BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 11 Januarie 2019

DEUR MOEILIKHEID

MET BLYDSKAP OP PAD NA 

VOLMAAKTHEID



Ons is nog nie klaar met die temas van voorspoed en seën nie. Ons het reeds twee belangrike dinge geleer oor geseëndheid : Elkeen IN Christus is ‘n geseënde. Die seën wat ons in Hom ontvang het is geestelike seëninge. (vergifnis, kindskap, die grootste seëning is dat die Heilige Gees in ons woon en ons ewige erfenis waarborg) Luister net weer na Efesiërs 1:3. * 

PROBLEEMVRYE LEWE?

Maar tog bly daar nou baie vrae in jou hart oor. "Ja, ek weet ek is ‘n geseënde in Christus, ek weet ek is vergewe, ek weet ek kan uitsien na die ewige heerlikheid. Maar wat van nou? Hoe raak my geseëndheid my alledaagse praktiese lewe?" (“Ag, Here ek dien U mos, U moet darem net sorg dat ek nie moeilikheid kry nie.”) Wat kan ons verwag van die lewe as geseëndes? 

Die brief van Jakobus kan ons baie help, dis 'n praktiese boek. Mens kan amper sê, Jakobus is die Spreuke van die Nuwe Testament. Kom ons kyk na Jakobus 1:2-8. Sommer met die intrapslag verstom hy ons…. Dit kom daarop neer : “Ag julleself gelukkig as julle baie moeilikheid kry!” (2) Het ons reg gehoor? Ja, ons het gehoor die seëninge is geestelike seëninge maar ons hoop tog maar op ‘n probleemvrye lewe wat rustig is en waar al ons planne sal uitwerk en alles sal goed gaan. Nou kom Jakobus en sê julle moet bly wees oor moeilikheid! Geseënde van God, jy kan moeilikheid verwag en meer nog, jy moet dit nie net verduur nie, jy moet daaroor bly wees! Regtig? JA! 

STANDVASTIGHEID EN VOLMAAKTHEID

Jakobus maak nie sommer net ‘n stelling in die wind nie, hy gee ‘n duidelike rede hiervoor. “want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (3,4) 

Moeilikheid is die pad na geestelike rypheid. Na volmaaktheid.** 

Maak Jakobus nie dalk ‘n fout nie? Kom ons kyk wat sê een van die ander NT skrywers, Paulus. Romeine 5:3-5

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Selfde storie! Moeilikheid en swaarkry kweek volharding en standvastigheid. Deur moeilikheid kom ons by ons einddoel uit. 

Wat is die volmaaktheid waartoe die volharding deur beproewing en toetse ons bring? Die NAB praat van geestelike rypheid, geestelike volwassenheid. Pasop om volmaaktheid te tegnies te verstaan en dan sommer maklik die verskoning te gebruik dat niemand in elk geval volmaak kan wees nie. 

Wat is dit? Dis ‘n lewe van wysheid. Goddelike wysheid. Wat is wysheid? Jakobus sê vir ons. Jakobus 3:13-18. 

“Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 

Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 

want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 

Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” 

God gebruik moeilikheid om jou ‘n volwasse lewe van wysheid te bring. Hy gáán dit doen. Hy doen dit met elkeen van sy kinders. 

WYSHEID EN GEBED

Hoe gebeur dit prakties? Hoe lei moeilikheid ons na volwassenheid en wysheid? Te midde van die moeilikheid moet ons BID! Moeilikheid, versoekings en beproewings en aanvegtinge dwing ons op ons knieë. “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” (5:13a) Bid vir wysheid. Hier kry ons ‘n heerlike belofte. God gee wysheid aan diegene wat Hom vra. Onthou net weer wat is wysheid – Dis ‘n radikale nuwe lewenshouding. “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” (3:17) 

Hier is net ‘n belangrike voorwaarde vir gebed. Geloof. Wat bedoel hy met geloof? Is dit hierdie spoggerige selfversekerdheid dat ek als sal kry waarvoor ek vra? Nee. Hy kontrasteer geloof met dubbelhartigheid. Die woord wat die NAB met "altyd aan die twyfel" vertaal is dubbelhartigdiyucoV, (letterlik dubbelsiel) Hoe lyk ‘n dubbelhartige persoon? "Ek sal die Here probeer en maar kyk of dit werk, ek sal godsdiens probeer maar as dit nie vir my die regte resultate lewe nie, dan los ek dit." Dubbelhartigheid is om al my opsies oop te hou. Ware geloof sê : "Here, ek vertrou op U al moet ek ook vergaan!" Die dubbelhartige persoon probeer orals inpas. Op twee stoele sit. Tussen die kerkmense praat ek asof ek die Here ken en ek gebruik die regte woorde… Tussen die wêreldlinge dan gebruik ek weer ‘n ander woordeskat… Dubbelhartigheid is die grootste enkele rede waarom mens nie geestelike vordering maak nie! 

Vir dubbelhartiges het Jakobus net een raad. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (4:8-10) *** 

Voorspoed en seën vir ‘n kind van God beteken nie ‘n probleemlose lewe nie, dis vol toetse en beproewings. Dis God se opvoeding om my geestelik volwasse te maak sodat ek met wysheid kan leef in hierdie wêreld. Hierdie wysheid kry ek as ek biddend God daarvoor vertrou met ‘n onverdeelde hart! 

Gaan lees Jakobus ‘n slag biddend deur. Hierdie eerste paragraaf is die inleiding en hy werk die temas wat hy hier aanraak verder in detail uit. Temas soos beproewings, wysheid, geloof, gebed en volharding. 

Kom ons sê dit weer :

Moeilikheid is deel van ‘n kind van God se lewe. Moeilikheid moet ons nie moedeloos maak nie. Dit moet ons bly maak, want dis God se pad vir ons na geestelike rypheid! Dis ‘n pad wat ons gelowig biddend moet stap! 



*Vir die bespreking van Efesiërs 1:3-14, kliek op GESEËNDES 

**Grieks - teleioV

*** “huigelaars” in die NAB is die vertaling van diyucoi ("dubbelhartiges" - OAV)

Hugenote monument, Franschoek.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.