BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 24 April 2012

HANS NIELSEN HAUGE

- ‘n Noorweër wat ons oproep tot ‘n radikale lewe.

Die afgelope tyd is die wêreld weer herinner aan die massamoordenaar van Noorweë, Anders Breivik se gruweldade. Terwyl Breivik altyd onthou sal word vir sy radikale boosheid, is daar ‘n ander Noorweër wat ons gerus kan onthou vir sy radikale toewyding aan God. Hans Nielsen Hauge is deur God aangeraak en uitgestuur as ‘n lekeprediker en het ‘n merkwaardige geestelike sowel as ekonomies-maatskaplike invloed op Noorweë gehad. Die Here het hom kragtig gebruik in ‘n tyd toe die Lutherse staatskerk van Noorweë gebuk gegaan het onder ‘n dooie tradisionalisme.

Hans Hauge is in 1771 gebore as die vyfde van tien kinders en het op die familieplaas grootgeword naby Tune in die distrik Østfold.  Hulle was ‘n godsdienstige gesin, wat elke Sondag kerk toe gegaan het en as hulle nie kon nie, hardop uit Luther se versameling preke gelees het. Hans was self ook lief vir lees.

Op 5 April 1796 het ‘n ontmoeting met God, Hauge se lewe omgekeer. Dit was terwyl hy op die landerye gewerk het. Soos ‘n Elisa is hy agter die ploeg geroep.  Hy beskryf sy bekering as volg:

 “Soms het ek op my knieë neergeval en God almagtig gebid om ter wille van Jesus sy Seun my te vestig op die geestelike Rots, Christus Jesus... Een dag terwyl ek buite gewerk het onder die oop lug, het ek uit my kop uit ‘n lied gesing : “Jesus ek verlang na U geseënde gemeenskap” Op daardie oomblik is my gedagtes so opgehef, dat ek nie bewus was van myself nie en ook  kan ek nie verduidelik wat in my siel plaasgevind het nie. Want ek was buite myself. Onmiddellik toe ek weer tot my sinne kom, is ek gevul met berou dat ek nie hierdie liefdevolle transendente goeie God gedien het nie. Nou het dit vir my gelyk asof niks in hierdie wêreld enigiets werd was nie...”

Hauge het God gevra wat hy moes doen en die antwoord in sy hart was :  “Jy moet my Naam bely voor die mense, roep hulle op tot bekering en om my te soek terwyl Ek gevind kan word en aan te roep terwyl Ek naby is en hulle harte aan te raak dat hulle hulle mag wegkeer van die duisternis tot die lig.”

Vir Hauge het alles inderdaad nuut geword. Hy het ‘n begeerte gehad om die Bybel te lees en nuwe insig ontvang om dit te verstaan. Ook was daar ‘n diep liefde vir God by hom en ‘n begeerte dat andere ook deel sal kry aan hierdie genade wat hy ontvang het. Die eerste persone wat deur die nuutgemaakte Hans beïnvloed  is, was twee van sy eie susters op daardie selfde dag. Dit was die begin van ‘n herlewing wat eers die bure in Tune aangeraak het, daarna die naburige dorpie en uiteindellik ‘n geweldige invloed op Noorweë as geheel.

Hauge was ‘n doelgerigte, vasbeslote en hardwerkende mens. Hy het oor die land heen gereis, meestal te voet en gepreek.  Dikwels word Christenwerkers daarvan beskuldig (miskien soms tereg) dat hulle ver van die werklikheid leef met hulle koppe in die hemel en op ander teer... Wel, niemand sou so ‘n verwyt voor Hauge se kop kon gooi nie. Terwyl hy geloop het, het hy gebrei en dan die handskoene en sokkies weggegee aan armes. Hy het ook ‘n besondere besigheidsvernuf en inisiatief gehad wat daartoe gelei het dat hy verskeie industrieë opgerig het. Sy aktiefste jare was tussen 1800 en 1804. Van Lista in die suide tot Tromsø  in die noorde was hy betrokke by die vestiging van fabrieke, myne, meulens, drukkerye ens..

Hauge was ‘n populêre prediker. Hy het met krag en gesag gepreek in ‘n taal wat die mense kon verstaan. Hy het orals gepreek waar mense bymekaargekom het : huise, kerktrappe, fabrieke... Hy het gepreek oor sonde, die Christelike lewe en hoe om die pad na God te vind. Maar hy het ook nie gehuiwer om te praat oor die Christen se verantwoordelikheid teenoor sy medemens en die gemeenskap waartoe hy behoort het nie. Hauge het ‘n God gegewe liefde vir sy medemens gehad, wat deur mense raakgesien is en gemaak het dat hulle hom vertrou het. 

Hauge het sy boodskap ook nie net deur prediking oorgedra  nie. Gedurende 18 jaar het hy 33 boeke gepubliseer en daar word geskat dat 100 000 Noorweërs een of meer van hulle gelees het  in ‘n tyd toe daar ongeveer 900 000 geletterdes in die land was. 

