BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 16 Februarie 2019

SAAMTREK?

Nee, want jy is afgesonder vir die heilige God! 



Ons leef in ‘n tyd waarin geen onderskeid tussen lig en duisternis nie. “Alles is maar sommer reg!”, in baie se oë. Paulus praat nou reguit oor hierdie vermeninging van goed en sleg in 2 Korintiërs 6:14 - 7:1. Met een duidelike beeld stel hy die Bybelse standaard : “Moenie saamtrek in die selfde juk as die ongelowiges nie.” 






Heel waarskynlik is dit die boodskap van Deuteronomium 22:10 wat Paulus hier geestelik van toepassing maak. “Jy mag nie met ‘n os en ‘n esel gelyk ploeg nie”. Dit gaan in daardie konteks oor allerhande verbode samevoegings. 

Paulus gebruik hierdie metafoor ook om kinders van God te waarsku teen verbode verbintenisse, vriendskappe en venootskappe. 

Die vraag is : in watter opsig en tot watter mate waarsku Paulus teen kontak en verbintenisse met ongelowiges? 

Wel, eerstens moet ons sê dat hy definitief nie propageer dat Christene alle kontak met ongelowiges en die heiden wêreld moet vermy nie. Hy self erken dat dit nie moontlik is nie. “In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee.” (1 Kor. 5:9,10 ) Dit gaan in daardie gedeelte oor die suiwerheid van die kerk en dissipline en tug binne die kerk self. Die kerk moet juis suiwer wees tot eer van God en om ‘n geloofwaardige getuie te wees. As alle kontak met ongelowiges vermy sou word, sal ons geen geleentheid hê om te getuig nie. 

Waaroor gaan dit dan? Enige aksie of verbintenis wat sou kon veroorsaak dat gelowiges in daad of gedagte betrokke sou raak by die sonde van die wêreld moet vermy word. 

Enige verbintenis of vriendskap wat tot kompromie met sonde kan lei is ongewens vir ‘n Christen. 

Konkrete voorbeelde wat Paulus in gedagte gehad het, was ‘n gemengde huwelik tussen gelowige en ongelowige (1 Kor. 7), die eet van afgodsoffers ( 1Kor.10), die bring van geskille na heidense howe (1 Kor.6) Die metafoor van ‘n juk skep die indruk dat dit oor noue verbintenisse gaan, waarbinne dit moeilik is om konsekwent ‘n Christelike lewenswyse en waardes te handhaaf. Ons vriendskappe en venootskappe met onbekeerde mense moet nie van so ‘n aard wees dat ons tot sonde verlei word nie! 

Na hierdie “sweeping statement” gaan Paulus nou voort om deur vyf teenstellings die noodsaaklikheid om enige assosiasie met boosheid te vermy verder te onderstreep: Dis retoriese vrae, die antwoord word veronderstel - geen, hoegenaamd niks! Paulus gee hier ‘n duidelike grondslag vir die verskil tussen gelowige on ongelowige: 

"Hoe kan daar ’n venootskap wees tussen reg en onreg?" Heiligheid en ongeregtigheid het niks in gemeen nie. Die een is reg en die ander is verkeerd. Daar is geen raakpunte nie. 

"Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?"  Hulle is onversoenbaar. Moenie probeer pas wat nie kan pas nie! En meng wat nie mengbaar is nie. Lig en duisternis is twee programme wat “incompatible” is! 

"Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial?" (hierdie term vir die Satan kom nie direk uit die OT nie, maar waarskynlik uit latere Joodse literatuur) Dink bietjie, watter harmonie en samewerking kan daar tussen Christus en die Satan wees? Dis ondenkbaar dat daar enige samehorigheid tussen hulle kan wees. Het Christus en die Satan iets vir mekaar te sê, sal hulle samesprekings voer of samewerking nastreef? Belaglik en ondenkbaar! Hoe kan Christene wat aan Christus behoort dan nou verbintenisse aanknoop met mense wat deur Satan beheer word? 

"Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige?" Daar is mos ’n absolute kontras tussen gelowige en ongelowige. Ons het verskillende lojaliteite, belange en belangstellings. ’n Gelowige is iemand wat honger en dors na geregtigheid, wat verlang daarna om God se wil te doen. ’n Ongelowige is presies die teenoorgestelde (Efesiërs 4:17,18) 

"Hoe kan daar ’n ooreenkoms wees tussen die tempel van God en die afgode?" Paulus redeneer soos volg : Die tempel van God is ’n ontsagwekkende heilige plek, geen afgod pas en hoort daar nie. Wat waar was van die fisiese tempel in Jerusalem, geld ook vir die geestelike tempel van gelowiges. Net soos die inbring van enige afgod in die tempel dit sou ontreinig en ongeskik maak vir aanbidding van God, net so sal besoedeling met die afgode ons ongeskik maak om God te aanbid. 

CHRISTENE IS DIE LEWENDE GOD SE TEMPEL!

Nou sluit Paulus aan by sy beeld van die tempel en maak ‘n heerlike en betekenisvolle stelling: 

“Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: "Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees." (2 Kor 6:16) 

Paulus beklemtoon 2 implikasies van die feit dat gelowiges God se tempel is. (En terloops dis die bekende verbondsformule wat hy hier aanhaal) : 

· Dis ’n vreugdevolle realiteit dat God in ons woon. Ons kan sy liefde en nabyheid op ’n besondere manier beleef! 

