaan as onverskrokke profeet van die Lewende God! (Vergewis jou weer van die dramatiese gebeure in 1 Konings 18)

Maar nou het daar ’n dramatiese ommeswaai gekom. Elia vlug vir ’n vrou! Dieselfde Elia wat vreesloos teen Agab en die hordes Baälprofete gestaan het, is nou bang vir Isebel! (3) Hier sien ons hoe tipies menslik die sterkste gelowige maar is. Die dapperste geloofsheld kan bang word en in depressie verval.

En kom ons sê dit duidelik reg hier aan die begin :

Kinders van God, ja, opregte ernstige gelowiges kan ook in die diep gat van depressie val!

Elia is absoluut teneergedruk en swartgallig! (4) Die lewe het vir hom sin en kleur verloor. Hy wens om eerder dood te gaan. Kan dit wees? ‘n Man van God wat nie meer kans sien om te lewe nie? Hy is in uiterste depressie. (Deur hier sonder kos in die woestyn in te strompel is hy eintlik besig met ‘n vorm van passiewe selfmoord?) Tipies van ‘n depressiewe swartgallige persoon is sy denke nie meer logies nie. Hy vlug om aan die lewe te bly , maar hy wil graag sterwe!

Wat is die rede vir die tragiese verval in depressie? (Hier moet ons baie versigtig wees om met vinnige antwoorde te kom) Depressie is 'n uiters komplekse saak, want die mens is ‘n komplekse wese met baie fasette. Dit lyk tog vir my dat mens uit hierdie ervaring van Elia iets kan leer oor die oorsake en behandeling van depressie. Kom ons kyk eers na 'n paar faktore wat moontlik 'n rol gespeel het:

OORSAKE

Geestelike oorsake

Dis opmerklik dat Elia ‘n besluit neem sonder om op die Here te wag, sonder ’n duidelike opdrag van die Here soos in vorige moeilike situasies. (vergelyk 1 Konings17:2,8; 18:1) Hy neem ‘n haastige besluit op eie houtjie. Elia word bang. Hy kyk nie meer met ‘n geloofsoog na die almagtige God nie, hy kyk na die woede van ‘n vrou. (as hy logies sou dink sou hy tog moes besef dat ‘n God wat vuur kon stuur verseker hom sou kon beskerm teen ’n vrou wat bietjie vuur spoeg!) Slegs geloof kan omstandighede oorwin. Hier is sommer ’n Goue Reël - moet nooit ‘n besluit neem as jy in paniek is nie. Pasop vir impulsiewe besluite...

God se getrouste volgelinge ly ook geestelike neerlae. Rede : die grootste gelowige is opsigself nog steeds niks nie. As God ‘n oomblik sy hand van ons wegneem (in ‘n sekere sin) is ek en jy weer heeltemal niks. Dis interessant dat die grootste heiliges juis val ten opsigte van hulle sterk punte : Abram die vader van die gelowiges, se geloof laat hom in die steek! (Hy lieg oor sy vrou, neem Hagar vir vrou ens.) Moses die sagmoedigste man, verloor sy humeur en slaan die rots. Petrus die vurige, is bang vir ‘n diensmeisie. Enige een van ons kan in enige sonde val!

WEES VERSIGTIG! Depressie kan dus maklik vat kry op ons, as ons onversigtig of laks raak in ons daaglikse wandel met die Here. Dit skep die ruimte vir die Satan om ’n slag te slaan en ons om te stamp. Waak en bid gedurig!

Sielkundige oorsake.

