BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Augustus 2019

MET ONS?

In droogte? In siekte? In geldskaarste? 

Jesus het ‘n duidelike belofte gemaak dat Hy met ons (sy dissipels) sal wees! 

Maar is dit waar en beleef ons dit? 

DROOGTE EN GELDSKAARSTE 

Dis ‘n gegewe. Dis afgryslik en skrikwekkend droog hier by ons in Namibië. Met moedeloosheid moes ons die afgelope somer verlangend kyk na sulke “pensvetwolkies”* wat verbydryf terwyl die groot reënwolke weggebly het! Dit alles teen die agtergrond van ‘n baie diep ekonomiese insinking met baie implikasies...werksgeleenthede gaan verlore, skoolgelde kan nie betaal word nie...Nou kom die vraag by ons op : Waar is Jesus? Wat dink Jesus van die droogte, ekonomie, ellendes...?  Wat is vir Hom in hierdie tyd belangrik? Ons maak mos al meer planne in sulke tye, maar wat is SY PLAN? 

GAAN DAN HEEN 

Die opgestane Jesus se groot laaste opdrag en PLAN aan al sy volgelinge was: “Gaan dan heen en maak soveel geld as moontlik en ek sal by julle wees!” Ekskuus… dis seker nie wat Hy gesê het nie, maar dis wat die meeste van sy volgelinge vandag gehoor het of mee besig is. 

Hier is wat Hy gesê het (vir in geval ons dit dalk gemis het) : 

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matteus 28:18-20) 

Jesus het na sy opstanding weer hier sy dissipels bymekaar geroep om laaste opdragte aan hulle te gee. Die eerlikheid van die evangelieskrywer is opvallend. Selfs hier na die opstanding heers daar tog nog ‘n mate van twyfel in sommige van Jesus se leerlinge se harte. (17) Hierdie twyfel handel nie oor Jesus se lewe en majesteit nie, maar oor die ongelooflike waarheid dat God se Seun vir sondaars gesterf het. Die twee sake wat hier saamgaan : God se Seun saam met ‘n vernederend kruisdood was net te ongelooflik. Nou gebeur iets wonderlik... Terwyl hulle Jesus aanbid word hulle twyfel genees en vergewe, want hulle almal ontvang ‘n bemoediging en ‘n belofte. 

Jesus verwag nie eers volmaaktheid van ons voor Hy ons bemoedig, uitstuur en wil gebruik nie. 

ALLE MAG BEHOORT AAN HOM 

Jesus begin sy dissipels bemoedig met die wonderlike versekering van sy almag. "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." (18) Die almag wat die Vader aan Hom as die Seun gegee het. Jesus het absolute mag. Dis niks nuuts wat Jesus hier sê nie. Sy hele bediening het dit bewys… Sy volkome heerskappy oor die natuur, siekes is genees, besetenes is bevry, dooies is opgewek…. Ook die verskriklike feit van sy eie sterwe het niks daarvan weggevat nie. Sy sterwe was juis ‘n vrywillige nie-gebruikmaking van sy mag om sondaars te red! Ja, spesifiek sy mag om sondaars te red is onbeperk... Daar is soveel voorbeelde... 

GAAN NA AL DIE NASIES 

Wat wel nuut en radikaal is, is Jesus se opdrag en veral die wye omvang daarvan. Vantevore is die dissipels se sending beperk tot Israel. (10:5) Nou word die grense wawyd oopgegooi. Ja voorheen het daar wel soms heidene by die volk Israel aangesluit. (Dink aan uitsonderings soos Ragab en Rut) Maar nou is die opdrag nie om van heidene Jode te maak nie, maar direk hulle dissipels/leerlinge van Jesus te maak! Die belofte aan Abram dat al die nasies deur hom seën sou ontvang gaan nou in vervulling. Jesus is immers die seun van Abram. (1:1) Hoe merkwaardig – die praktiese uitvoering van God se belofte word in die hande van Jesus se volgelinge gelaat! In my en jou hande! God vertrou ons daarmee! Hier gebeur iets heerlik aangrypend. Hier is die aansluitingspunt tussen die evangeliegeskiedenis en ons eie persoonlike geskiedenis. Hier word ek en jy self deelnemers in die Bybelverhaal, in die ontplooiing van God se verlossingsplan in die wêreld. 

‘n Christen is ‘n leerling van Jesus, met die opdrag om nog ander leerlinge te werf en te begelei! 

