BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag, 30 Augustus 2014

WATTER KERK?

- waar moet ek my verantwoordelikheid in die liggaam van Christus nakom?






Met ons onlangse vinnige kuiertjie op die skilderagtige kusdorpie Lüderitz het hierdie drie kerkgeboue by een kruising my nogal opgeval: 






Roomse kerk, Lüderitz.










Charismatiese "sentrum", Lüderitz. (die woord "kerk" klink seker te outyds!)






NG Kerk, Lüderitz.








Juis omdat hierdie drie aanbiddingsplekke die drie hoofstrome in die kerklike wêreld verteenwoordig was dit nogal opmerklik. Wat bedoel ek met hoofstrome? Basies is daar drie uiteenlopende benaderings ten opsigte van normatiewe gesag. Normatiewe gesag gaan oor die vraag wat ons basis en norm is vir leer en lewe. Wat is die gesag wat bepaal wat ons glo en hoe ons lewe? Beide is immers van groot belang, soos Paulus vir Timoteus herinner : “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” (1 Timoteus 4:16)

Die drie hoofbeskouings* oor die bron en standaard van gesag is eenvoudig gestel :

Die Woord plus kerklike tradisie. Dit is breedweg gesien die Rooms Katolieke posisie. Hulle erken die Skrif as bron van gesag, maar daarmee saam ook kerklike tradisies wat oorgelewer is. Daarom onderskryf hulle leerstellings wat geensins vanuit die Bybel gefundeer kan word nie soos die sogenaamde onbevlekte ontvangenis en hemelvaart van Maria.

Die Woord plus subjektiewe ervarings. Breedweg (en in verskillende grade) word hierdie benadering geassosieer met die Pinkster en Charismatiese groeperings. Die Bybel word as bron van openbaring erken, maar in praktyk word baie leerstellings en gebruike gebou op ervarings soos visioene, drome, "besoeke aan die hemel" en profesieë. Hierdie subjektiewe fondasie skemer ook sterk deur in geykte frases soos : “Die Here het vir my gesê.” Bybeltekste word wel kwistig aangehaal, maar dikwels op die klank af en buite konteks.

Die Woord alleen. Dis breedweg die Gereformeerde sienswyse en kom van die Reformatoriese wekroep van Sola Scriptura. (die Woord alleen) Hiervolgens is slegs die Bybel, die finale skeidsregter in leerstellige sake (leer) en kerklike en persoonlike praktyk (lewe). Met Woord alleen word nie 'n rasionalistiese benadering bedoel nie. Die Woord is die instrument in die hand van die Heilige Gees. Sonder die verligting van die Gees kan ons nooit die Woord reg verstaan nie.

Jy sal oplet dat ek telkens die woord “breedweg” gebruik het. Dis omdat hierdie indeling wel nuttig is, maar tog ook mank gaan aan oorvereenvoudiging veral as mens na die verwarrende kerklike toneel rondom ons kyk. Hou daarom die volgende in gedagte :

Binne hierdie groepe is daar groot verskeidenheid en ons moet baie versigtig wees om andere oorhaastig te etiketteer (of te oordeel). Dis moontlik dat ‘n kerk met ‘n amptelike gereformeerde belydenis lankal nie meer in die praktyk erns met die Skrif maak nie. Ja, selfs die Heilige Skrif se betroubaarheid en gesag bevraagteken en dus net in naam nog die Bybel as bron van gesag beskou. Aan die ander kant kan lidmate van Roomse of Charismatiese gemeentes dalk baie groter erns maak met die boodskap van die Bybel. ‘n Mens kan lankal nie meer net volgens kerkname gaan om ‘n plaaslike gemeente te beoordeel nie. Veral in groot denominasies soos die NG Kerk word daar ‘n wye verskeidenheid van benaderings geduld en vind mens dus in een kerkgenootskap die volle spektrum van Skrifbeskouings (en verdraaiings). Omdat leertug iets is wat bykans uitgesterf het, beteken dit dat elke plaaslike gemeente maar sy eie benadering volg, wat in hoofsaak deur die dienende leraar van daardie gemeente bepaal word.

