BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 13 Desember 2011

NUWE BEGIN IN DIE BEGRAAFPLAAS Deel 2

Lees Esegiël 36:25-27; Johannes 3:1-5


Ons het gesien God beloof ’n nuwe begin vir sy afgedwaalde, mislukte volk in ballingskap. Hy beloof ’n Nuwe Verbond, want Israel kon nie die ou Verbond nakom nie. Dis die heerlikheid van die Nuwe Verbond. God skryf nie sy volk af nie, maar beloof ’n nuwe begin. Hy gaan hulle nuutmaak, Hy gaan wat stukkend is weer regmaak... Dink aan ’n motor in ’n ongeluk...as die skade te erg is, word hy afgeskryf en “scrapyard” toe verwys... God skryf nie ’n sondaar af nie, God wil jou nie skrootwerf toe stuur nie, God wil ’n nuwe begin met jou maak... Esegiël het dit duidelik gesê: “God self gaan iets doen in mense sodat sy Naam groot gemaak en geëer sal word.” God beloof drie basiese dinge, hierdie nuwe begin gaan oor drie sake: Vergifnis, Vernuwing, Seën.


Kyk weer na die kern daarvan in Esegiël 36:25-27. Nou wil ons bietjie dieper ingaan op die heerlike belofte. Die twee kern elemente waarmee die Here hierdie herstel beskryf is WATER en GEES. Dit gaan oor skoonmaak (vergifnis, reiniging van sondes) en dit gaan oor ’n nuwe gesindheid ( ’n nuwe hart) Reiniging en Vernuwing. Altwee is deel van die ingrype van God.

Dis die essensie van die Nuwe Verbond.
Dit behels ’n verandering van binne.


Dis ’n verandering bewerk deur God self! Hierdie verandering word beskryf in terme van die werking van water en Gees.


Waar in die Nuwe Testament kom hierdie twee beelde saam voor? Natuurlik in Johannes 3 : Die beskrywing van die wedergeboorte. Jesus verduidelik aan Nikodemus die noodsaaklikheid van die wedergeboorte. Vers 1-5 (Lees LW - Water en Gees) Jy MOET wedergebore word! Ons moet die erns hiervan baie goed verstaan. Dis goed as jy ophou vloek of steel of drink...maar iets meer is nodig : Wedergeboorte! Dis mooi as jy begin kerk toe kom en Bybel lees, maar iets meer is nodig : Wedergeboorte! Die vaste waarheid uit Jesus se mond is dat niemand in die Koninkryk kan ingaan tensy hy wedergebore word nie!


Die waarhede van Esegiël 36 is die agtergrond van Jesus se se uitspraak. Ons moet onthou, Nikodemus was ’n leraar van Israel, hy sou hierdie agtergrond uit Esegiël 36 baie goed geken het!


Jesus verwerf vir ons drie dinge:


~ Hy skenk reiniging/vergifnis. Dis wat die “Water” in Joh 3 simboliseer. Soos water ons skoon was, was Jesus ons skoon van ons sondevuilheid, deur ons heeltemal volkome te vergewe. Vergifnis op grond van sy kruisdood. (Jes 53:5,6) Sy vergifnis is finaal, eenmalig en volledig. Hy kyk na jou asof jy nooit gesondig het nie.
Die term wat ons gebruik om hierdie aksie aan te dui is: Vryspraak (Regverdiging)


~ Hy skenk ons vernuwing. Ons het nou nuwe harte deur die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees woon binne in ons - van binne af het ons nou ’n totaal nuwe gesindheid. Die Heilige Gees gee ons die begeerte tot heiligheid en ook die krag om teen sonde te kies. Ons haat nou sonde en wil dit nie meer doen nie. Hier in Esegiël word ’n duidelike bewys genoem van hierdie nuwe gesindheid. Eseg 36: 31 (Lees) Dis wat gebeur as die Gees van God in jou werk...
Dis ’n voortgaande werk in die kind van God. Dit word beskryf  met die term : Heiligmaking


~ Deur Jesus deel  ons in al die ewige seëninge. Ons is nou erfgename van God. Ons kry deel aan sy Koninkryk. Ons sien uit na ons nuwe Vaderland, na die hemelse beloning. Na volmaakte verheerlikte liggame en ’n volmaakte bestaan in die teenwoordigheid van God.
Hierdie finale uiteinde van ons verlossing word in die Bybel aangedui met die term : Verheerliking


God self bewerk hierdie wonderwerk. Dit gee mens hoop! Hy doen dit ter wille van Sy eer. Hy skenk dit op grond van Jesus Christus se werk aan die kruis, via die ingrype van die Heilige Gees.

Al die seëninge van die Nuwe Verbond word ons s'n deur die die geloof in Een Persoon - Jesus.  Die volle pakket word ons aangebied in Jesus Christus. Daarom is Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe!

Elkeen wat Jesus aanvaar as Here kry deel aan die heerlike nuwe begin wat reeds in Esegiël 36 belowe is! Hierdie nuwe begin word in Johannes omvattend beskryf as : Wedergeboorte! Johannes verwys reeds daarna in sy inleiding in Joh 1:13 (Lees) Die mense wat Jesus aangeneem het en wat in Hom glo is mense wat uit God gebore is! Natuurlik wys die term “geboorte” dat hierdie hele saak niks te make het met ons eie goedheid, afkoms of prestasie nie. Dis ’n genadige ingrype van die Soewereine God! Dis soos die werking van die wind. Jy kan die wind nie sien of juis verstaan nie, maar jy sien wel die uitwerking van die wind! Die feit dat jy nou glo in Jesus, is die sigbare bewys dat God reeds 'n wonder in jou gedoen het!

Het die beloftes van Esegiël 36 al waar geword vir jou lewe? Kom na Jesus! Vat sy belofte in Johannes 6:37 vir jou persoonlik en juig oor die nuwe begin wat God jou geskenk het! Amen
















































Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.