[‘n Perspektief op wonderwerke vanuit Jesus se lydensgeskiedenis]
“Ek benodig nou dringend ‘n wonderwerk…” Hoe dikwels het hierdie gedagte al by mens opgekom! So graag begeer ons ‘n mediese, finansiële of ander tipe wonder om net dinge ‘n bietjie makliker te maak of van ‘n ernstige krisis ontslae te raak.
Jesus KAN wonderwerke doen! Hy het en Hy kan nog steeds. Jesus het sonder twyfel aangrypende en merkwaardige wonderwerke gedoen… Blindes kon weer sien, dowes kon weer hoor, lammes kon weer loop! Selfs dooies word opgewek! Lasarus was al vier dae in die graf... Geen natuurwet was (en is) vir Jesus onoorkomentlik nie! Hy maak wyn van water, loop op die see, maak ‘n storm stil… En tog hier ( in Lukas hoofstuk 22 en 23) tydens sy verhoor en kruisiging op Golgota lyk dit asof Jesus self ‘n wonderwerk nodig het. Dringend nodig het (om sy lewe te red!) en Hy doen niks, net mooi niks! Of dalk doen Hy juis iets? Hier is baie geleenthede vir wonderwerke en dit lyk asof Hy als net so laat verbygaan…
Kom blaai saam :
22:63,64 “Hulle het Hom geblinddoek en gesê: "Jy is mos ‘n profeet! Sê wie het jou geslaan!" En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.” Jesus word uitgelok om te profeteer wie Hom geslaan het. Hy kon dit natuurlik maklik doen. Jesus is mos alwetend! Dink aan Natanael (onder die vyeboom), Saggeus (bo in die vyeboom)... Die evangelies vertel dikwels hoe Jesus geweet het wat in harte van sy dissipels en sy vyande aangaan…
23:8,9 “Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ‘n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie”.
Die goddelose Herodes begeer ‘n wonderwerk. Bid jou aan! Sy motiewe is natuurlik alles behalwe suiwer. Jesus laat Homself egter nie misbruik nie! Jesus doen nie wonderwerke om ongelowiges te vermaak of skeptici te oortuig nie!
23:33-39 “Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is."
Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself."
Daar was ook ‘n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die Jode."
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
Hier word die druk op Jesus om ‘n wonderwerk te doen baie groot- die leiers van die volk, die soldate en selfs een van die kwaaddoeners, ‘n medegekruisigde! Jesus word uitgedaag om Sy identiteit as Messias te bewys! Jesus kon so maklik van die kruis afkom, maar Hy doen dit nie, want Hy het Homself onderwerp aan die wil van sy Vader! (Dink aan sy gebedsoorgawe aan God se wil in Getsemane.) Sy Vader se wil kom eerste. Bo sy gerief, bo sy belange, bo sy eie reputasie! Jesus weier om toe te gee aan die versoeking om wonderwerke te doen om Homself te red of belangrik te maak. Net soos Hy geweier het om vir Homself brood in die woestyn uit klippe te maak toe die Satan Hom versoek het. Hy kon dit doen, maar dit sou beteken dat Hy die plan van Sy Vader sou verlaat. Dié plan was die pad van lyding, die kruisweg!
Jesus kies nooit die kortpad van ‘n kitswonderwerk nie, maar die lang pad van gehoorsaamheid aan die plan van Sy Vader!
Maar Jesus doen wel wonderwerke tot eer van sy Vader. En ons gaan dit nou sien... Die redding van ‘n veroordeelde misdadiger!
23:40-43 “Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!
In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom."
Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."
Hoe heerlik! REDDING van sonde, Satan, dood en hel! Dis die wonderwerk waarsonder ons nie kan nie. Gelukkig, dis juis die wonder wat Jesus graag, vryelik aan sondaars skenk uit genade! Deur persoonlike geloof in Hom. Stel jou die toneel voor. Hierdie man met waarskynlik weinig kennis en sy laaste bietjie asem en kwynende liggaamskrag, roep Jesus se Naam aan!... ‘n Vuil sondaar op sy laaste, roep desperaat na Jesus en hy word genadiglik verhoor! Dis die wonder wat Hy ook vir jou wil doen. Vandag! Roep Hom aan soos hierdie man! Vertrou Hom. Moenie omgee wat ander spot of sê nie! Stel jou hoop op die GEKRUISIGDE!
