BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 01 Julie 2019

GELOOFSKRISIS

- MAAK DIT NOG SIN OM GOD TE DIEN? 



Ons hoor hier in MALEAGI 3:14 - 4:3 van ‘n groot krisis by gelowiges. Hoor hoe kla God se mense in selfbejammering : “Dit is nutteloos om God te dien.” (14) Dis ‘n beskuldiging dat dit geen sin maak of waarde het om God te dien nie. Klink dit bekend? Kinders van God ervaar vandag nog steeds ook hierdie krisis. Juis in hierdie tye van ellende, droogte en ekonomiese agteruitgang. Ons voel ook partykeer so, ons vra ook die vraag al is dit dalk nie hardop nie. Dit was ’n algemene probleem van destyds (sien Psalm 73) Maar ook nou. Ons voel verontreg, selfs dalk bietjie verneuk. “Die Here maak nie mooi met my nie, dit lyk asof Hy nie raaksien wat ek doen nie, dit lyk asof Hy onregverdig is. Het Hy dalk vergeet van my opofferings, my gebede, my bydraes...?” 

HET GOD MY VERGEET?

Het jy al so gevoel? (Wees maar eerlik met jouself) Wanneer gebeur dit veral dat ons hierdie vrae vra? Veral as ons onsself met ander vergelyk! Dit was presies hierdie mense se houding. “Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!" (15) Jy wonder en worstel met : “Here ek dien U, maar ek is siek en daardie goddelose ou is blakend gesond, Here ek dien U, ek sukkel om kop bo water te hou en daardie goddelose ou ry die kruin van sukses. Here, ek dien u maar kyk net die rampe en ellendes wat oor my rol, en die goddelose fladder sorgeloos van plesier na plesier! Here ek probeer goed wees vir my vrou, maar sy bly afsydig teenoor my!” 

So maklik kom ons dan tot ’n vermetele en verregaande gevolgtrekking: “Ag, nee wat, dit is nie die moeite werd om God te dien nie, dit maak nie sin nie....” 

GOD ANTWOORD : DIE GEDENKBOEK

God reageer op die vermetele gedagtes van die gelowiges. (16) Ja, dis vermetel om teen God in opstand te kom en die waarde om Hom te dien te bevraagteken. Maar tog, dis so wonderlik, Hy antwoord sy kinders, Hy verskree of verwyt nie, Hy gee ’n rustige antwoord. Hy verseker hulle, Hy weet presies wat aangaan. Daar is ’n Gedenkboek met ons name voor sy aangesig. (16b) Hy neem kennis van almal wat aan Hom behoort. Die Here ken dié wat Syne is! Die Here gee ag op die wat eerbied vir sy Naam het. En dis die kernwaarheid wat ons moet raaksien : eerbied vir Sy Naam! Dit wil sê sy Persoon. (Dis ’n belangrike tema in die boek Maleagi) 

Ons moenie God dien omdat Hy iets vir ons doen nie! Ons is immers sy dienaars, Hy is nie ons dienaar nie! Ons dien God omdat ons eerbied het, heilige ontsag, respek vir Hom omdat Hy die ontsagwekkende, heerlike groot God is - die skepper van die Heelal. Die Volmaakte, die Heerlike, die Almagtige! Voor Hom sal elke knie buig en elke tong erken dat Hy die Here is! 

Ons dien God omdat HY GOD IS! 

Omdat die hele skepping aan Hom behoort. Omdat Hy sy liefde aan ons deur Jesus reeds bewys het! 

Ja, beslis wil God ook hê ons moet weet Hy gee om vir en Hy weet van ons : God is nie onkundig, passief, magteloos of onregverdig nie. 

God gaan ingryp en dan sal daar ’n duidelike verskil wees tussen die gereddes en die ongelowiges. (op sleutelmomente in die geskiedenis het Hy dit wel al gedoen en het Hy Sy strawwe sigbaar gemaak... byv. die sondvloed, tydens die tien plae in Egipte ens.) Wees maar verseker daar wag ’n dag van afrekening oor die opstandiges! (4:1) “Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.” 

DIE DAG VAN DIE HERE! 

Wat word bedoel met die Dag van die Here? Dis ’n algemene begrip in die Ou Testament. Dis die simbool van Goddelike ingrype, van wraak en afrekening. Byvoorbeeld : 

“Huil, want die dag van die Here is naby; dit bring verwoesting, dit kom van die Almagtige af.” (Jesaja 13:6) 

“Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom.” (Joël 2:31) 

Maar die dag van die Here is vir God se mense juis ook ‘n dag van redding! 

“Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige." (4:2,3) 

Dit word als vervul in Jesus. Die dag van die Here verwys na die oordeel sowel as die redding wat aanbreek in Jesus. Dis ’n omvattende aanduiding van die draaipunt in die geskiedenis wat met Jesus se koms ’n werklikheid geword het. Dit gaan nie net oor die wederkoms nie, maar die totale ingryping van God in die laaste dae, wat wel die wederkoms insluit. Dis die tyd waarin ons nou reeds leef! Dis nie net ’n enkele moment nie, maar ’n hele tydperk, ‘n periode van beslissing en skeiding. In ’n sekere sin is dit nou reeds aan die gang. Waar die evangelie verkondig word gebeur dit reeds. Waar die evangelie verkondig word spel dit oordeel vir diegene wat dit verwerp, maar heerlike redding en genade vir elkeen wat Jesus aanvaar. Maar die Dag van die Here sluit ook in die finale oordeel tydens die wederkoms, wanneer daar ewige finale skeiding sal kom. 

Praktiese implikasies vir julle wat God ken: 

· Dien die Here sonder om jouself met andere te vergelyk! Kyk na die Here en nie na ander mense nie. Stap die pad saam met die Here - die spesifieke unieke paadjie wat Hy vir jou bedoel het. (Met al die bulte en opdraandes) Afgunstigheid op ander steel jou blydskap, en verswak jou geloof. 

· Ons moet ons motiewe ondersoek waarom ons God dien. Ons moet God dien omdat ons eerbied vir Sy Naam, sy persoon het. Hoe gebeur dit? Waar sien ons sy heerlikheid wat eerbied, ontsag maar ook dankbaarheid by ons wek? As ons die opofferende liefde, die heerlikheid, die skoonheid, die voortreflikheid van Jesus Christus raaksien! Hy, Jesus is die beeld van die ontsagwekkende heerlike God! (Kol 1:15-20) Trouens, Sy Naam is die enigste Naam deur wie ons gered kan word. (Handelinge 4:12) 

· Om die Here te verwyt en te wantrou is verregaande vermetelheid. Ons moet ons bekeer van hierdie verkeerde gedagtes. Dis ’n baie ernstige sonde! Ons glo so maklik verkeerde dinge oor God, ons betwyfel sy wysheid en besluite, sy regverdigheid, goedheid, getrouheid! Ons is wantrouig oor sy liefde! ((Dit ten spyte van Getsemane en die kruis!) Bely jou verkeerde gedagtes oor God - Hy sal vergewe! 

· Moenie verkeerde verwagtings hê oor wat Jesus nou kom doen nie. Hy beloof nie nou in hierdie wêreld voorspoed sukses en gerief nie. Hy gee nêrens waarborge dat ons nie onreg, onregverdigheid of swaarkry sal beleef nie. Hy belowe wel vergifnis, verlossing van sondebande, vrede, ’n ewige erfenis! 

· Vind jou vreugde nou reeds in die feit dat God goed en regverdig is. Dis ’n feit al sien ons dit nie. Die GEDENKBOEK! Alles is in God se boek opgeskryf, niks ontgaan sy alsiende oë nie! Wees jy maar net rustig! Reg en geregtigheid sal geskied! 

· Vertrou op God se beloftes van verlossing. Dit word beskryf as redding, genesing en vryheid. Jou hele menswees word geraak. Hierdie beloftes het reeds waar geword in Jesus en sal volkome waar word by die wederkoms. 

· Vertrou God se Sy oordele aan Hom toe. God stel sy oordele uit juis om mense kans te gee om te bekeer! “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte (oor die wederkoms) uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Petrus 3:9) Maar God slaap nie, God se uitstel beteken nie afstel nie - daar kom ’n besliste finale oordeel. Dit gaan wees soos ’n oond, geen ontsnapping gaan moontlik wees nie! As jy nie aan God behoort nie, bekeer jou NOU! 

Die belangrikste : 

Dit maak beslis sin om God te ken en te dien deur Jesus Christus. Dis voorwaar al wat sin maak in hierdie deurmekaar wêreld. 

Wat anders maak sin? Wie anders bied ewige sekuriteit? Om God te ken is al wat sin maak, want die mens is verganklik, alles wat ons besit is verganklik en gaan verby! Alle mense is onbetroubaar en hulle beloftes bedrieglik. Wie anders as God en net God is waarlik opreg, eerlik, betroubaar? Dis die moeite werd om God te dien deur Sy Seun Jesus, nou en vir die ewigheid. DIEN JY HOM? 

*Maleagi 3:13 Julle het vermetele dinge oor My kwytgeraak, sê die Here. Maar julle vra: "Wat het ons oor U gesê?" 

14 Julle het gesê: "Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom, die Here die Almagtige? 

15 Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!" 

16 Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ‘n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. 

17 Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. 

18 Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie. 

Maleagi 4:1 Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie. 

2 Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. 

3 Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

(foto - Duncan en Ida Irvine)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.