· Dis terselfdertyd ‘n saak van geweldige groot erns en verantwoordelikheid dat ons God se woonplek is. Ons as tempel is ’n heilige, afgesonderde, spesiale plek. Ons durf niks wat vuil is toe te laat in ons lewens nie, juis nie venootskappe en vriendskappe wat ons gaan besoedel nie. 

DIREKTE UITDAGING! 

Paulus rig nou ’n kragtige uitdaging en besondere belofte aan sy lesers. Daarom: "Gaan van hulle af weg en sonder julle af," sê die Here, "en moenie wat onrein is, aanraak nie." "Dan sal Ek julle aanneem en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees," sê die Here, die Almagtige. (17) Omdat God nou woon onder sy volk in terme van sy belofte van die Nuwe Verbond is dit vir ons ‘n kragtige aansporing tot ‘n heilige lewe. Afgesonder en toegewy aan God. Hy verwys na Jesaja 52:11. Dit gaan oor die verlossing uit Babel. Die volk Israel moes Babel verlaat , hulle moes die heidense stad vaarwel roep, want hulle was ‘n priesterlike gemeenskap, draers van die heilige voorwerpe van God. Hoeveel te meer geld dit nie van die nuwe volk van God nie. Ons is nou mos ‘n heilige priesterdom. Ons is verlos uit die ballingskap en slawerny van sonde... 

Ons moet sigbaar en moreel anders wees as die res van die mensdom. Lyk en doen jy anders? Waar daar nie meer hierdie andersheid is nie, is ons nie meer God se afgesonderde priestervolk nie. Die klem val op etiese en nie fisiese afskeiding nie. Die opdrag beteken nie om eenkant in klooster te gaan woon nie, maar anders te wees, anders te leef! 

En moenie die heerlike BELOFTE vergeet nie: “en ek sal julle aanneem...” God self gaan in ‘n besondere naby innige verhouding met julle staan as heilige mense wat anders leef! 

Paulus verwys nou in 7:1 na die beloftes van 6:17. “Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” ( 2 Kor. 7:1) Hierdie beloftes raak ons direk. Ja, sy eerste lesers, maar ook ek en jy! Hy raak nou prakties en wil sê : “Julle is die tempel van God, God woon onder julle, maar kyk julle moet besef as God onder julle woon dan moet sy woonplek (julle) skoon wees! Moenie die fout maak om te dink dat God saam met die afgode woon nie! 

Die heilige God woon nie in ‘n morsige hool van onreinheid nie! 

Miskien moet ek of jy hoor : "Daardie YouTubeclips wat jy kyk pas nie by God se woonplek nie...” Paulus gebruik dus hierdie beloftes van God om sy lesers kragtig aan te spoor tot ‘n heilige lewe. Om dit na te streef moet ons alle oorsake en geleenthede van besoedeling van ons af verwyder. Deur term “liggaam en gees” sluit hy die hele spektrum van alle moontlike bronne van besoedeling in.. In respek en eerbied vir God se ontsagwekkende heiligheid moet ons gehoorsaamheid en heiligheid nastreef. 

VAT SAAM 

God se genade beteken nie dat die onderskeid tussen heilig en onheilig uitgewis is nie. Ons word immers nie vrygespreek omdat God nou tot die slotsom gekom het dat sonde nie iets ernstigs is nie. Ons word vergewe omdat Christus met Sy lewe betaal het vir ons skuld. Pasop dus om valse gevolgtrekkings vanuit die vergifnis te maak. Vergifnis is geen vrypas om ons sondige aard uit te leef in kompromie met die wêreld nie. 



Paulus pleit hier vir die verbreking van alle bande en verbintenisse met ongelowiges wat ons geestelik skade kan berokken en tot kompromieë lei.  In vandag se taal:


PASOP WIE IS JOU FACEBOOK VRIENDE, JOU WHATSAPP KONTAKTE EN JOU INSTAGRAM BELANGSTELLINGS!


As ons hierdie opdrag nalaat versmoor ons God se beloftes. Dit beteken dat ons die vreugde van ‘n heilige lewe verbeur en ontbeer. Ja, dis ‘n Bybelse waarheid, hoe meer heilig hoe meer blydskap! Hoe meer heilig hoe meer beleef ons die vreugde van God wat deur sy Gees in ons woon! 

Om heiligheid na te streef met die regte motief moet ons altyd onthou wie ons is. Elkeen wat aan Christus behoort is die tempel (woonplek) van die heilige God. Wie erns maak met hierdie feit sal onmoontlik met die ou lewe van sonde en kompromie kan voortgaan.

(vlnr) Jané Redelinghuys, Mario Nel, ds. Johannes, Teri-Dona Davids, Ferdinand  Gerd Kronsbein, Marco Nel, Demi Louw, Stephanus Johannes van der Merwe, Stephné Jo Voigts, Hermanus Bothma Keyser, Christin Opperman, Johannes Andries Steenkamp.

Mag julle elkeen volhard in die geloof en julle belydenisaflegging van vandag nooit vergeet nie!







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.