BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 29 Maart 2019

AS DIE SATAN JOU BEETPAK

MET SY SUBTIELE VERSOEKINGS! 



Die duiwel is ‘n werklikheid. (Al wonder party sinodes soms daaroor.) En hy is aktief. Baie besige kêrel. Hy los veral nie God se kinders uit nie. Hy het nie eens vir Jesus uitgelos nie, maar homself daarop toegespits om Jesus se Godgegewe program en doel te vernietig! Jesus het Goddelike goedkeuring en toerusting ontvang vir sy sending toe die Heilige Gees op Hom neergedaal het tydens sy doop deur Johannes. Sy Godgegewe missie was om mense deur sy kruisdood en lyding van sonde te verlos. Hiermee sou Satan natuurlik nie gelukkig wees nie. 



Jesus bevind Homself nou in die dorre wildernis waarheen die Gees Hom gelei het. Hier vind nou dramatiese en deurslaggewende gebeure plaas. (MATTEUS 4:1-11) Jesus vas. Nie omdat daar nie kos in die woestyn was nie, maar om Homself volkome aan God se wil te onderwerp. Hy bid vir sy volk en sy mense. Jesus is een met sy mense. Net soos Hy nie te hoog was om saam met sondaars gedoop te word nie so bid en vas Hy ook nes hulle. En sy volkome mensheid word juis verder onderstreep deur die feit dat Hy honger is. Sy vereenselwiging met sy mense gaan nog dieper. Matteus teken Jesus as die verteenwoordiger van die volk wat die volk se geskiedenis herhaal. Hy was eens ook in Egipte. Nou trek Hy ook deur die woestyn. Na veertig dae toe Jesus swak en kwesbaar was kom die duiwel na Hom. (Soos ‘n roofdier wat verkies om op ‘n verswakte prooi toe te sak) 



Kom ons kyk na die drie versoekings en hoe Jesus dit hanteer: 


EERSTE  "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." 

Die versoeking klink so onskuldig. “Jy is mos die Seun van God, maak vir jouself brood, jy is mos honger." So subtiel. Wat kan nou daarmee verkeerd wees? Dit klink so vroom. So ordentlik, asof die duiwel goeie raad wil gee in 'n noodsituasie. Satan suggereer nie dat Jesus moet steel of homself dronk drink of iets dergeliks nie… 

Waaroor gaan hierdie versoeking? Die Satan daag Jesus uit om van sy mag as Seun van God tot sy eie voordeel gebruik te maak. Inderdaad het Jesus as Seun van God, Goddelike Skeppingsmag. Hy kan uit klippe brood maak, net soos God uit klippe kinders van Abram kan maak! (Joh 3:9) Die implikasie is : Laat Jesus vir Homself doen wat God kan doen! Die versoeking gaan daaroor dat Jesus sy houding van ‘n nederige afhanklike Israeliet moet laat vaar. Meer nog Hy moet God se plan laat vaar en sy eie wil begin doen en vir Homself sorg. 

Doen jou eie ding tot jou eie voordeel! 

Jesus oorwin hierdie subtiele versoeking. Hy antwoord uit die Skrif. “Daar staan geskrywe: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom." (Terloops as die Bybel vir Jesus se volharding so nodig was, hoeveel te meer vir ons?) Deur sy antwoord uit Deut 8:3 neem Hy weer sy plek in as afhanklike Israeliet, afhanklik van God in. Jesus onderwerp Homself aan sy Vader, Hy wag op God se Woord, want daar is meer in die lewe as net sigbare brood. Hy gaan nie ‘n plan van die duiwel uit probeer nie, Hy gaan wag vir God se plan en God se tyd. En natuurlik het Sy Vader sy geloof beproef, maar Hom nie beskaamd laat staan nie. Inderdaad het die Vader engele gestuur om Hom te versorg! (11) God gee uitkoms op SY tyd! 

VERTROU GOD EN WAG VIR SY PLAN EN SY TYD!

TWEEDE. "As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie." Die volgende versoeking is nog meer subtiel en sluit by die vorige een aan. Asof die duiwel wil sê, nou goed jy vertrou mos op God, kom wys nou jou vertroue : spring! En luister mooi, die geslepe Satan gebruik sommer die Heilige Skrif vir sy versoeking. (Dis ‘n ou taktiek – kliek op DUIWEL SE BYBEL) Hy haal Psalm 91:11,12 aan. En dis mos waar! (Die waarheid van hierdie belofte sou juis bewys word deur die koms van die engele in vers 11.) Gelukkig val Jesus nie vir die Bybelversie truuk nie!* Jesus kom met ‘n teenantwoord uit die Skrif. "Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie." (Deut 6:16.) Dit gaan daaroor dat mens nie God op die proef moet stel nie. God se beloftes vra om net vertrou te word en verbied ‘n wantrouige uitprobeer. Jesus onderwerp Homself weer aan God se wet soos enige vroom Israeliet sou doen. Ja, Hy glo in God en glo in God se beskerming, maar Hy het geen opdrag om van die tempel se dak af te spring nie. Jesus bepaal nie sy eie agenda nie, maar wag vir die opdragte van sy Vader. God het nie vir Jesus gestuur om bewonderaars rondom Homself te versamel en populêr te word nie. Nee, Hy moes kruis toe gaan! Dis wat die duiwel wou verhoed en natuurlik sien Jesus deur sy planne. Jesus staan vas soos ‘n ware Israeliet. Hy val in by God se plan, Hy het geen ambisie van sy eie nie! 

