BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 01 Maart 2019

KRY WEER LEWE!


- Die lewe wat die Gees gee deur die Woord! 



Wat moet ek doen as my liefde vir Jesus flou geword het? Wat staan my te doen as ek my geestelike woema en vreugde verloor het? Wat is die oplossing as my geestelike vlammetjie laag en effentjies brand? Of as ek afvallig geword het? Dis ‘n vraag waarmee elke kind van God iewers langs die pad te doen kry. Ons bly nie altyd op ‘n geestelike hoogtepunt nie! Daar is nie altyd ‘n liefdesywer vir God en sy mense in ons hart nie. 

Nou is daar ‘n paar groot gevare wat dreig as God se kinders deur sulke dooie en dor tye gaan : 

1.Ons gee maklik moed op. “Nee wat Christenskap is nie vir my nie, dit werk nie! Ek gaan als maar los." 

2.Ons aanvaar die geestelike louheid en doodsheid as normaal. “Ag, ek sal maar net so met die uiterlike rituele voortgaan al het ek geen vreugde of passie meer nie. Ek sal maar net voorgee dat als goed gaan. Dit lyk in elk geval nie juis of dit met ander Christene veel beter gaan nie” 

3.Ons gryp in radeloosheid na allerhande kunsmatige oplossings en oppervlakkige ervarings. ‘n Nuwe kerk, een of ander nuwe lering, ‘n kitsplan vir geestelike lewe…. “Ek moet dalk net ‘n slag omval (slain in the Spirit), miskien ‘n paar Gospel konserte bywoon, dalk iets nuuts ontdek of doen, soos om die Joodse sabbat te begin hou…" 

JESUS VERTEL ONS DUIDELIK WAAR LEWE VANDAAN KOM… 

Hier in Johannes 6:63 maak Jesus self ‘n baie belangrike uitspraak oor die geestelike lewe. 

“Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self (Grieks = vlees) kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.” 

Die kernwaarheid is : 

Die Heilige Gees bring ware lewe, nie die vlees (mens) nie! 

Dit het in hierdie konteks daaroor gegaan dat baie van Jesus se dissipels aanstoot geneem het oor die dinge wat Jesus gesê het. (Vgl. 6:53) Nou wil Jesus sê : “As julle hierdie dinge op ‘n bloot vleeslike/menslike manier probeer verstaan gaan dit julle nêrens bring nie! Menslike pogings en prestasies kan nie ware lewe gee nie, net die Gees kan.” 

Mensgemaakte kitsoplossings gaan nie jou Christen blydskap en vreugde weer herstel nie! 

GEES EN WOORD 

Twee opvallende sake kom hier in Jesus se woorde na vore. Die onmisbare belangrikheid van Gees en Woord. Beide sake se wortels gaan terug na die Ou Testament. 

Dwarsdeur die Ou Testament word dit duidelik gesê dat die Gees lewe bewerk. Dis ‘n basiese waarheid. Vir ware lewe is ons totaal afhanklik van die Gees van God, die Heilige Gees! Reeds in Genesis 1:2 by die skepping word ons gewys op die onmisbare belangrikheid van God se Gees. ‘n Ander dramatiese voorbeeld van die Gees wat lewe gee is die visioen van die vlakte met die doodsbeendere in Esegiël 37

In die Johannes evangelie word die onmisbare rol van die Gees keer op keer beklemtoon. Een van die belangrikste plekke is in Jesus se verduideliking van die wedergeboorte aan Nikodemus in hoofstuk 3. 

“Daarop sê Jesus vir hom: "Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." 
Nikodemus vra Hom toe: "Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?" 
Jesus het geantwoord: "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 
Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 
Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 
Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is." (3:5-8) 

Geen lewe is moontlik sonder die lewendmakende Gees van God nie! 