Ons moet ook erken dat selfs in gemeentes wat oënskynlik erns maak met die Woord as enigste norm, daar dikwels ‘n onvermoë en onwilligheid is om te buig voor die boodskap en eise van God se Woord. Die liefde vir geld en populariteit en die vrees om vir Jesus te ly, maak so maklik dat ons blind bly vir duidelike waarhede van die Woord! (Dink maar aan die vereiste van die heiligheid van die kerk en sake soos opsig en tug.) Dis inderdaad tyd vir elke gemeente wat die Woord as onfeilbare norm bely om die hand in eie boesem te steek en onsself af te vra of ons nog die Woord gehoorsaam.

Kerke wat duidelik die Roomse tradisie as bron van gesag verwerp, glo self dikwels in praktyk dinge wat nêrens in die Skrif staan nie, maar eerder gebou is op hulle eie “tradisies”. Beide Gereformeerde en Charismatiese kerke maak hulle hieraan skuldig! Dink aan sienings oor verbondsoutomatisme, geestelike oorlogvoering (gebiedsgeeste?), die ken van God se wil deur allerlei "divinasie praktyke"... en baie ander gebruike en "heilige koeie" wat nie eerlike Skrifondersoek kan slaag nie!

Baie Protestantse Christene wat staan by Sola Scriptura het prakties gesproke in skreiende individualistiese hoogmoed verval, waar daar weinig respek en ontsag is vir die kerk van alle eeue. Elke Christen interpreteer die Bybel heeltemal op sy eie en dit lei tot ‘n oneindige versplintering en reëlmatige stigting van nuwe “kerke” – nuwe denominasies, maar ook ‘n wye verskeidenheid van huiskerke, boskerke, selkerke... wat ‘n vrugbare teelaarde geword het vir ‘n menigte dwaalleringe en ‘n gerieflike wegkruipplek vir almal wat weier om onder gesag te staan en tot verantwoordbaarheid geroep te word. Hierdie toedrag van sake is beslis nie wat die reformatore in die oog gehad het toe hulle die Roomse tirannie verwerp en hulle op Sola Scriptura beroep het nie.

WEEREENS : WATTER KERK?

Alles in ag genome – die verwarring en skynheiligheid inkluis, is dit nog steeds van basiese belang dat elke kind van God by ‘n gemeente sal inskakel en homself aan daardie gemeente se gesag onderwerp. Die Nuwe Testament ken nie die hedendaagse tipe “Lone Ranger” Christenskap waarvolgens ek alleen op die perd van my eie ego en vroomheidsgevoel met ‘n Bybel in my “holster” die Wille Weste vir Jesus moet verower nie! Dis nog steeds God se bedoeling en plan dat mense wat gered word tot ‘n gemeente toegevoeg moet word! “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (Handelinge 2:47)

Maar waar moet ek aansluit? Genadiglik is dit God wat Sy kinders by gemeentes byvoeg, maar soos in elke aspek van ons Christelike lewe het ons ‘n besliste verantwoordelikheid. Die basiese vereiste is dat die gemeente by wie ek my skaar die Woord van God as enigste norm vir leer en lewe sal (probeer) handhaaf! So ‘n gemeente sal noodwendig dus ‘n hoë premie plaas op deeglike, omvattende en suiwer Woordverkondiging. Die fokus sal op die prediking wees, prediking in die sin van uitleg en toepassing van die Skrif! (Daar is tans baie motiveringstoesprake wat deurgaan vir prediking, maar eintlik net egoïstiese retoriek of emosionele opsweping is wat vir die skyn aan ‘n Bybelteks buite konteks aangehaak word.) Natuurlik beteken dit nie dat as ‘n gemeente erns met Skrifuitleg en toepassing maak, als outomaties noodwendig reg is nie. Natuurlik moet die Woord gehoorsaam en geleef word.** Maar ten minste is daar darem ‘n basis. Wat ek wil sê is : Moenie oorkrities wees en na ‘n volmaakte gemeente gaan soek nie. Jy gaan nie een kry nie. Ook nie in die Nuwe Testamentiese kerk was daar sulke gemeentes nie. Moenie verval in eindelose “church hopping”*** nie, maar skaar jou by ’n gemeente waar die skape ten minste uit die Woord gevoed word, al is die prediker nie juis die beste spreker nie, al stel baie lidmate se lewens jou teleur... Ten minste kan jy met erns bid dat God sy Woord wat wel verkondig word, sal gebruik om harte en lewens aan te raak... Dis dalk jou vernaamste plig in jou gemeente, om met erns voorbidding te doen, want onthou jy behoort aan die liggaam van Christus nie om in die eerste plek bedien te word nie, maar andere te bedien met die gawes wat God vir jou gegee het...