Behalwe die geestelike oorsaak moet ons die sielkundige faktor in Elia se ineenstorting nie miskyk nie. Die geweldige spanning en intense stryd op Karmel het sy tol geëis. Na ‘n groot spannende hoogtepunt is ons uiters kwesbaar. Dikwels as ons op die kruin is, is ‘n neerlaag net om die draai. Juis na groot hoogtepunte in ons lewe, moet ons baie versigtig wees. Sommige mense se persoonlikheid maak hulle meer vatbaar vir depressie as ander. Dis duidelik uit Elia se geskiedenis dat hy ’n intense, ernstige analitiese tipe mens was. Hy het die situasie van Israel en hulle afvalligheid vir hom ernstig aangetrek. Hy was ’n vurige passievolle mens. Hy het groot hoogtes van dapperheid bereik, maar juis so ’n persoon kan weer in uiterste diepstes van depressie verval as hy voel dat hy misluk het. Hy het waarskynlik ’n mislukking gevoel, want ten spyte van die oorwinning op Karmel, was daar geen tekens van ware bekering by Agab en Israel nie. Die heidense Isebel het nog steeds die septer geswaai.

KEN JOUSELF! As jy ’n sensitiewe analitiese tipe persoon is, moet jy vooraf besef dat jy kwesbaar is. Ek moet my dus self gedurig staal teen invloede uit my omgewing en omstandighede wat my depressief kan maak. Dit doen ek deur positief te konsentreer op die waarhede van die Woord en nie my gevoelens die botoon te laat voer nie.

Fisiese oorsake.

Elia was waarskynlik fisies moeg en emosioneel uitgeput. Ja, God het hom buitengewone krag gegee, maar hy is nog steeds ‘n mens. Die intense stryd op Karmel het sy tol geëis...As ons fisies en emosioneel uitgemergel is word ons uitsoek teikens vir die duiwel. Dink maar aan die versoeking van Jesus. Toe Hy honger en moeg was, kom die Satan met die versoeking na Hom om brood uit klippe te maak. Ek dink nie mens kan sê dat die Satan altyd direk verantwoordelik is vir depressie in ’n kind van God nie, maar baie beslis sal hy dit uitbuit om ons geestelik aan te val!

In ons dag word daar baie klem gelê op die fisieke oorsaak van depressie en by name, chemiese wanbalanse of tekorte aan sekere chemiese stowwe in die brein. Die oplossing lyk dan eenvoudig om net hierdie gebreke deur medikasie reg te stel. Inderdaad mag ’n kind van God medisyne gebruik! Ons moet egter net versigtig wees om die volle spektrum van oorsake in ag te neem. Die mens is nie ’n enkelvoudige wese nie. Ons is nie net liggaam of net gees nie, maar albei. Alle oorsake van depressie moet ondersoek en aangespreek word. En ook waar daar duidelike chemiese wanbalanse is, blyk die saak nie so eenvoudig te wees nie. Is die wanbalans of veranderings in die brein, inderdaad die oorsaak of dalk eerder die gevolg van depressie?

Dr Louis Kroon, ‘n Christen psigiater sê : “Medikasie is dan ook nie die finale antwoord nie. Sonder dat daar ‘n hartsverandering plaasvind, gaan die medikasie net die simptome verlig, maar nie die onderliggende probleme regstel nie.”

WEES BEDAG! Ons is mense met liggame. Liggame wat kwesbaar is vir siekte en swakheid. Ons fisieke gesondheid is belangrik. Die regte kos, genoeg slaap, oefening en rus is belangrik. As ons nie hieraan aandag gee nie, sal dit negatiewe gevolge hê ook vir ons emosionele en geestelike lewe. Maar pasop om depressie net vanselfsprekend te sien as ’n toestand wat met pille reggedokter kan word. Wees versigtig en realisties oor die gebruik van medikasie.

Demoniese oorsake.

Ter wille van volledigheid moet dit genoem word. Ons moenie veralgemeen of die duiwel agter elke bos gaan soek nie, maar dat Satan en sy demone ’n direkte hand in depressie sou kon hê, is beslis. Dit kan wees as gevolg van betrokkenheid by die okkulte. Dit kan ook wees in die vorm van ’n direkte Sataniese aanval op die denke en gemoedstoestand van God se kind.

