BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 07 Maart 2019

BRIEF UIT TAFELBERG


Gelukkig is alle NG Kerke in die Kaap nog nie saam met NG Kerk Parke op 'n duistere dwaalpad nie. Die leraar van die NG Kerk Tafelberg het 'n duidelike brief  van beswaar en vermaning aan die NG Kerk Parke en die Ring van Durbanville gestuur. Dankie dr. Chris Saayman!


Van: Dr C Saayman
Leraar: Tafelberg NG Kerk

Aan: Die Voorsitter van die Kerkraad
NG Kerk Parke >> kantoor@parke.co.za

Aan: Die Voorsitter van die Ringskommissie
Ring van Durbanville >> carika@sonstraal.org.za

6 Maart 2019

Geagte kollegas

BEROEP EN BEVESTIGING VAN DS L VAN DER RIET

Met groot ontsteltenis het ek daarvan kennis geneem dat ‘n praktiserende homoseksuele persoon in NG Parke as leraar bevestig is aangesien dit strydig is met die Skrif asook die besluit van AS 2016.

Uit ‘n onlangse media-onderhoud met die leraar, blyk dit dat daar geen vooraf onderneming tot selibaatskap van hom vereis was nie. Hy verklaar naamlik - volgens Netwerk 24 - dat hy (sonder enige berou) voorheen in ‘n homoseksuele verhouding met ‘n priester van die VSA betrokke was en dat hy - indien die geleentheid hom voordoen - weer in ‘n verhouding betrokke sal raak en ook met ‘n man sal trou in dieselfde gemeente waar hy tans predikant is. Hy is immers “nie net homoseksueel van sy middellyf af boontoe” nie.

Dit kom dus voor asof AS 2016 eenvoudig onder die mat ingevee is. Wat nog te sê die heldere en duidelike getuienis van die Skrif.

My vrees is dat nie net die kerkraad nie, maar ook die Ring wat instemming verleen het, skuldig is aan iets wat indruis teen God se Woord. Dit sluit die Moderator van die NG Kerk in - wat namens die kerk verklaar het dat die kerk “oneindig trots” is op Ds vd Riet. Hier is diepe inkeer en bekering nodig.

Het die kerk se skande dan nou sy trots geword? Is dit nie tragies dat kerkleiers so maklik kapituleer voor die aanslag van die wêreld se “gay-agenda” en liberale Bybelloënende progressiewe denke nie?

Hierdie aangeleentheid gaan die NG Kerk onberekenbare skade berokken. Daarom my afkeur en beswaar teen hierdie toedrag van sake.

Ek dink die kerkraad en Ring is aan die NG Kerk as geheel ‘n verduideliking & apologie verskuldig.

Daarbenewens behoort daar onmiddelik van die betrokke leraar ‘n skriftelike onderneming tot selibaatskap vereis te word.


Die uwe

Dr Chris Saayman - Leraar: Tafelberg Gemeente 





2 opmerkings:

  1. Dankie Dr Chris.Die TYD het aangebreek dat ons woorde tot dade oorgaan.Elke gemeente en kerkraad sal diep moet besin oor die gemeente se finansies en besteding daarvan itv Sinodale aanslae. Sinodebesluite en Teologiese fakulteite wat strydig is met DIE ONFEILBARE WOORD VAN GOD sal baie duidelik deur elke plaaslike Kerkraad ondersoek moet word en met duidelike Skrifgefundeerde reaksie hulle teenoor die aangeleenthede moet distansieer. 29000 lidmate wat nie meer deel is van die die amptelike NG Kerk (volgens eie statistieke), wag vir nuwe leierskap en geloofshelde! Sola Scriptura.Albie Steenkamp

    AntwoordVee uit
  2. Ek het groot waardering vir almal wat getuig teen die sondige optrede van die gemeente in Kraaifontein asook teen die optrede van die leierskap in die kerk.
    Aan die ander kan word dit ook vir my duidelik dat ons in die kerk te doen het met die situasie van Spr 30:20: So is die weg van ‘n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen sonde gedoen nie.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.