Mag die Here ons lei deur sy Woord en Gees in hierdie tye van dwaling, chaos en verwarring. (Kliek ook op VASTE FONDASIE)

*Daar is ‘n al hoe meer opvallende groep wat mens sou kon tipeer as die MENS ALLEEN (vir ‘n norm). Dis mense wat geen Goddelike gesag aanvaar nie, die Bybel as ‘n outydse boek vol fabels beskou en die postmodernistiese siening handhaaf dat elkeen maar vir homself moet besluit. Ek is dus my eie bron van waarheid en gesag. Die Nuwe Hervormers en sogenaamde Renaissance gemeentes is goeie voorbeelde hiervan. Ek bespreek hulle egter nie hier nie aangesien hulle totaal buite die Christelike geloof val.

**Natuurlik is ek deeglik bewus van die feit dat die ware kerk ook uitgeken kan word aan die “suiwer bediening van die sakramente” en die toepassing van die “tug”. Hierdie sake is sonder twyfel van fundamentele belang en word skreiend afgeskeep in die kerk oor die algemeen. Die basis van waaruit dit reggestel kan word, bly egter die eerlike verkondiging van die Woord. Dis daar waar die broodnodige reformasie moet begin.

*** Mense wat in hierdie kategorie val en rondspring van een kerk na die ander se eintlike probleem is dikwels hulle eie rebelse onwilligheid om onder gesag te staan ten spyte van hulle aandoenlike verhale oor hoe hulle “seergekry het” in die een of ander kerk.

22 opmerkings:

  1. Dankie Johannes. Dis leersaam en bemoedigend

    AntwoordVee uit
  2. "Die Nuwe Testament ken nie die hedendaagse tipe “Lone Ranger” Christenskap waarvolgens ek alleen op die perd van my eie ego en vroomheidsgevoel met ‘n Bybel in my “holster” die Wille Weste vir Jesus moet verower nie!"

    Opmerking: U stelling is waar; juis omdat die Skrif nerens 'n so 'n karikatuur van Christene voorhou wat vlug van kerke en teoloë wat ongehoorsaamheid aan die Skrif goedkeur of verdra nie.

    Louis Breytenbach

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, beide is 'n tragiese werklikheid. Die Bybelse naam vir sulke "teoloë" is valse profete/leraars.

      Vee uit
  3. Uitstekende artikel Johannes, met goeie en waardevolle praktiese riglyne. Reg in die kol...

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Hein, so lekker om weer 'n slag jou naam te sien. Groete vir al jou mense!

      Vee uit
  4. Baie dankie vir 'n uitstekende en baie toepaslike artikel. Ek dink al klaar aan 'n paar vir wie ek dit wil stuur. Seën met jou werk in Tsumeb.