WEERSTAAN DIE BOSE! Trek die volle wapenrusting van God aan. Vertrou op die genoegsaamheid van Jesus. Ken die Woord. Bly weg van sonde en alle twyfelagtige praktyke.

ONTHOU NET! WAT OOK AL DIE OORSAKE ...

GOD VERWERP NIE SY DEPRESSIEWE KINDERS NIE!

Elia is depressief, maar belangrik - Elia is nog steeds ‘n gelowige, kind van God! God skryf nie sy depressiewe dienskneg af nie. Hy verwerp en verwyt nie vir Elia nie, maar lei hom op ‘n pad van herstel. Elia lê op die grond, miskien vanweë sy ongehoorsaamheid. Maar daar is nog steeds ‘n band tussen hom en die Here. Die verdere verloop van sake is ‘n duidelike bewys dat God hom hoegenaamd nie vergeet of verwerp het nie. Elia het sy vreugde verloor, maar nie sy verlossing nie. (Laat dit ‘n troos wees in jou donkerste tyd!) Hoe werk God nou met Elia?

BEHANDELING

Die pad wat God met sy depressiewe dienskneg loop gee ons tog baie insig in die proses hoe ons depressie kan oorwin of ander gelowiges kan bystaan en help om dit te oorwin.

Praktiese ondersteuning. God voorsien eerstens in sy onmiddelike fisiese behoeftes. Hy weet Elia is vlees en bloed, en wat hy nou eerste nodig het is kos. Genoeg kos. Elia moet sommer twee maal eet! God weet ons is stoflik en verganklik. (Psalm 103:13,15) God begin nie dadelik met ‘n preek nie. (Hy werk meer realisties met die mens as wat ons dikwels met ander mense werk) Let op : God sorg nog steeds vir sy kneg ook al is sy geloof op ‘n laagtepunt! Die deurslaggewende faktor bly God se genade en nie ons geloof nie. God gee aan Elia ‘n vooruitsig. Waarskynlik het God hom die opdrag gegee om na Horeb te gaan. Dis die berg van God waar Hy destyds aan Moses verskyn het. (Eksodus 3:1) Dis hier waar Moses sy roeping gekry het. God skep dus by Elia ‘n verwagting en hoop van ’n nuwe ontmoeting en ’n nuwe visie. Die depressiewe persoon moet weet, dis nie die einde van die pad nie. Dis nie die einde van my bruikbaarheid nie.

Oproep tot verantwoording. Elia word liefdevol versorg, maar nie net gepamperlang nie! Simpatie alleen is nie die oplossing nie! God spreek Elia aan. (9) Die boodskap is duidelik en kom daarop neer : “Elia jy hoort nie hier nie!” (Ons moet nooit iemand net as ‘n slagoffer beskou nie!) Dis nie God se wil vir Sy knegte om uitgeskakel te word deur vrees of moedeloosheid nie..” God tree ferm, maar begrypend en liefdevol op. Teregwysing, maar nie vernietiging nie. Elia kry kans om sy hart uit te praat. (Praat oor jou depressie en kry perspektief!) Kyk jou situasie eerlik in die oë, maar moenie weghardloop of agter verskonings begin wegkruip nie. Ons verloor nooit ons verantwoordbaarheid nie. Ek mag nie agter my depressie skuil om byvoorbeeld nie meer my huislike pligte as vrou of my beroepsverpligtinge as man na te kom nie. Ek mag nooit my depressie gebruik as verskoning vir sonde doen nie.

