BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 06 Mei 2022

MAAK DIE SONDESOM

 - DINK LOGIES! WAT HET DIE SONDE JULLE IN DIE SAK GEBRING?  HOU TOG OP DAARMEE!

Ons het nou al gekyk na die bevrydende boodskap van volledige vergifnis vir elke sondaar wat berou het, dit bely en sy vertroue op Jesus stel.  (As jy daarna wil luister kliek op GELUKKIG!) Heerlik! Maar dit bring mens onwillekeurig by ‘n belangrike vraag: 

“Mag ‘n Christen maar aanhou sondig, want God se genade het mos als vergewe?”  

Paulus hanteer hierdie vraag in Romeine 6 vers 1.


Paulus se kort en kragtige antwoord is : “Beslis nie!” Maar dan gaan hy aan en gee verskeie redes waarom dit ondenkbaar vir elke Christen sou wees om so te redeneer (dat ek maar kan aanhou sondig omdat die genade groot is). Een rede is dat ons as kinders van God saam met Christus gesterf en opgestaan het... in Jesus het ons 'n nuwe identiteit! Sonde pas net nie meer by ons nuwe status en realiteit nie... DOOP herinner ons hieraan...

In die Romeine 6:15-23 raak Paulus aan ‘n ander redenasie wat mense aanvoer om aan te hou sondig (en mens hoor hierdie redenasie vandag nog) – Dit loop soos volg : “Ag, ons leef gelukkig nie meer onder die wet nie, maar onder die genade! Steel, leuens, saambly en egbreuk is nie meer so erg nie, want ons staan mos nie meer onder die wet van Moses nie!”

Inderdaad is dit so. Ons staan as Christene van die Nuwe Verbond nie meer onder die Mosaïese wetgewing nie. Hieroor is Paulus baie duidelik : “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” (Rom 7:6) Maar weereens beteken dit dat ons nou maar sonde kan doen?

Wat is Paulus se antwoord, sy teen argument hierop? Kortliks twee dinge:

Onthou julle wat Christene is, was voorheen slawe van die sonde. Hierdie sonde was julle baas, julle kon nie daarmee ophou nie, julle was slawe. Ja, ons moet weet, die sondaar lyk baie gelukkig, natuurlik geniet hy dit, maar hy is ‘n magtelose slaaf. Jy dink jy doen sonde soos jy wil en lekkerkry, dis die teenoorgestelde – sonde is jou baas. Wrede baas! Jy kan nie  daarmee stop nie! Die sonde lei tot allerlei ellende, jy sien waarheen dit gaan. Jy sien die verwoesting en pyn wat dit veroorsaak,  jy weet diep in jou binneste lei dit na die hel, maar jy is magteloos om anders te leef. So Paulus se argument teenoor Christene wat weer wil sondig is kom neer op : Is julle nou mal? 

Wil julle weer teruggaan na die ou wrede baas (sonde)?

Elke deel van julle liggame was in diens van die wrede baas van sonde, julle was glad nie in God se diens nie. Nou is julle vrygespreek, begenadigdes, julle is mos nou dankbaar in God se diens. Julle is nou God se slawe. 


 Hoe kan julle so jul rug op God draai en weer na die ou baas toe teruggaan? Dit maak net nie sin nie! Jy sien Paulus gebruik ‘n bepaalde logika om Christene te waarsku en te probeer oorreed om nie weer terug te gaan na die sonde toe nie.




MAAK DIE SOM : WAT WAS DIE GEVOLGE?

Die tweede deel van die argument sluit nou aan by die eerste deel. (21) Paulus wil sê : (Onthou hy praat met bekeerde mense) Dink bietjie terug aan die tyd toe julle onbekeerd was en slawe van die sonde was. Dink aan die dinge wat julle toe gedoen het. Wat was die vrug/gevolge van daardie dinge? Wat het daardie dinge julle in die sak gebring? Watter nut het daardie dinge gehad? Wat het julle gewen deur daardie dinge?



Weereens Paulus sê nie maar net bloot, sonde is sleg nie. Hy maak ‘n appèl op ons logiese denkwyse. Logiese denkwyse is ‘n hulpmiddel in ons keuses, ook in ons stryd teen die sonde. Bekyk ‘n bietjie die saak van sonde naderby. Dink bietjie terug aan die dinge wat jy daardie tyd gedoen het en waaroor jy nou skaam is. (Terloops, ‘n mens wat nie skaam oor sy sonde is nie wys maar net dat jy totaal verlore is en hoegenaamd nog nooit die genade van God aanvaar het nie… As jy nog spog hoe lekker dronk jy was op partytjies en hoeveel meisies jy bed toe gevat het, weet jy is op pad na die hel!) Christene is skaam oor hulle vorige leefstyl. Paulus sê nou ons moet terugdink daaraan en dit logies beredeneer… Wat was die gevolge van daardie sonde? Wat was die gevolge van my goddelose partytjies, my onsedelike leefstyl, my losbandige lewe, my drankmisbruik, my leuens, my opstand teen my ouers… Dink bietjie, onthou bietjie die vrug daarvan… die hartseer, die huweliksverbrokkeling, kinders wat deur die trauma van egskeiding moet gaan, party weet nie eens wie hulle pa’s is nie, die skade aan ander mense se gesondheid, gemoed, eiendom en lewens, die skades en ellendes wat sonde in my eie lewe veroorsaak het… Dink aan die leegheid van sonde, die vrugteloosheid...die vermorsing van kosbare tyd en energie. Verlore kanse... Watter ewige nut het al daardie kortstondige plesier en jollery vir jou gebring? Was dit dinge waarop jy in die oordeelsdag trots op kan wees? En moenie vergeet nie, die uiteinde van daardie leefstyl is die ewige dood! Die poel van vuur, ewig weg van God af! Julle wat nou weer met sonde wil speel, kom nou, dink terug, bereken weer die gevolge… Die einde van die pad van volharding in sonde is die hel, al kry jy die welsprekendste dominee om soetsappige stories op jou begrafnis te vertel!

Paulus kom nou weer terug na God se kinders se huidige posisie. Hy wil sê :“Kom nou kinders van God, moenie dwaas wees nie. Julle is mos vry van die slawerny van sonde, julle dien nou die lewende God. Julle leef mos nou heilig en die einde daarvan is die lewe!” Julle sien sonde en dood gaan saam, heiligheid en lewe gaan saam. Moenie deurmekaar raak nie! Daar is twee duidelike opsies voor ons.

  Twee wyduiteenlopende en teenoorstaande opsies. 

Dit stel Paulus nou in ‘n kragtige klimaks kontras  in vers 23. 


Hy kies sy woorde fyn. Die loon van die sonde is die dood. Die noodwendige betaling, dit wat ek verdien as ek sonde doen is die dood. 







Kyk die doelbewuste kontraste: Die genadegawe (teenoor loon) wat God gee (teenoor sonde) is die lewe (teenoor dood) Kies die pad van genade! 





Kind van God, moenie met sonde begin speel nie! Kies daagliks teen sonde! Die pad van genade staan teenoor die pad van sonde. (genade kan dus nooit as verskoning vir sonde gebruik word nie) Kies die pad van die lewe!

Luister ook op YouTube by VOORDELE VAN SONDE

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.