Verenigings van Vriende (ook genoem Haugiane) is georganiseer soos die herlewing deur die land versprei het. Hulle het by huise bymekaargekom en tyd in gebed en lering spandeer. Hierdie mense het mekaar nie net geestelik nie, maar ook prakties bygestaan. (soos om tuisnywerhede te begin) Die klasseverskille in die landbou samelewing is ook oorbrug deurdat daar plek was vir boere, knegte, kreupeles en ou mense. Hauge het leiding gegee aan hierdie Verenigings van  deur sy briewe. Hierdie briewe het gehandel oor beide geestelike sake en besigheidsaangeleenthede.

Hans Hauge se suksesse moet ons nou nie laat dink dat sy pad heeltyd met gerief en lofredes besaai was nie. Verre daarvandaan! Teenstand, valse aanklagte en vervolging het sy lewe gekenmerk. Sy prediking het die vyandskap van kerkleiers en owerhede opgewek omdat hy volgens hulle die “Konventikkel Ordonnansie” van 1741 oortree het. Hiervolgens het die predikante die alleenreg gehad gehad om God se Woord te preek en leke kon dit net doen in die teenwoordigheid van die leraar van die kerk. Afguns op Hauge se sukses en invloed het hom seker ook  nie juis geliefd onder sommige ampsdraers gemaak nie. Hauge is altesaam tien keer gearresteer en was van 1804 tot 1811 meestal  in die tronk.  Aan die einde van sy lewe het Hauge wel respek by die owerhede afgedwing. Maar volgens alle aanduidings is sy gesondheid deur die gevangenisstraf aangetas.

Hauge het ook persoonlike smart op ander terreine geken. Na sy vrylating uit die tronk het hy by Bakkehaugen naby Christiana gaan bly as boer en nyweraar. In 1815 is hy met Andrea Andersdatter getroud wat met die geboorte van sy seun, Andreas gesterf het. In 1817 is hy weer getroud met Ingeborg Marie Olsdatter. Al drie kinders wat hy by haar gehad het, het gesterf.  Op 29 Maart 1824 is hierdie besondere kneg van die Here oorlede.

Na Hauge se dood het sy erfenis voortgeleef in die mense wat deur sy boodskap aangeraak is. In 1842 het die Haugiane en die Morawiërs, Noorweë se eerste sendinggenootskap, die Noorweegse Sendinggenootskap gestig. Die baie Noorweërs wat in sy leeftyd na Amerika geëmmigreer het, het tot gevolg gehad dat sy invloed ook daar in die Amerikaanse Lutheranisme  uitgedra is.

Die geskiedenis van Hans Hauge het ‘n hoopvolle boodskap van God vir ons in ons tyd van afvalligheid in  kerk en samelewing:
  • Die soewereine God is enige tyd instaat om ware predikers van die Woord op te wek ongeag hoe donker die omstandighede. Dis uiteindelik die Here van die oes wat self arbeiders uitstuur en ons word opgeroep om juis daarvoor te bid. (Lukas 10:2) God gebruik nie net  geordende leraars nie, maar elkeen wat waarlik geroep is.
  • Die oplossing van ons land se geestelike nood, lê  nie in die stigting van nuwe denominasies nie, maar in herlewing van die lidmate van die  bestaande kerke. Hauge het in die Lutherse kerk en teologie gebly, maar juis binne hierdie raamwerk sy kragtige boodskap van bekering gebring. Daar word te vinnig in ons dag, nuwe kerke gestig asof dit nou 'n verskil sal maak. 
  • Die aanvaarding van die ware evangelie as verlossingsboodskap mag ons nooit blind maak vir mense se tydelike nood nie. Dit maak ons ook nie afsydig teenoor die harde bestaanswerklikhede rondom ons nie. Hauge het leer en lewe bymekaargebring. Die Christen se daaglikse werk is deel van sy aanbidding!* Dis 'n etiek wat al deur Luther na vore gebring is en waaraan ons in ons samelewing 'n groot behoefte het.
  • Die prys vir getrouheid aan die waarheid is lyding en vervolging. (Is ek en jy bereid daartoe?) Hieroor moet daar geen illusie wees nie, die wat vrugdra sal vervolg word. Die grootste vervolgers van God se ware kinders sal juis  kerkmense wees, wat die gedaante van godsaligheid het, maar nie die krag daarvan ken nie.
* Die bron stel dit in Engels "work is part of worship" Verskeie bronne op die Internet is geraadpleeg, o.a. ook Wikipedia.


 Hauge standbeeld in Oslo

1 opmerking:

  1. Besielende leesstof! "Vir 'n tyd soos hierdie " in die geskiedenis van die NGK ( RE: Rut) is die tweede punt dalk die mees relevante : "Die oplossing van ons land se geestelike nood, lê nie in die stigting van nuwe denominasies nie, maar in herlewing van die lidmate van die bestaande kerke."

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.