Bemoediging deur ‘n openbaring van God self. God werk met sy kind nie deur dreigemente of deur hom uit skel nie, maar deur 'n nuwe innige ontmoeting. Die oplossing lê daarin dat Elia weer sal besef wie is God! God is groter as al ons depressie en al ons ellendes. Daar word pertinent gemeld dat die Here nie in die wind of die aardbewing of die vuur verskyn het nie. Dit was die gewone vreesaanjaende tekens van Sy teenwoordigheid. (Eks 18:18-19) Kort tevore nog het God Homself ook in vuur op Karmel openbaar. God se metodes is egter nie beperk nie. Hy werk met die swak en moedelose profeet op ‘n sagte manier. Hy praat met Elia deur 'n "fluistering in die windstilte". Hy kom na Elia nie in verskrikking en oordeel nie, maar in genade en verkwikking. (In die evangelie bedeling, verander God harte nie deur geweld nie maar deur die stil, kragtige werk van die Heilige Gees!) Elia raak bewus van die Here se teenwoordigheid. Hy kry dieselfde vraag en hy gee dieselfde antwoord. Elia se antwoord impliseer dat God se saak verlore is en dat sy arbeid gevolglik tevergeefs was. God stel beide hierdie wanopvattings reg. God gee hom ‘n nuwe perspektief! Die swartgallige Elia dink dit is net hy wat nog die Here dien. God sê vir hom daar is nog 7000 getroues! God se saak is dus nie verlore soos Elia dink nie. Deur die verskillende opdragte vir Elia te gee wys die Here dat Hyself nog steeds in beheer van alles is. Hy wat God is stel konings aan (oor Israel en heidennasies), Hy stel ook ‘n opvolger aan vir Elia. Let op : God maak die aanstellings, selfs buite Israel! Sy almag en jurisduksie is geensins beperk nie. God gee Elia ’n kykie in Sy raadsplanne. Elia is moedeloos, God is nie, Elia is raadop, God is nie. As ons Koning ten volle in beheer is, het ons dan rede om te wanhoop bloot deur net na die sigbare te kyk? Nooit nie! Kry ‘n Goddelike perspektief! (Uit die Woord) Begin weer opnuut die stellings en die beloftes van God se Woord glo!

God verander Elia se DENKE!

Baie van ons negatiewe omstandighede sal nooit verbeter of verander nie, maar ons perspektiewe en denke moet verander word om in lyn te kom met God se Woord! (Romeine 12:1-2) Het jou denke oor vergifnis, sukses, die sin van die lewe en God se bestuur van die geskiedenis ’n Bybelse basis, of kry jy jou denke by die wêreld en sy mense?

Elia kry werk.  Passiwiteit gaan nie depressie oplos nie. Nuwe opdragte of doelwitte bring weer visie. Dit bring weer sin in die lewe! Elia word nie afgedank nie. God gee aan hom die heerlike voorreg om deel te hê aan Sy planne en die uitwerking van Sy wil. God self sal besluit wanneer ons werk klaar is en Elia se taak was nog nie klaar nie. Hy kry drie groot opdragte wat verreikende gevolge in die toekoms sou hê, ook as Elia self nie meer op aarde sou wees nie. Elia is direk en indirek betrokke by die uitvoering van God se raadsplanne. Die boodskap vir ons is duidelik : Raak weer betrokke, raak gehoorsaam aan God se opdragte en die take wat Hy nou oor jou pad bring, ongeag jou gevoelens!

God gebruik beide neerlae en oorwinnings in ons lewens om sy doelwitte te bereik. ‘n Laagtepunt in jou geloofslewe beteken nie noodwendig die einde van jou diens nie, maar is dikwels net ‘n platform van waar af jy opnuut gelanseer word! Die nederlaag van depressie is nie ’n doodloopstraat nie!

(Hierdie gedagtes beweer geensins om 'n volledige insig oor die oorsake en behandeling van depressie te wees nie. Dis in hoofsaak 'n bemoediging aan medegelowiges vanuit God se genadige werking met sy depressiewe dienskneg, Elia)

Erkenning : Baie van hierdie gedagtes kom uit AW Pink se boek, ELIJAH. Ek het die boek lank gelede vir die eerste keer gelees toe ek langs die hoofpad tussen Okahandja en Otjiwarongo gesit en wag het vir hulp, onder die indruk dat daar fout met my bakkie was. Daar was toe al die tyd nie fout nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.