BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 07 Junie 2014

DIE HANDELINGE VAN JESUS

- maak ons erns met Jesus se voortgaande teenwoordigheid in en betrokkenheid by sy Kerk?

Handelinge is die een Bybelboek wat nog nie “klaar” geskryf is nie! Ek sit “klaar” geskryf in aanhalingstekens, want natuurlik glo ons die Nuwe Testamentiese kanon is afgesluit – ons mag nie iets by God se Woord byvoeg (of wegvat) nie! Ek bedoel maar net Handelinge gaan oor die verhaal van die kerk en dis ‘n opwindende verhaal wat nog steeds elke dag aangaan. Tot by die wederkoms van Jesus. Dis die verhaal van die verowerings wat die evangelie in die wêreld behaal, soos Josua toe hy destyds die land Kanaän ingeneem het. Maar dis terselfdertyd ook die verhaal van Jesus (as Kaptein van die veroweringstog) wat nog steeds voortgaan...

DIE BELANGRIKSTE FEIT OOR DIE KERK


Waaraan dink jy as jy die oggend op pad is kerk toe? Wie gaan preek, waaroor, wie gaan daar wees, wie nie...? Of waaraan dink jy as jy oor die kerk of ‘n spesifieke gemeente se werksaamhede dink? Piet doen dit, Jan doen dat......hoe lyk die program, wat is op die kalender...? Nou niks van hierdie dinge is verkeerd nie, maar ons is geneig om die belangrikste feit oor die kerk uit die oog te verloor. Wat is dit?
Die feit dat dit Jesus se kerk is en daarmee saam dat Jesus lewend aktief in Sy kerk teenwoordig is. Jesus is aktief teenwoordig in Sy kerk. Natuurlik sal almal met hierdie stelling saamstem. En tog, ons karige gebedslewens, ons afhanklikheid van allerlei kunsmatige tegnieke om mense te lok, ons maniere hoe ons geestelike probleme hanteer, ons gebrekkige verwagtings en entoesiasme, ons kompromieë met sonde... dit alles getuig van ons stilswyende veronderstelling dat Jesus se aksie tot die verre verlede en iewers eendag tot die toekoms behoort, maar nie in die huidige nie. As ons werklik oortuig was dat Jesus hier teenwoordig is, sal ons sê die kerk kan nie groei nie, want die omstandighede is te moeilik, sal ek in sy gesig sê : “Ek weier om vrede te maak met ‘n broer”?  Sal ons beangs vra: “Wat gaan van ons word?” Sal ek halfhartig en onnadenkend sing? Sal ek Sy waarskuwings en opdragte ligtelik opneem? Sal ek waag om ‘n dubbele lewe te lei..?

Lukas* berei ons voor vir die dramatiese gebeure in Handelinge deur sy evangelie op te som en dan van daar af verder te gaan. “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het” (Hand 1:1-2 OAV) Let op “wat Jesus begin doen en leer het” Dit gee nie net ‘n opsomming van wat verby is nie, dit dui in ‘n sekere sin ook op dit wat ons in Lukas se tweede deel van sy werk te wagte kan wees. Asof hy wil sê : "Nou gaan ek die dinge vertel wat Jesus voortgegaan het om te doen en te leer."

As ons mooi lees kom ons agter dat Handelinge eintlik die handelinge van Jesus beskryf. 

Lukas se verhaal is die verhaal van Jesus se woorde en dade in sy kerk. Die eerste groot saak wat Lukas wil hê ons moet raaksien in verband met die kerk: Jesus is steeds teenwoordig en besig om te werk.

Natuurlik, Jesus was nie meer sigbaar teenwoordig nie. Hy het immers na die hemel opgevaar. As ons Handelinge lees word ons egter bewus van Jesus se voortgaande aktiwiteit in Sy kerk. Ons begin raaksien, Jesus is hier in Sy kerk! Aktief betrokke! Dan begin ons iets verstaan van die bonatuurlike karakter van die kerk. Anders as enige ander organisasie of vereniging op aarde het die kerk direk ‘n bonatuurlike Goddelike Hoof!

Kom ons kyk na ‘n paar feite in Handelinge wat duidelik die voortgaande teenwoordigheid en aktiewe betrokkenheid van Jesus in Sy kerk bevestig. Lukas herinner ons aan die begin van sy tweede geskrif dat Jesus self Sy apostels gekies het.(Hand 1:2-3) Hierdie woorde eggo Lukas se weergawe van die aanstelling van die Twaalf (Luk 6:13) Hy gebruik dieselfde woord nl. “uitverkies” Dis opmerklik dat van al vier evangelieskrywers dit slegs Lukas is wat meld dat Jesus Sy apostels gekies het. Sy herhaling van dieselfde woord hier wys dat Lukas klem lê daarop dat Jesus self soewerein die getuies uitverkies het wat moes getuig van Sy opstanding en heerskappy.

