BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 26 Junie 2019

Die tragedie van Kwa Sizabantu


[Onderstaande is 'n skrywe van Koos Greeff]



Ek was een van hulle wat vir lank op Kwa Sizabantu gewerk het. Om presies te wees vanaf 1977 tot 1994. Aanvanklik met my hele hart en siel maar teen later jare het ek begin besef ietsie is verkeerd hier. So is ons voort in skynbare vrede en het ons ‘n nuwe lewe kom ooptrap teen die Olifantsrivier. Selfs baie in Namibië gekom en oral oor gepreek – selfs op die draadloos. 

Kort voor die wentel van die eeu het ek besef dinge loop skeef op die eens sieraad van die Evangelies-gesindes. So begin ek bronne bymekaar maak en handig ek ‘n navorsing-tesis in oor Kwa Sizabantu. My bevinding destyds was dat daar ‘n oorbeklemtoning van sekere skrifgedeeltes was ten koste van die onderbeklemtoon van ander waarhede. Die gevolg was ‘n skeeftrekking van die Evangelie. Ons word mos opgeroep om die volle Evangelie te verkondig! As mens verder sou wou gaan kon jy net eenvoudig kyk na die sogenaamde 5 “Solas” van die kerk. Daardie waarhede wat ons vasklou wat soos bakens ons op koers hou. Hier het KSB totaal begin skeeftrek want vir die “Solas” van genade en die kruis alleen was daar nie meer plek nie. 

Baie predikante en ander vriende het probeer waarsku maar ongelukkig tree KSB toe terug in ‘n “laer-trek” mentaliteit. In plaas daarvan om in eerlike gesprekke te tree en grondige selfondersoek te doen, beveg die leierskap alle broederlike teregwysings hand en tand. So was dit tot laasjaar. 

Meteens begin Dr Peet Botha, voorheen registrateur van die kollege op KSB skrywe. Aanvanklik pleitend en met “versigtige” stappe. Weereens gaan die leierskap van KSB in die “laer-mentaliteit”. Soos te wagte, ontstaan daar toe ook binne-gevegte en verval die hele werk in spanning en skeuring. 

Een van die groot probleme is natuurlik rondom die leierskap van mnr. Erlo Stegen. Enige mens met bietjie onderskeiding kon sien hoe hy verstandelik agteruitgaan. Die eens vurige prediker wat sommer so uit die vuis gemaklik kon praat staan nou star en lees vanaf ‘n dokument. Ongelukkig is hy onsamehangend en dikwels herhaal hy sinne. Soveel so dat andere al moes ingryp tydens die erediens want mnr. Erlo Stegen kom nie tot by die einde van die voorbereide dokument nie. Dit is so ‘n tragedie en laat dink mens aan die ou sprokie van die koning wat almal om hom oortuig het van die lof van sy pragtige kleed – intussen was hy kaal. Slegs die hofnar het die moed gehad om hom op sy naaktheid te wys. Miskien is ek ‘n nar – dit kan uself oordeel. 

Die hartseer van die saak is dat ‘n sekere Lidia Dube wat beweer sy het eenmaal gesterf en Jesus gesien in die hemel, op die pas afgelope Hemelvaartdag, ‘n skreiende toespraak gelewer het in die pragtige kerkgebou van KSB. Vir ure aaneen besing sy haar eie lof en doen daarna ‘n skokkende aanval op onder andere menere Friedel en Arno Stegen. Laas Vrydag kon die twee eerbare manne nie meer die druk hanteer nie en bedank hulle beide uit leierskapposisies van KSB. So dryf die bootjie nou roederloos verder. 

Intussen word daar in-diepte ondersoeke gedoen na die finansies en bestuur van KSB en skokkende bewyse kom na vore. Miljoene rande se fondse wat net “verdwyn” het, moontlike geldwassery en reuse kontant bedrae wat in sakke heen en weer gevlieg word om aan agente van die “Hollandse koningin” af te lewer. Aan die een kant is dit lagwekkend maar dan kyk mens na die erge hartseer en diepe ontnugtering van baie lidmate en mede-werkers van KSB. In hope verlaat hulle nou die sinkende skip. KSB het verval tot ‘n toksiese kultus. 

Mag die Here ons almal genadig wees en mag ons waak en bid en let op ons leer en lewe. 

U kan gerus meer lees oor die hartseer verhaal op die (kliek) blog van Dr Botha. U is ook welkom om Koos persoonlik te kontak by +27 (0) 83 651 5686        



Koos en Estelle Greeff

2 opmerkings:

  1. Ek het onderstaande van 'n baie gerespekteerde broer ontvang:

    Hallo Johannes,

    Dankie vir die die tragiese KwaSizabantu-storie wat jy aangestuur het. Ek het as jong gelowige in die sewentigerjare Sizabantu gereeld besoek. Selfs busse gelaai met Potch-studente soontoe gereel. Maar soos ek geestelik gegroei het, het ek al hoe meer onrustig geraak en na ongeveer 'n dosyn besoeke in omtrent 1982 (37 jaar gelede) finaal besluit om my heeltemal los te maak van die plek en nooit weer daar besoek af te le nie. Ek en Soniah het finaal tot die besef gekom die plek het tot 'n kultus ontaard (as dit nie maar van die begin af vals was nie) en dat die Bybelse evangelie glad nie daar verkondig is nie. Trouens, al vir jare wonder ek of die talle wonderwerke waarvan getuig is (selfs 'n opwekking of twee uit die dood) hoegenaamd die waarheid was (self het ek nooit iets daarvan gesien nie). Die boodskap was destyds al werke, werke, werke! en sondebelydenis! - en van Christus en genade en Skrifuitleg het mens amper nie gehoor nie - indien ooit.

    Maar die einde van die plek bly 'n tragedie. My hart krimp ineen, veral as ek dink aan die duisende mense (hoofsaaklik Zoeloes) wat daar mislei is. Want ek is meer as ooit oortuig dat wettisisme (soveel te meer die kettery wat daar verkondig is en word) nie saligmakend is nie; trouens, dis verdoemend. As Paulus vir die Galasiers kon skryf dat die Judaiste die genade van God verbeur het net omdat hulle aangedring het op die Ou Testamentiese seremoniele wette - veral die besnydenis - by die verdienste van Christus, as grond vir redding (Gal 5:2-4), wat sê mens van Kwasizabantu! Dis skrikwekkend!

    Hartlike groete in Christus,
    Nico

    AntwoordVee uit
  2. Wat Greeff hier beskryf, en wat ek vir die afgelope 30 jaar by Kwasizabantu ervaar het deur hulle bediening verkil soos dag en nag. Die Skrif verkondiging word nie verdraai nie, ook op die sending se livestream op www.ksb.org.za webwerf is die dienste beskikbaar en kan mens geen fout vind nie. Dis beslis nie 'n kultus nie. Inteendeel ek dink sulke opmerkings "friendly fire" van Greeff en andere se aantuigings op blogs ens. is onverantwoordelik en maak die Christendom belaglik in die oe van die wereld wat teen die Groot opdrag inwerk...

    Dr E

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.