En kort hierna gebeur daar ‘n teken met ‘n groter betekenis as al die genesings en wonders wat Jesus tot dusver gedoen het! (23:45) Die voorhangsel skeur – sondaars het vrye toegang tot God! Jesus se offer maak die pad na God oop!
Die grootste magsdaad van God :
GOLGOTA EN DIE LEË GRAF
Die kruis en die opstanding drie dae hierna is die fokuspunt van God se wonderdade. Dis parallel met die eksodusgebeure. Dis die eksodus van die Nuwe Verbond.* God wat Homself so swak maak in Jesus deur as mens aan ‘n skandpaal te sterf. Die Almagtige Skepper wat toelaat dat sy klein skepseltjies Hom doodmartel aan ‘n stuk hout! God bewerk ‘n aangrypende wonder juis deur die lyding van sy Seun. Dis moontlik alleenlik omdat Jesus God se wil bo die tydelike voordeel of gerief van ‘n wonderwerk gestel het! Vir ewig sal ons Jesus dankbaar wees omdat Hy nie geswig het vir die versoekings van selfgesentreerde wonders nie, maar gehoorsaam die lydensbeker gedrink het wat Sy Vader vir Hom geskink het!
TER OPSOMMING
Pasop vir hierdie obsessie met wonderwerke wat daar tans heers. Om ‘n wonderwerk te begeer is geen noodwendige aanduiding van vroomheid of ‘n ware soeke na God nie! (Onthou maar net weer Herodes.) Terloops, daarom is die Prosperity Gospel so gewild. Alle mense soek immers die gerief wat mediese en finansiële wonders kan meebring!
God kan inderdaad enige wonderwerk doen. Die belangrikste wat Hy doen is om sondaar harte te verander, van vyande van God tot aanbidders van God! En dis die wonder wat elke sondaar die nodigste het. Dis moontlik omdat die pad na God oopgemaak is deur Jesus, juis omdat Hy nie vir Homself gerief en veiligheid gesoek het deur ‘n wonderwerk nie, maar die wil van die Vader eerste gestel het.
God se wil is ALTYD belangriker as wonderwerke!
En net vinnig. Wat is God se wil dan vir jou en my?
Twee sake staan sentraal.
Johannes 6:28,29 “Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het."
Persoonlike geloofsvertroue in Jesus! Dis wat God nou van jou vra as sondaar. Dis prioriteit en nie een of ander wonder om jou lewe gemakliker te maak nie!
1 Tessalonisense 4:3 “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” HEILIGHEID! Dis wat God se plan vir jou is as jy reeds sy kind is. Sy passie vir jou is om heiliger te word, meer soos Jesus en nie enigiets anders nie!
Kry ‘n passie vir God se wil en ja op hierdie pad sal jy inderdaad wonders beleef!
*Trouens in Lukas 9:31 gebruik
Lukas die woord exodoV (eksodus/uitgang) as
verwysing na die kruisiging.
[So ietsie persoonlik. Ek het bostaande gepreek nou die afgelope Sondag in Owamboland in Verre Noord gemeente. Ek het Saterdag die 13de verjaar daarbo. Dit het my weer ver laat terugdink. Een en vyftig jaar gelede het ek my vyfde verjaarsdag ook daar in Wamboland gevier. Ek onthou nog my twee plastiek diere wat ek as persent gekry het. Dit was 'n ander Wamboland as vandag... tweespoorpaadjies, bosse en sand. Weinig winkels en lewensmiddele. Ma het vir ons vetkoek gebak. By die vriendelike Owambo's het ons hoenders en eiers gekry. Dit was nog voor die vyandelikhede volskaals begin het. Ons het met die Landrover en karavaan rondbeweeg van plek tot plek. By een plek was die kinders nie juis witmense gewoond nie en het onder die tent se seile vir ons geloer... Ek het daar 'n klein knopkierietjie persent gekry wat ek vandag nog het. Hier is ek en my suster Maria.]
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.