BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 05 Februarie 2020

DIE REGTE PERSOON


[Wat sê God oor seksualiteit, huwelik en egskeiding? – ‘n basiese vertrekpunt.] 



Miskien wonder jy : “Het ek met die regte persoon getrou?” Veral nou as dinge nie so lekker gaan nie… Daar is rusie, verwyte, die gevoel van liefde is weg en elke aspek van die huwelik het afgekoel en flou geword... Daar is ‘n knaende stemmetjie: “Het ek die regte keuse gemaak?” 



Dis eintlik ‘n maklike vraag om te antwoord. (Kliek) John Piper sê : “Kyk na die ander naam op jou huweliksertifikaat. Dis die naam van die regte huweliksmaat.” God het jou en daardie persoon saamgevoeg! “Ja, maar hy maak so, sy maak so, ons gevoel vir mekaar is heeltemal weg…” Geen maars nie! God het julle bymekaar gevoeg en jy mag nie teen God gaan en skei nie! Jesus se standpunt is baie helder. “Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie." (Matteus 19:3-9) 

Dis Jesus se duidelike woorde, maar nou het Hollywood en die Huisgenoot ons gebreinspoel deur egskeiding as iets normaal uit te beeld. Dis nou “normaal” - as daar probleme kom om te skei. Maar die Satan het nie daar opgehou nie, nou het Hollywood en die Huisgenoot verder gegaan en ons vertel dis normaal om ongetroud saam te bly. Nog erger! Ons verkrag die huwelik nog voor daar ‘n huwelik is. En nou glo mense eerder vir Hollywood as vir God, maar dit kom hulle duur te staan, want God sê in Hebreërs 13:4 - “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” 

God se oordeel tref diegene wat sy ordes rondom huwelik en seks minag! 

... en ek en jy hoef nie ver te kyk om hierdie oordele raak te sien nie!

Ons weet dat die hele Skrif deur God geïnspireer is, van God af kom, Goddelike gesag dra. (Kliek – SKRIF) Nou is dit juis as dit kom by die kwessies soos huwelik en seksualiteit dat mense die duidelikste wys hoe min hulle van God se Woord dink. Ons stem formeel saam – "Ja, die Bybel is God se Woord," maar as dit by hierdie sake kom dan maak ons soos ons wil. Ons weet beter as God, ons maak ons eie norme en standaarde... en die gevolge is skrikwekkend, verwoestend en fataal! 

Die duiwel fluister so maklik vir ons – hierdie man of vrou waarmee ek getroud is, is nie die regte een nie. Ek voel dan niks meer vir hom of vir haar nie… En dis dan wanneer ons die Skrif minag en skei.

Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse hoekpenne rondom huwelik: 

KWALIFIKASIES 

Interessant die Bybel gee net twee kwalifikasies vir die regte huweliksmaat. Eerstens – (vanselfsprekend) dit moet ‘n persoon wees van die teenoorgestelde geslag. God het man en vrou gemaak en hulle bymekaar gebring. (Sommiges by die Algemene Sinode het dit blykbaar vergeet...) Die tweede kwalifikasie wat in die Nuwe Testament gestel word is dat dit ander persoon ‘n gelowige moet wees. 

Maar as jy reeds getroud (met ‘n ongelowige) is, dan mag die huweliksmaat se ongeloof geen rede wees om daardie persoon te verlaat nie. 

EGSKEIDING MAAK GOD KWAAD 

Kom ons kyk na drie redes waarom egskeiding so ‘n vreeslike vergryp is teen God : 

Egskeiding is opstand teen ‘n Goddelike instelling en handeling. Die huwelik is nie bloot ‘n menslik kulturele verskynsel nie, maar ‘n Goddelike orde. (Genesis 2:24) Wie teen God se ordes in opstand kom sal die gevolge dra, nou en eendag. Ons mag nie God se werk ongedaan probeer maak nie. Volgens Jesus se woorde in Matteus 19 het God jou en jou maat bymekaar gevoeg! 

Egskeiding behels die skending van ‘n Goddelike simbool en boodskap. In die NT is dit baie duidelik dat die huwelik oor meer gaan as net ‘n menslike verbintenis. Dis ‘n prentjie van iets baie groter. Dit beeld iets van die heerlike rykdom uit van die innige verhouding tussen Christus en sy gemeente. “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het." (Efesiërs 5:23-25) 

Egskeiding is ‘n daad wat deur God gehaat word, want dit is geweld en bring die nageslag wat Hom moet eer in die gedrang. Dit het ‘n verwoestende invloed op ons verbondskinders!  (Weerens jy hoef nie ver te gaan soek om dit te sien nie.) Erger. Egskeiding vertroebel en versuur die verhouding tussen ons en God. Ons offers (godsdiens) word vir Hom onaanvaarbaar! Dit is die duidelike boodskap van God volgens die profeet Maleagi: 

“Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, 
en julle vra: "Waarom dan nie?" Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. 
Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. 
Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.”  (Maleagi 2:13-16) 

VERGIFNIS? 

Die groot vraag wat nou by ons opkom is: Is daar vergifnis vir my as ek op hierdie gebied oortree het? 

JA , vergifnis is beskikbaar, want ons het ‘n evangelie! 

Daar was ‘n kruis en ‘n opstanding! Die prys vir alle sonde is betaal, die straf op alle sonde is gedra deur Hom wat Sy lewe vir ons gegee het! 

Drie verdere perspektiewe is egter baie belangrik: 

Is daar vergifnis? Ja, as ons ons sondes bely... “Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9) 

Is daar vergifnis? Ja! Onthou net die gevolge en letsels van hierdie sondes sal vir altyd op aarde by ons bly! Die moontlikheid van vergifnis verminder nie die erns van die oortreding nie. Moet nooit dink egbreek en losbandigheid is ‘n geringe saak nie! Dit het altyd konsekwensies! (Kliek -Dawid

Is daar vergifnis? Ja, maar vergifnis is geen vrypas om met sonde voort te gaan nie! Jesus het die owerspelige vrou vergewe en nie veroordeel nie, maar Hy het gesê : “Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Johannes 8:11)  As jy volhard in hierdie sonde kan daar ‘n dag kom wanneer God se stem stil word en jy nie meer in vergifnis belangstel nie! 

As ons respek het vir God, sal ons respek hê vir die Goddelike instelling van die huwelik. As Jesus regtig my Koning is, sal ek my onderwerp aan sy opdragte ten opsigte van die huwelik!


Die regte een!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.