BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 25 Januarie 2014

DIE LAASTE VYAND

- word finaal verslaan en dit open ‘n opwindende nuwe toekoms!

Die dood is ‘n vyand. Dis wat die Bybel dit noem en dis wat dit is. Al ons mooi praatjies (en soms stroperige sentimentele pogings van “die mooiste blommetjies wat gepluk word”) kan dit nie wegsteek of versag nie. Die werklikheid van die dood as vyand tref ons almal weer opnuut soos nou met die heengaan van...
Die duidelike boodskap van die Woord vandag hier in 1 Korintiërs 15:16-26 (lees) is dat hierdie vyand finaal vernietig gaan word. Ons self as mense het nie juis iets sinvols te sê op ‘n hartseer dag soos hierdie nie, maar God se onfeilbare Woord het wel troos om te bied! Die mens het baie vyande soos sonde, ellendes, siektes, duiwel, ook die dood. Die goeie nuus is dat Jesus Christus deur sý dood en opstanding ‘n verskil kom maak het. Hoe doen Hy dit?

Paulus tref hier ‘n vergelyking tussen Adam en Jesus. (soos ook in Romeine 5) Beide was mense. Belangriker nog - beide se optrede het gevolge vir baie mense na hulle. Die dood het deur Adam gekom en almal van ons na Adam word daardeur geraak. Ons weet dit het gebeur deurdat hy gesondig het en dat ons sy sonde geërf het. Ons word as sondaars gebore, en is daarom aan die dood onderworpe. Adam se sonde raak ons almal negatief.

Maar gelukkig het Jesus, die tweede Adam gekom en deur sy sterwe en opstanding vir ons die ewige lewe gebring. Adam se ongehoorsaamheid bring die dood, maar Jesus se gehoorsaamheid bring vir ons die lewe. Nie vir almal nie,maar die wat aan Hom behoort. Jesus bring die lewe vir almal wat waarlik in Hom as Verlosser glo. Dis die duidelike boodskap van hierdie einste hoofstuk! (1 Kor 15:1-4.)

Jesus is waarlik ‘n Koning wat sy onderdane kom bevry het van alle vyande. Die basiese vyand is die sonde. Die sonde het ‘n houvas op ons. Deur die sonde kan die duiwel ons afpers – kyk wat doen jy, jy is skuldig voor God, jy het sy wette oortree, jy gaan in die hel gestraf word. So word die dood dan ‘n verskrikking. Maar wat doen Jesus? Hy vat ons sonde op Hom. (Dis gelaai op Hom. Sien Jesaja 53:5,6) Toe word Jesus met die dood gestraf, want die sonde verdien die doodstraf. Hy vat die straf in my plek. As ek Jesus aanvaar, hoef ek nie meer straf te vrees nie, my sonde is klaar gestraf. So verloor die dood sy verskrikking. Satan kan my nie meer bangpraat en afpers nie...

Maar Jesus het nie net gesterf nie. Hy het ook liggaamlik histories opgestaan! Sy graf was leeg. Na sy opstanding kon Hy brood en vis eet en sy dissipels kon aan Hom vat! Die opstanding sê vir ons twee dinge : God het Jesus offer aanvaar. Dit was genoeg betaling vir my sondeskuld. Dit gee my sekerheid van verlossing. Maar dis ook ‘n waarborg dat ons liggaamlik gaan opstaan en so gaan die vyand van die dood finaal vernietig word. Dit gee my sekerheid van ‘n nuwe verheerlikte liggaam en volmaakte bestaan! Dis waarop Paulus die klem wil laat val in hierdie hoofstuk.

Paulus wil God se kinders absoluut verseker : Julle wat aan Jesus behoort gaan opstaan met nuwe liggame. Julle Christenskap het nie net nou hier betekenis nie, daar wag ‘n heerlike toekoms hierna. Dis ‘n basiese deel van die geloofswaarhede wat ons glo. ‘n Tipe Christenskap wat nie ‘n verskil maak aan jou siening oor die dood en die lewe hierna nie, is ‘n vals Christenskap. Vers 19. Maak jou Christenskap ‘n verskil aan jou siening oor die dood, skep jou Christenskap ‘n verwagting oor die nuwe bestaan by God? Hierdie positiewe houding het ons reeds al by die Ou Testamentiese gelowiges gekry – soos in Psalm 103 wat ‘n lofpsalm is! "Die mens- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.” (Psalm 103:15-18) Die mens se verganklikheid word treffend uitgebeeld (soos gras wat na ‘n kort rukkie verdor), maar God se onverganklike trou word daarteenoor gestel. Die hoogtepunt van hierdie getrouheid is die getrouheid van Jesus Christus wat ons verlos van sonde, Satan, dood en hel!

Die mens is verganklik, maar God se trou is gelukkig baie groter!

Ons word gekonfronteer met die dood. Dis ‘n goeie dag om myself te vra of ek al persoonlik aan Jesus behoort en hoe dit my siening oor die dood verander het. Sien ek dit nog net as ‘n vreeslike vyand of sien ek dit as ‘n vyand wat deur Jesus verslaan is deur sy opstanding en finaal sal verdwyn as God se kinders met nuwe liggame sal opstaan by Jesus se wederkoms. Op daardie dag sal alles en almal aan God onderwerp en sal God se koninkryk van volkome geluk en harmonie finaal aanbreek.

TROOS EN AANSPORING

Mag die feite oor Jesus se LIGGAAMLIKE opstanding en die LIGGAAMLIKE opstanding van al God se kinders ons troos wees in hierdie dag van hartseer. Mag dit die nie-kinders van God aanspoor tot bekering!


Die aakligheid van die dood raak die hele skepping...


maar die kinders van God weet die graf is nie die einde nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.