Daarom is dit so belangrik dat die Gees op Jesus neergedaal het! (1:32 ev) Baie belangrik – Jesus het nie net die Gees op ‘n beperkte manier of vir ‘n tyd lank beleef nie. Nee. Ons lees hierdie wonderlike uitspraak in 3:34 – “God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking.” Jesus beleef die onbeperkte teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees! Nou verstaan mens wat Jesus in die tweede deel van vers 63 sê : “Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.” (NAB) of “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (OAV) Omdat Jesus absoluut vol van die Heilige Gees is, is sy woorde die produk van die lewegewende Gees. 

En dit bring ons by ‘n belangrike saak : 

Jesus se woorde as ons dit hoor,
verstaan en absorbeer, wek ware lewe! 

Die oplossing vir jou louheid en flouheid is hier... in jou hande! Jesus se woorde maak die verskil! Dis wat Jesus vir die dissipels hier probeer oordra – “As julle my woorde reg verstaan dan sal julle nie aanstoot aan my neem nie, maar julle sal my aanvaar as die brood van die lewe!” 

Om Christus as die Brood van die lewe te eet is om sy woorde te eet en te absorbeer in jou lewe. Om Jesus te ken kan nie losgemaak word van om sy woorde te ken en te glo nie! Omdat Jesus vol van die Gees is, is dit sy woorde wat ware lewe in ons wek! 

Weereens, hierdie waarheid vind ons alreeds in die Ou Testament. Kyk na Deuteronomium 8:3. “Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” Hierdie woorde is Jesus self, dis sy woorde. Jesus se woorde is dus ons bron van lewe! Dit herinner sterk aan die uitspraak van die profeet, Jeremia. “Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God.” (Jeremia 15:6) 

VAT SAAM: 

1.Ware lewe kom van die Gees en die Woord. Daar is ‘n onlosmaaklike verband tussen die Gees en die Woord. Jesus se Woorde kom van die Gees en het lewendmakende krag. Jesus se woorde as ons dit ernstig opneem het lewendmakende krag! Hierdie woorde het ons in die Skrif! Pasop vir ‘n valse onderskeid as mense ewe vroom beweer : “Ek soek die Gees, die Woord is maar net letters!” 

2.As my geestelike lewe verflou het, moet ek dus opnuut erns met die Skrif maak. Ek moet tyd en moeite doen om die woorde van Jesus te verstaan, maar ook glo en absorbeer in my lewe. 

3.Pasop vir kitsoplossings en kortpaaie. Net soos ‘n wiskundeboek onder jou kopkussing jou niks baat nie, gaan ‘n Bybel op jou bedkassie ook nie veel help nie. Jy leef dalk vir jare en jare in dorheid, omdat die woorde van Jesus vir jou onbekend is of geslote is. Pasop vir skynoplossings – tegnieke en metodes wat net vir ‘n tydjie emosies opjaag, maar dis nie gebou op ‘n suiwer verstaan van die woorde van Jesus nie. 

4.Jesus wil vir ons die volle lewe gee. Dis ‘n lewe van oorvloed. “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (Joh 10:10) Dit het hier niks te doen met loopbaansukses, geld of gesondheid nie. Dit gaan daaroor om voortdurend met Hom in gemeenskap te leef. 

IS JOU WOEMA WEG? BEGIN OM ERNS TE MAAK MET DIE WOORD! 


2 opmerkings:

  1. Dankie vir die tydige boodskap Johannes.... my woema is nog goed, alles genade, maar ek is bekommerd oor ander. Hoe ouer ek word hoe meer besef ek die uniekheid, goddelike inspiraise, krag en ongelooflike wysheid van die Woord. Ek het al soveel getuienisse gehoor van mense - soms briljante geleerdes - wat tot bekering gekom het net deur die Woord te lees. Die laaste verhaal wat my so aangegryp het is die van Kanadese astro-fisikus Hugh Ross. Ken jy hom? Geseende man van God. Mooi bly daar in Namibie, en dankie vir jou werk!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie broer, lekker om weer hier van jou te hoor. Ek ken nie Hugh Ross nie. Sal gaan kyk.
      Vrede vir julle daar in Kanada.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.