DERDE Met die derde versoeking sit die duiwel nie meer ‘n vroom maskertjie op nie. Nie meer die woorde “As U die Seun van God is nie…” Hy kom met ‘n kort en kru voorstel terwyl hulle op ‘n hoë berg staan: "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid." Al die koninkryke en hulle heerlikheid! Hier is nou ‘n geleentheid wat niemand deur die vingers moet laat glip nie! Jesus kon dit als besit. Die drang tot rykdom, besittings en mag is so groot in elke mens. (Vgl. 1 Joh 2:15) 

Die duiwel wys vir Jesus ‘n kortpad na die koninkryk! Jesus se hele bediening is gerig op die koms van die koninkryk van God. 

Ja dis juis ook God se wil om alle mag en heerlikheid aan Jesus te gee. Jesus moes dit egter verkry deur alle geregtigheid te vervul deur die pad van lyding en vernedering! Die duiwel wys ‘n makliker pad. Al wat Satan vra is net een knieval voor hom. Wat ‘n vreeslike versoeking! Hier is ‘n eenvoudige pad na mag en heerlikheid, maar dit vra ‘n ontsettende prys. Erkenning van Satan. En kom ons herinner mekaar : 

Pasop maar vir kortpaaie na ...geluk, gesondheid,gerief, sukses, rykdom, ...daar’s ‘n vangplek! 

(Dit sluit in om te val vir bedenklike gou-ryk-word-skemas en alternatiewe geneeskunde met okkultiese wortels en ander hulpmiddels wat so mooi lyk maar nie volgens God se wil werk nie – byvoorbeeld waterwys met ‘n stokkie. Maar dit gaan ook oor die krag en geweld wat ons wil gebruik om vyande en ongemaklike situasies uit die pad te probeer kry...) 

Ons word so maklik gevang as die Satan die smaaklike geelwortel van geld of geluk voor ons neuse hou! Wat doen Jesus? Jesus redeneer nie lank met die duiwel nie. Kort en kragtig praat Hy hier vanuit ‘n posisie van krag en gesag: Gaan weg, Satan! Jesus se antwoord is baie duidelik. Daar kan geen plek wees om enigiemand anders te aanbid as God alleen nie. Maak nie saak die woestynomstandighede en sy eie hongerte nie! Geen kompromie mag eers oorweeg word nie. Sy antwoord kom weereens uit die Skrif: "Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien." (Deut 6:13.) 

WAT LEER ONS? 

1.Ons leer van Jesus. Jesus slaag waar Adam en Eva misluk het. Die woorde “Gaan weg Satan” het by hulle ontbreek! Jesus slaag ook waar Israel misluk het. Jesus is die (enigste) volmaakte mens, volmaakte Israeliet! Daarom kan Jesus ons ware Verlosser wees. Ons het ‘n Verlosser wat sonder sonde is, maar wat weet hoe kragtig en slu die duiwel se versoekings is sodat Hy medelye met ons kan hê. Ons word ook versoek, maar juis omdat Jesus ons Hoëpriester is wat alle versoekings deurstaan het kan ons na Hom gaan in die moeilikste tye! Ons moet die kragtige aansporing in Hebreërs rêrig ernstig opneem. Hierin lê ons hoop en bevryding! 

"Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." 

(Hebreërs 4:14-16) 

2.Ons leer van die Satan se taktiek. Hy is wreed en slu. Hy slaan toe wanneer ons op ons swakste en kwesbaarste is. Sy subtiele versoekings is die gevaarlikste. Ook juis hier in nou se droogte en druk kom hierdie versoekings en suggesties dalk sterker as ooit na ons toe… “Doen jou eie ding. Sorg vir jouself en vergeet van God. Hy wil jou tog nie help nie…” Gebruik jou godsdiens tot jou eie voordeel, kies kortpaaie en maak kompromieë. Vul maar daardie hulpvorm oneerlik in...

Kom ons luister alleenlik na Hom wat namens ons alle versoekings oorwin het en Satan beslissend op Golgota verslaan het! 

*Dwaalrigtings is baie goed om rye en rye Bybelverse aan te haal veral buite konteks. Dink veral aan die ISRAELVISIE en HEBREW ROOTS

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.