BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 14 Desember 2011

NUWE BEGIN IN DIE BEGRAAFPLAAS Deel 3

VERANDERING IN ‘N VLAKTE VOL GERAAMTES!   ESEGIËL 37:1-14

Wat ’n neerdrukkende depressiewe toneel! ’n Hele vallei vol lewelose nuttelose dor bene! ’n Vlakte vol geraamtes! Daar was baie bene en hulle was baie droog. Geen sprankie van lewe nie. Geen hoop nie! Wat hierdie toneel nog erger maak is die hartseer feit van wie se bene hier op die vlakte gesaai lê! Dis die bene van die verbondsvolk Israel! Die mense wat die wet gehad het, elke week in die tempel was...beleef het hoe God hulle uit Egipte verlos het. Israel die geliefde en uitverkore volk van God! Israel wat die draers van God se Naam en God se liefde in die wêreld moes wees! Hulle moes ’n magtige leërmag vir God se Koninkryk wees, maar nou is hulle dood, net ’n klomp nuttelose bene! ’n Vreeslike skande! ’n Hartseer tragedie! ’n Skrikwekkende verleentheid!


Die volk Israel het in hierdie tragiese toestand verval, maar dis ook wat met ’n Christelike gemeente of denominasie kan gebeur. (Byv. die gemeente van Sardis - vgl. Openb 3:1) Baie is wel lidmate, gedoop, aangeneem, woon selfs eredienste by, doen ’n klomp pligte... maar daar is geen lewe, geen vreugde, geen nut vir God se Koninkryk nie! Geen gebedsywer, geen honger na God se Woord ... Maar moenie dat ons na ander kyk nie, vra eerder : Is ek ’n lewende soldaat vir Jesus?


’n Vallei vol doodsbeendere! Dit lyk na ’n verlore hopelose saak. Wie kan iets hieraan verander? Hier het ons met ’n menslik onmoontlike uitdaging te make. Esegiël besef ook baie duidelik dat geen menslike plan of poging aan hierdie situasie iets kan verander nie. (Vers 3) Esegiël besef egter wel dat net God iets aan die probleem kan doen. Vir God is niks onmoontlik nie! God maak ’n nuwe begin in ’n begraafplaas! ’n Nuwe begin met ’n hoop dor bene! Dit wat by mense onmoontlik is is vir God moontlik! Spesifiek en veral waar dit gaan oor die redding van mense, die lewendmaak van geestelike dooies! (Vgl. Matteus 19:25,26 en ook Efesiërs 2:1,5!)


Wonderlik! God self gaan iets aan hierdie toestand doen. Hy gebruik egter vir Esegiël as instrument. Esegiël kry die opdrag om oor die dor bene te profeteer. Profeteer beteken hier baie duidelik nie om ’n toekomsvoorspelling te maak nie, maar om aan die droë bene die Woord van die Here te verkondig. (Vers 4)

God gaan ’n verandering bring,
maar die middel wat Hy gebruik is
die verkondiging van die Woord!


Dit moes vir Esegiël na ’n belaglike en onmoontlike opdrag gelyk het, dooie bene kan mos nie hoor nie! Maar dis God se manier van werk al lyk dit vir ons onlogies. God gebruik sy Woord om dooie koue harte weer lewendig te maak. Dis waarom prediking van die Woord so belangrik is! Die Woord is die saad wat tot die wedergeboorte lei. ( 1Petr 1:23)
As Esegiël die Woord begin verkondig gebeur daar ’n wonder, daar kom beweging, daar kom verandering! (Vers 7)

Maar nou kom daar nog ’n belangrike saak na vore. Die onmisbare rol van die Gees van God. Sonder die Gees van God is geen lewe moontlik nie! (Vers 14) Dis ’n baie belangrike waarheid om te verstaan :


Woord en Gees gaan saam!


Die Woord moet verkondig word in die krag van die Heilige Gees. (Kyk gerus na 1 Tess 1:5 - dis so belangrik) Die Gees van God moet harte lewend en ontvanklik maak vir die Woord. Die Gees oortuig van sonde en oordeel en die heerlikheid van Jesus! Sonder die bo-natuurlike werk van die Heilige Gees sal die prediking niks baat nie.


Die heerlike waarheid van Pinkster is dat die Heilige Gees reeds uitgestort is! Die Heilige Gees is aan die kerk gegee. Die Gees is geskenk vanuit die hemel. Tog speel die Heilige Gees prakties in baie mense se lewe geen rol nie. Ons sien dikwels so min van die Gees se werk in ons kerke. Hoekom? Die Heilige Gees werk in die lewens van mense wat bid. Wanneer Christen biddend is vul die Gees ons opnuut. Ons Vader wil dit graag doen, vir elkeen wat vra. (Lukas 11:13)


Die wonder gebeur! (Vers 10) Die belofte van nuwe lewe wat ons reeds in Esegiël 36 gevind het, se wye implikasies word in Esegiël 37 geïllustreer! God maak deur sy Woord en Gees ‘n hele begraafplaas lewend en omskep dit in ’n leërmag tot sy eer!

Wat is die gevolg as God ingryp en doodsbeendere lewend word? (Ja, onthou net, dis absoluut God self wat dit doen. Sien vers 14) Mense sal besef dat God waarlik God is! God se Naam sal geëer word. “Dan sal julle besef dat ek die Here is” (vers 13, 14) God is dan nie meer ’n teorie nie maar ’n werklikheid. As God dor en stukkende menselewens deur Sy Woord en Gees verander word sy Naam geëer!


Wat beteken hierdie waarhede prakties vir ons as gemeente op Tsumeb, vir die NG Kerk as geheel, vir die kerk van Jesus in die algemeen?

1. Ons moet erns maak met die Woord, en elke geleentheid wat ons het, gebruik om na die Woord te luister en ons moet ’n verwagting hê dat God verandering kan bewerk deur die Woord. Vir God is daar nie hopelose gevalle nie!

2. Ons moet erns maak met gebed, spesifiek gebed vir die werking van die Gees! Bid vir die prediking, pleit by God om harte aan te raak deur Sy Gees. Raak ontslae van dinge in jou lewe wat die Heilige Gees blokkeer en bedroef.

3. Ons moet nie ons hoop plaas op allerhande nuwighede en foefies nie. Toegewings aan die tydsgees (kompromie met euwels soos saamwonery) en ’n geheul met dwaalleringe (soos die ontkenning van die Satan se bestaan of die huiwering om Christus se liggaamlik historiese opstanding te bely) sal nie die kerk se heiligheid en geloofwaardigheid herstel nie! Wat die kerk nodig het is ’n suiwer verkondiging van die Woord in die krag van die Heilige Gees! Amen



Wil jy nie hieraan begin meewerk nie? Bid vir die verkondigers van die Woord! (ek hoor graag van jou in hierdie verband)




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.