    AntwoordVee uit
  5. Ek weet van iemand, hy is gereformeerd gedoop as baba maar word in die Pinkster Kerk groot gemaak omdat sy ma bekwaam gemaak is as dienaar van ’n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.
    Later het hy hom laat doop, so hy is 'n wederdoper, hy sê: "Suigling doop is tradisie en nie Bybels nie."
    Vandat hy 'n kind is lees en studeer hy die Bybel, teen die ouderdom van 19jaar het hy nie meer kerk toe gegaan om iemand anders se interpretasie te hoor nie maar eerder om God te aanbid want, sê hy, ons moet die Here se poorte in gaan met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
    Tenspyte daarvan dat hy die Bybel meer soos Luther of Calvin verstaan as soos wat dit gepreek is in sy kindheid gaan hy nie gereeld na gereformeerde kerke toe nie want, sê hy, gebed en aanbiding is nie prioriteite in die Gereformeerde kerk nie, eerder rang en gesag.
    Die Roomse kerk is nie 'n opsie nie omdat hy so beïnvloed is van 'n liedjie uit sy kindheid: "Never more to Rome".
    Hy sê hy's nie 'n loneranger nie, daar is eenvoudig net geen plek vir hom nie. Enige raad?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hierdie persoon blyk my inderdaad 'n "Lone Ranger" te wees, want soos ek aflei gaan hy ook nie na 'n Pinksterkerk nie?
      As sy probleem die verbondsdoop is (en ek wil nie nou daarop ingaan nie) is daar wel Baptiste kerke (wat sterk voel oor die belydenisdoop) maar wat in leer en lewe erns maak met die Skrif alleen begnsel, die sg. Reformed Baptists. In internsionale konteks dink ek sommer aan iemand soos John Piper vir wie ek baie respek het.
      Die groot punt van die artikel is net dit : Dis nie God se bedoeling dat ons as enkelinge moet voortploeter nie, maar dat ons onder gesag in die liggaam van Christus waar Woord en sakrament bedien word ook ons funksie moet vervul. Dis waarom God gawes aan sy kinders gee, nie twv onsself nie, maar sodat ons mekaar moet bdien en versterk. Wie Jesus waarlik liefhet, het Sy liggaam di Kerk van alle eeue lief, al is die kerk in sy aardse gestalte inderdaad nie volmaak nie! Hoop dit help...
      As die vriend biddend erns maak met God se wil, glo ek dat die Here hom na 'n gemeente sal lei, van sy kant af moet hy soek na 'n plek waar eerlike deeglike Skrifuitleg in die prediking aangespreek word!

      Vee uit
    2. Dankie, ek sal vir hom sê. Dalk moet hy maar 'n Engelse kerk soek.

      Vee uit
  6. Dankie Johannes. Goeie artikel. Al wat ek hierby kan byvoeg is die Gereformeerde belydenisskrif - Die Nederlandse geloofsbelydenis se verklaring. Artikel 28.

    Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood - of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. So waar! Dit stel die beginsel onomwonde helder en duidelik.

      Vee uit
  7. Johannes ek voel jy veralgemeen met hierdie uitspaak van jou oor die Pinkster en Charismatiese kerke. Die subjektiewe vondasie waarvan jy praat is nie waar nie. Hulle baseer van hulle uitsprake op grond van die feit dat hulle die Gawes van die Gees beoefen wat tog nie onbybels is nie. Verder is hulle uitgangspunt Sola Scriptura as hulle die Vyf Voudige bediening beoefen nl. 1Co_12:28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. Asook Eph_4:11 En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, dan is daar ook nog die nege Gawes van die Gees 1Kor.12. Dan word Skrif verklaar Skrif baie ernstig opgeneem. 2 Kor. 13:1, Deut 19:15, Matt. 18:16.
    Ek is nie n Loan Ranger nie, maar die Woord praat van die byeenkoms van die gelowiges wat tog n sel, n huiskerk, groep mense wat saam bid kan wees, dit hoef tog nie die Kerk op n Sondag te wees nie. Ek en my gesin is tog n Kerk in die kleine. Ek is die priester in die huis en ek bedien die nagmaal vir my mense. Ons gebruik die nagmaal by ons sel ek gebruik nagmaal by my kerk, ons mannebediening bedien die nagmaal. Mense wat die Here Jesus as persoonlike verlosser aangeneem het is by ons sel deur die selleier van daardie aand gedoop.
    Op die punt van die doop beskou ek die doop nie as n sakrament nie en wel om die volgende redes.