Op hierdie stadium soos ons weet was daar net elf van die oorspronklike twaalf oor. Wat nou? Die saak kan nie daar gelaat word nie, die getal twaalf is belangrik, dis nie sommer ‘n lukrake getal nie. Hierdie apostels sou die twaalf hoofde wees van die twaalf stamme van die nuwe Israel, die kerk. (Luk 22:30 NAB – “regeer”) 

Hoe moet Judas vervang word? Wie sou kon kwalifiseer? Wel, aangesien die hooftaak van die apostels was om getuies te wees van Jesus se opstanding (22) sou dit vir ‘n begin die kriteria wees dat so ‘n persoon Jesus moes geken het voor Sy dood en weer na sy dood. Nadat hierdie kriterium toegepas is was daar twee geskikte kandidate : Josef en Mattias.

JESUS KIES

Nou is dit opmerklik dat die apostels nie verder die finale besluit alleen geneem het nie. Hulle bid vir ‘n direkte ingrype van die Here en werp dan die lot.** Die werp van die lot was ‘n ou metode om op ‘n direkte manier God se wil te onderskei sonder die inmenging van menslike rede. (Lev 16:8-10; Num 26:55-56) Lukas impliseer dat hierdie gebed in Handelinge 1:24  tot Jesus gerig is. "En die gelowiges het gebid: "Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies*** het." Baie treffend, hulle gebruik dieselfde woord “uitverkies” as in Hand 1:2. In beide gevalle is dit Jesus wat uitverkies. Die Jesus wat voor Sy sterwe en opstanding die twaalf uitverkies, is dieselfde Jesus wat nou na Sy hemelvaart weer die plaasvervanger apostel “uitverkies”! Alhoewel Jesus in die hemel is, is Hy aktief aan die werk op aarde in Sy kerk! (Interessant ook juis in die Lukas evangelie word Jesus op verskeie plekke beskryf as die een wat harte en gedagtes ken)

Paulus se uitverkiesing openbaar dieselfde aktiwiteit van Jesus. Jesus verskyn self aan Paulus op pad. Jesus sê aan Annanias dat Paulus "my uitverkore" instrument is. Weereens Jesus is aktief. Hy is in die hemel maar Hy gryp ‘n vervolger op die pad na Damaskus en maak van hom ‘n getuie. Paulus die spesiale apostel word dus ook deur direkte ingrype van Jesus uitverkies.

Wel dit is dus duidelik dat Jesus deur direkte openbaring betrokke was by die aanwysing van apostels. Gesien teen die agtergrond dat die apostels en profete die fondasie van die kerk was is dit seker te verstane. 

JESUS REGEER SY KERK, NOU!

OPSOMMEND:

Jesus is Gesalfde koning en Here. (Handelinge 2:36) Almal stem daarmee saam. Maar hoe voel ons daaroor in die praktyk? Ons optrede wys so dikwels dat ons aan Jesus dink as ‘n koning in absentia, of een wat nog wag om die leisels oor te neem. Handelinge wil vir ons sê Jesus regeer Sy kerk en Hy regeer Sy kerk nou. Sy dade en rol wat vir ons uitgespel word in Handelinge is onbetwisbare getuienis daarvan. Hy regeer vandag nog Sy kerk. Hy regeer Sy kerk deur die ampte deur middel van die Woord en die Heilige Gees. Gaan ons daarvan kennis neem, gaan ons ons blymoedig aan Hom onderwerp? Hierdie feit - Jesus regeer Sy kerk het natuurlik praktiese implikasies:

Dis heerlike feit wat ‘n verskil maak aan ons besluite, dade. Die erkenning van Jesus se heerskappy en teenwoordigheid in sy kerk, beteken prakties dat die kies van ampsdraers en trouens alle besluite van die kerk met die grootste afhanklikheid van die Here in gebed en gehoorsaamheid aan Sy uitdruklike wil geneem moet word. Hoe dikwels maak ons planne – oor geldinsameling, uitreike, projekte... sonder om eers in gehoorsaamheid stil te word voor Hom? Ons moet aktief die gawe van onderskeiding beoefen, so erken ons prakties Jesus se heerskappy.

 Ook uit ‘n ander hoek het hierdie feit ‘n implikasie – ‘’n skrikwekkende een! As Jesus sy kerk regeer (want die kerk is Sy kerk) beteken dit dat ‘n “kerk” waarin die heerskappy van Jesus nie ‘n praktiese werklikheid is nie, nie meer kan aanspraak maak op die benaming “kerk” nie. As ons Jesus en sy heerskappy uitgerangeer het op ‘n syspoor is ons nie meer kerk nie, maar bloot ‘n mensbeheerde godsdienstige struktuur. Mag ons daarvan bewaar word! Mag ons ons bekeer in soverre ons alreeds bloot ‘n mensbeheerde en mensgerigte organisasie geword het! AMEN

*Lukas, ‘n geneesheer en op ‘n stadium ‘n reisgenoot van Paulus, was die outeur van ‘n dubbele werk naamlik Lukas-Handelinge.