MAAK DISIPPELS 

Hoe moet die opdrag uitgevoer word om van mense dissipels/leerlinge van Jesus te maak? Die hoofopdrag is : maak dissipels! Dan word twee deelwoorde gebruik in die Grieks om die “hoe” te verduidelik : dopende en lerende. Die kern van die opdrag is die onderwerping van alle volke aan Jesus. Die deur onderwerping aan Jesus deel mens in die gemeenskap saam met die Vader en die Heilige Gees. (daarom die doop in die Naam van die Drie-enige God) Dis spesifiek Jesus se opdragte wat aan die volke geleer moet word. En dit sluit natuurlik juis weer ook die opdrag in om weer ander dissipels te maak! 

DIE BELOFTE 

Die heerlike versekering en belofte wat saam met die opdrag gaan mag ons nie miskyk nie. Terwyl ons die opdrag uitvoer kan ons weet dat Jesus by ons is, nie soms nie, nie deeltyds nie, maar elke oomblik tot op die einde! Jesus is met ons, ook in die ergste droogte, tydens die ergste geldelike krisis of siekte... wanneer ons besig is met sy opdrag! Hierdie term “met julle” (OAV) is in die konteks van die Matteus evangelie ‘n gelaaide term met ryke betekenis. Reeds in Matteus 1:23** word Jesus se koms in verband gebring met Immanuel (God met ons), hier aan die einde van die Matteus evangelie word die volle betekenis van Immanuel duidelik. God met ons, God met al die nasies van die aarde. Immanuel vir alle volke! Dis Jesus se groot missie. Dis die missie wat op ons skouers rus. Maar dis ook die heerlike vertroosting. Diegene wat besig is met Jesus se opdragte hoef niks en niemand te vrees nie. Ook nie droogte nie! Ook nie ekonomiese wurgtye nie! 

Wie met Jesus se opdragte besig is kan reken op Jesus se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Dis 'n feit - die geskiedenis en praktyk staaf dit!

Is dit dalk die rede hoekom Jesus se volgelinge tans so dikwels sy besondere saamwees en teenwoordigheid mis? Ons is besig met ons eie selfsugtige agendas. Platweg gestel – ons is ongehoorsaam aan ons Verlosser-Koning se duidelike opdragte! 

ONS DURF NIE JESUS SE BELOFTE LOSMAAK VAN SY OPDRAG NIE! 

Die groot vraag is of ek en jy hierdie opdrag ernstig opneem? Hierdie opdrag kom na alle Christene... ook juis na ons Afrikaner Christene hier in Afrika waar ons ‘n roeping het. Daar is mos sommiges wat redeneer dat hulle stoere Afrikaners is en teen sending moet wees... (byvoorbeeld die mense van die sogenaamde Israelvisie) Dis natuurlik ‘n groot misverstand. Die geskiedenis is baie duidelik oor Christen Afrikaners se sendingywer van die verlede... 

Kliek op : 







Dit gaan egter nie hier oor Afrikanerskap nie, maar oor die wese van Christenskap. Wie nie met Jesus se opdragte besig is nie, moet eerlik selfondersoek doen : Is ek self al ‘n dissipel of hoop ek maar ek is een? Nou hoor mens onmiddelik allerlei besware. Ja, maar ons is nie almal predikante nie. Moet ons nou almal ons werk bedank of besighede toemaak? Nee, natuurlik nie. Die opdrag is nie, maak jou besigheid toe of los jou boerdery nie, die opdrag is maak dissipels. Die vraag is wel of jy in jou besigheid en boerdery besig is om dissipels te maak? Het jy al met mense by jou werk of skool oor Jesus gesels? Jy sê, maar ek kan nie goed praat nie! Los asseblief daardie verskoning. Jy het al met almal iewers gepraat oor die weer, oor ‘n vorige Saterdag se rugby, oor die slegte ekonomie of oor jou kinders se prestasies… Jy kon daaroor praat omdat dit jou persoonlik raak. As jy Jesus ken, kan jy oor Jesus praat. Is die probleem nie “ek kan nie praat nie”, maar eerder : “ek is onseker of ek Jesus regtig ken”, nie? “Ja,ek ken Jesus,maar my geloof is baie swak.” Dis ook geen verskoning nie. Ons het gesien die dissipels se geloof was ook maar swak toe hulle die opdrag gekry het. Jesus vra nie sterk geloof nie, maar gehoorsaamheid! 

Jesus se prioriteit vir sy volgelinge is duidelik. “Gaan maak dissipels!” Ek wonder maar net, as dit ook nie ons prioriteit is nie, is dit nie dalk bietjie arrogant of vermetel om aanmekaar vir reën of finansiële uitkoms te bid nie? Is ons nie dalk soos ongehoorsame en rebelse kinders wat weier om basiese opdragte te uit te voer nie, maar ons kerm gedurig oor meer sakgeld of lekkers? 

Kom ons vra onsself opnuut – Is ek besig met sy opdrag? 

*Sulke uitgespreide vlieswolkies wat net soos ‘n skaap se pensvet lyk. 

**“Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Matteus 1:23) 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.