    Wat is ‘n sakrament? vlg Oxford English dictionary: (in the Christian Church) a ceremony regarded as IMPARTING SPIRITUAL GRACE.
    Die Rooms Katolieke kerk het 7 Sakramente waarvan die Doop een is en hul glo jy word gered deur gedoop te word. Die Protestante kerke het net 2, die Doop en Nagmaal en sien dit as simbolies.
    Die definisie van ‘n sakrament sê dat ‘n persoon deur middel van ‘n seremonie ‘n spesiale ‘grace’ ontvang. Wat impliseer dit? Dat jy iets meer ontvang as wanneer jy bid, God loof en prys, bybel lees of as gemeente bymekaar kom om uit Sy Woord te leer? Jy kry iets meer uit die seremonie as wanneer jy byvoorbeeld ‘n seremonie doen in die kerk soos trou of voorgestel word as diaken of predikant?
    Geref. Kerke sê dit is net simbolies –
    MAAR tog sê ds. Aggenbag (ek weet nie of jy hom ken nie?) dat ons as bruid ‘n trouring ontvang van God “[By die doop is God die handelende. Hy gee as’t ware Sy “trouring” aan Sy bruid – welke “trouring” verteenwoordigend is van alle beloftes wat die Bruidegom alreeds gemaak het, sowel as die verhouding tussen Hom en Sy bruid.]”
    EN dr. Chris Saayman sê: “Daarom gee Hy nog Sy handtekening onder die Woord (vgl Gen 15). Daarom laat Hy Sy dienskneg van die kansel afklim en die dopeling op die naam noem en laat Hy Sy Naam aan die dopeling se naam verbind”
    Klink vir my of hul getuig dat ons iets ‘ontvang’ met die doop wat jy nie andersins sou ontvang het nie – so dus, ‘n sakrament.
    Ander Protestante kerke (Baptiste, Pinkster) onderhou ook die Doop en Nagmaal maar noem dit ‘n ‘ordinance’. (an authoritative order ; a decree). Dit is ‘n bevel wat Jesus gegee het vir ons om te doen tot sy nagedagtenis. Ons doen dit uit gehoorsaamheid – nie omdat ons dink dat ons enige spesiale ‘grace’ sal ontvang deur dit te doen nie.
    Dit is ook miskien ‘n punt om oor te dink. Hoe denifeer ons doop – as dit dan net simbolies is, is dit nie ‘n sakrament nie, maar ‘n ordinant. As dit ‘n sakrament is, is die hele debat sinneloos want dan gee die doop tog redding en nie geloof soos almal be-aam het nie.

    Groete
    Boeta


    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, lees asb. mooi, ek waarsku juis teen veralgemenings! Ek skryf : "Binne hierdie groepe is daar groot verskeidenheid en ons moet baie versigtig wees om andere oorhaastig te etiketteer (of te oordeel)."

      Ek veroordeel ook nie huiskerke as sodanig nie, maar waarsku teen oneindige afskilfering en versplintering weens INDIVIDUALISTIESE SKRIFGEBRUIK wat nie die kerk van alle eeue se gebruik van die Bybel verdiskonteer nie.

      Oor die sakramente wil ek nie nou 'n debat aan die gang sit nie. Dis nie waaroor die "post" gaan nie! Lees weer mooi wat ek skryf - ek is juis krities teen enige iets wat nie die toets van die Skrif kan deurstaan nie en noem byv. pertinent verbondsoutomatisme - en daarmee bedoel ek juis 'n foutiewe sakramentsbeskouing waarvolgens sommige mense dink dat die doop jou outomaties red!

      Probeer gerus die fyner nuanses van die skrywe raaklees, broer!
      groetnis
      Johannes

      Vee uit
  8. Dankie dominee. Dis n goeie artikel.
    Arend

    AntwoordVee uit
  9. Dankie vir die artikel, Dominie, ek wonder nogals baie oor die verskillende denominasies en gelowe wat die rondte doen...
    Corien

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Corien, ek hoop die onderliggende beginsels is nou vir jou duideliker.

      Vee uit
  10. Dankie dominee. Jammer dat ek so laat eers comment. Raymond

    AntwoordVee uit
  11. Die roomse kerk is darem n mooi kerk. Hilgard

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. As dit oor die gebou gaan... en eintlik is die Lutherse Felsenkirche nog mooier - sien elders op Blog.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.