BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 03 Augustus 2016

Clinton of Trump - Amerikaanse dilemma

- stem jy vir ‘n leuenaar of swendelaar?



Verbysterend! Hoe kon die wêreld se grootste demokrasie en magtigste moondheid in so ‘n penarie beland? Kon daar in die grote Amerika geen beter kandidate gevind word nie? ‘n Morele dilemma van tussen die duiwel en die diep blou see. In die Amerikaanse presidentsverkiesing in November gaan kiesers moet besluit tussen Hillary Clinton (wat openlik gelieg het oor haar geklassifiseerde e-posse) en Donald Trump (‘n onbeskofte grootbek swendelaar) 


Uit ‘n Christelike oogpunt is die ontstellendste aspek dat Donald Trump deur baie sogenaamde evangeliese Christene gesteun word. So het Liberty University se president Jerry Falwell Jr vir Trump opgehemel as “one of the greatest visionaries of our time” en ‘n wonderlike Christen broeder “who reminds me of my dad.” Hoe moet dit verklaar word? En wat sê dit van die integriteit en teologie van die Amerikaanse evangeliese Christendom? Wat gaan die gevolge wees?

Die evangeliese Christene vorm ‘n belangrike kiesersblok binne die Republikeinse party in Amerika. Trump wat ‘n meester is in flikflooiery, manteldraaiery em manipulasie het baie van hulle maklik aan die hoek gekry. Trump self is egter op geen manier naastenby ‘n evangeliese Christen nie. Om die waarheid te sê, hy is nie eers ‘n gereelde nominale kerkganger nie. Daar is slegs ‘n baie dun lagie Christelike vernis om sy verwronge siel. Michael Horton ‘n gesaghebbende Gereformeerde teoloog vir wie ek baie respek het, sê die volgende oor Trump se kerklike verbintenis : “Let me suggest that the slender thread connecting Trump to the church is his occasional holiday appearances at Marble Collegiate Church, made famous by its pastor for 52 years, Norman Vincent Peale. Blending pop-psychology and spirituality, Peale’s The Power of Positive Thinking (1952) remained on The New York Times bestsellers list for 186 weeks. Nicknamed “God’s Salesman,” Peale was criticized for trivializing Christianity. Reinhold Niebuhr said that he “corrupts the gospel,” and that he helps people “feel good, while they are evading the real issues of life.”

Daar het jy dit! Daarom is dit ook nie snaaks nie dat een van die hedendaagse verkondigers van ‘n goedkoop goedvoel valse evangelie, Joel Osteen vir Trump “a friend of our ministry” en “a good man.” noem. Tipies Trump het hy weer getweet : “Being associated with Joel is my great honor—he’s a fantastic man!”

Een rede waarom baie “evangelicals” waarskynlik maar hulle ore toedruk en vir Trump aanhang is die toenemende gevoel dat konserwatiewes besig is om die sogenaamde “kulturele oorlog” in Amerika te verloor. Dit het onteenseglik duidelik geword met die Hoogeregshofbesluit ten gunste van gay huwelike. Nou is baie mense op soek na ‘n sterk persoon wat leiding kan neem en hulle dink (verkeerdelik) dat Trump met sy groot mond so ‘n persoon is. Trump self is hoegenaamd nie bekend vir konserwatiewe morele waardes nie! Die werklike rede waarom die evangeliese groep so maklik mislei word is die hartseer feit dat die evangelie boodskap nou al vir jare lank vervlak word tot ‘n soort van ‘n gebruikers Christenskap. Dit leer : Jesus moet my help om ryk, mooi, gesond en suksesvol te wees! Daarom kry jy iets soos skoonheidskoninginne wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is! Hierdie valse evangelie het die massas so verblind, dat selfs toe Trump verklaar het dat hy nog nooit nodig gehad het om God om vergifnis te vra nie, baie van die sogenaamde “evangelicals” nog steeds nie lont geruik het nie! Dit terwyl vergifnis die kernwaarheid in die Bybelse boodskap van verlossing is.

Dit lyk nie op hierdie stadium of Trump meer ‘n kans het om die presidentsverkiesing te wen nie. Hy het doodeenvoudig net te ver gegaan in sy bitsige beledigings en wilde bewerings. Daar is al hoe meer vrae rondom basiese bevoegdheid en geskiktheid vir 'n posisie wat soveel verantwoordelikheid vereis... Soveel so dat leidende Republikeine aangekondig het dat hulle eerder vir die ongewilde Hillary gaan stem. Die grootste tragedie gaan egter nie wees dat Trump die presidentskap op ‘n skinkbord aan die liberale Clinton gaan besorg nie. Die hartseerste gevolg van hierdie blinde ondersteuning vir Trump gaan wees dat die wêreld vir jare nog die “evangelicals” met Trump en sy bende gaan assosieer. Dit is ‘n groot skade en klad op die Naam van ons Here Jesus Christus. Hoe meer Christene hulle dus nou reeds duidelik van Trump distansieer hoe beter... Meer nog, laat ons sonder vrees getuig van die ware evangelie van Jesus, die krag van God waardeur sondaars gered en vernuwe word!

En die verkiesing? Gelukkig hoef en wil ek nie in die VSA stem nie... Hierdie moreel korrupte nasie sal die president kry wat hulle verdien...