**MOET ONS NOG STEEDS DIE LOT WERP?

Jesus se betrokkenheid by die verkiesing van die apostels via die lot laat twee vrae by ons. Wys Jesus vandag nog steeds leiers aan vir Sy kerk, of was dit beperk tot die apostels? As die antwoord is dat Hy nog steeds betrokke is by die aanstelling van leiers, beteken dit dat ons nog steeds die lot moet werp of ‘n hemelse gesig moet sien voordat ons seker kan wees dat Hy nog steeds Sy kerk deur die ampte regeer?

Die verkiesing van die sewe diakens gee vir ons groot insig in hierdie vrae. Die diakens is op ‘n heel ander manier gekies as die apostels Mattias en Paulus. Die sewe is nie deur ‘n direkte openbaring, deur die werp van die lot of deur die apostels se besluit gekies nie, maar deur die kerk. Die gelowiges is beveel en uitgenooi om manne te kies. (6:3) Die groot vraag is, kry ons nou hier ‘n verskuiwing van ‘n monargie waar Jesus koning is tot ‘n demokrasie waar die gelowiges besluite neem? Het Jesus nou Sy direkte koningskap en beheer oor die kerk prysgegee? Nee, as ons mooi lees gee Lukas twee aanduidings dat Jesus self betrokke was by die aanstelling van die sewe, al was die onderskeiding en beslissing van die hele gemeente ook ter sake.

Eerstens. Soos in die geval by die kies van die plaasvervanger apostel was daar kriteria ter sprake. In hierdie geval nie ‘n uiterlike kriterium nie, maar ‘n innerlike nl. die werk van God in hulle lewens. Hulle moes vol wees van die Heilige Gees en wysheid. (3) Hierdie kwaliteite het hulle apart geplaas van die res van die kerk. Ja, alle Christene het die Heilige Gees , maar die frase “vol van die Heilige Gees “ dui op ‘n uitstaande geestelike volwassenheid en Goddelike wysheid. Met ander woorde die kerk se keuse was slegs ‘n reaksie op die teenwoordigheid van die Heilige Gees in die manne; erkenning van die werk van God in hulle. Nou weet ons dis Jesus wat die Heilige Gees uitstort. (Hand 2:33) Omdat Jesus die een is wat die Heilige Gees uitdeel en hulle mense moes kies wat vol van die Heilige Gees is, beteken dit in praktyk dat hierdie gelowiges nog steeds in feite Jesus se leiding gevolg het in die keuse van die sewe diakens. Anders gesê : dis Jesus wat die Heilige Gees gee wat die keuse van leiers maak, deur middel van die onderskeidingsvermoë van gelowiges. Jesus is steeds regerend , aktief betrokke by Sy kerk.

Tweedens. ‘n Verdere bewys vir Jesus se betrokkenheid in die aanstelling van die sewe kry ons uit die Ou Testamentiese agtergrond van hierdie gedeelte. Daar is verskeie parallelle tussen hierdie gebeure in Handelinge 6 en die gebeure in Numeri 27:15-23. In Numeri lees ons hoe Moses die Here vra om ‘n opvolger aan te stel. ( LW - die Here moet die aanstelling doen) Die Griekse woord wat in Handelinge 6:3 “kyk dan uit, soek uit” (NAB) vertaal word is dieselfde wat hier vir “aanstel” in die Griekse vertaling van die OT gebruik word. (dis nie dieselfde woord wat vir uitkies in 1:2,25 gebruik is nie) In antwoord op Moses se versoek wys die Here vir Josua aan, en let nou op - ( Num 27:18) “‘n man in wie die Gees is.” (nog ‘n treffende ooreenkoms) In Handelinge is dit die gemeenskap van die heiliges wat die sewe “aanstel”. Die verandering van die Here se keuse na die kerk se keuse beteken nie dat Hy sy troon prysgegee het nie. Hy is nog steeds die koning. Die Here gebruik bloot Sy Gees gedoopte mense om die aanstelling te maak. Soos in die geval van Josua sal die Here nou hierdie nuutaangwysde leiers gebruik om Sy regering na nuwe gebiede te neem. Of dit deur direkte openbaring is of deur die geestelike onderskeiding van sy volgelinge, dis nog steeds Jesus wat aanstellings maak. Wanneer ampsdraers biddend op die regte manier gekies word is dit nie die wil van die mense wat seëvier nie, maar die wil van Jesus wat onderskei word. 

Die werp van die lot word nêrens in die briewe aan bestaande gemeentes in die Nuwe Testament voorgehou as ‘n metode vir die aanstelling van ampsdraers of enige besluitneming nie!

*** Grieks -  eklegomai

Vir die tweede boodskap in hierdie reeks, kliek op MET JULLE


[Taylor Ridgard (regs agter) en sy AEB span wie se getuienis en ondersteuning vir ons die afgelope Pinkstertyd tot groot seën was.]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.