4 opmerkings:

  1. Dankie, Johannes, vir hierdie goeie evaluaering van Donald Trump. Ek is baie onsteld oor die steun wat hy van evangeliese Christen leiers kry. Selfs 'n teoloog soos Wayne Grudem het 'n lang artikel geskryf oor hoe dit 'n moreel goeie keuse sou wees om vir hom te stem (http://townhall.com/columnists/waynegrudem/2016/07/28/why-voting-for-donald-trump-is-a-morally-good-choice-n2199564). Wat het geword van die Bybelse klem op karakter? Dink hierdie Christene dat Trump - met sy onvoorspelbare, sedelose karakter - werklik die koninkryk in Amerika gaan bevorder? Dit lyk al hoe meer asof konserwatiewe Christene in Amerika die boodskap van die Bybel vereenselwig met hulle politiese waardes en identiteit. Soos jy tereg skryf, die ergste gevolg van hierdie debakel gaan wees dat nie-Christene evangleiese Christenskap oor dieselfde kam as Trump gaan skeer.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Bruce. Eintlik is dit Horton se insigte, ek vereenselwig my maar net daarmee! En terloops baie dankie vir jou uitstekende Afrikaans!

      Vee uit
  2. Die artikel wys regtig baie goed uit hoe korrup Trump is. Wat ek vreemd vind is dat jy nie die teenparty, Clinton uitlig nie.
    Om te kies tussen die twee is soos om te kies tussen blomkool en brokkoli. Net die kaassous bo-oor verberg hoe dit werklik lyk en verbeter dalk die smaak. Die stem vir of teen Trump is die spreekwoordelike "lesser evil", meer of minder moet elkeen vir hom of haarself uitmaak. Jou en Bruce se uitwyssing van die "evangelicals" wat hom ondersteun, bevestig net die krisis in die VSA. Wanneer dié tipe mense Trump kies, spreek dit meer oor Clinton se karakter as enige iets anders. Ek dink wat Grundem van Trump sê bevestig dit. In die skakel, aangeheg, is daar nog paar name wat julle op die kruislys kan byvoeg. http://www.christiantoday.com/article/whos.backing.trump.and.whos.for.clinton.the.battle.for.evangelical.endorsements/91632.htm Ek vind jou laaste sin in die artikel bietjie onvanpas en soort van komies ironies(as mens so iets kry), vir iemand wat in Suider Afrika bly. Tensy jy natuurlik nie stem vir enige kandidaat in ons huidige politieke sisteem nie. Die morele verval van die VSA is 'n splinter in vergelyking met die balk, plaaslik. Ek sal regtig 'n soortgelyke artikel oor SA se politici wil sien en watter plaaslike teoloë die hoofpartye ANC en DA ondersteun. Ek sal sover gaan as om te sê dat, indien jy vir een van dié partye gestem het in die afgelope vekiesing, die kaassous jou ook geflous het. Die vraag wat ek aan julle wil vra is: Moet Christene dan nie stem nie, of moet hulle vir 'n klein party met meer beginsels hul stem gee? Dit is tog ooglopend dat die hoofstroom partye beginsels oorboord moet gooi om stemme te werf.
    Ek troos my daaraan dat God Soewerein in beheer is soos bekryf in: WIE het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ’n span die maat geneem, en in ’n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ’n weegtoestel en die heuwels met ’n weegskaal? Wie het die Gees van die Here bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ’n stoffie! En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? Die ambagsman giet ’n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. Wie te arm is vir so ’n offergawe, kies ’n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ’n kunsvaardige ambagsman om ’n beeld op te rig wat nie wankel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ’n dun doek en sprei dit uit soos ’n tent om in te woon. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ’n stoppel. By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.
    JESAJA 40:12‭-‬26 AFR53
    http://bible.com/5/isa.40.12-26.AFR53

    My twee sent uit die Vrystaat.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir jou sinvolle bydrae daar uit die wonderlike Vrystaat! (ekself het darem ook vir 'n tyd op Koppies gewoon)
      Die hele punt van die skrywe was nie om die boosheid van Clinton (en is sy boos!) met die van Trump te vergelyk nie. (Wees gerus, ek sal nooit ooit iemand soos Clinton ondersteun nie)) Dit gaan eintlik daaroor om die skokkende vervlakking en onkunde van die sogenaamde evangelicals uit te wys! Dit gaan soseer ook nie vir my vir wie mens sou stem nie, maar dit gaan oor die swak getuienis wat evangelicals lewer deur die swendelaar Trump in die openbaar op te hemel... Die beeld van die evangelie word daardeur in die openbare oog onberekenbare skade berokken. Ek het na Grudem se artikel gekyk en ek verstaan sy punt, vir hom gaan dit oor die blywende skade wat Clinton aan die Amerikaanse samelewing en opset gaan doen (en ek dink hy is reg), vir my gaan dit hier eerder oor die skade wat "evangelicals" aan die getuienis van Jesus aanrig!
      Oor die kwessie van wie mens moet stem en of mens hoegenaamd moet stem... wel, daar is nie so 'n eenvoudige antwoord nie... Daarom die begrip "dilemma" soos in die opskrif.
      Gelukkig stem ek met jou 100% saam oor God se soewereiniteit - Hy sal self ook die Amerikaanse chaos tot sy eer gebruik. Intussen bly dit wel ons plig om vir die waarheid te getuig!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.