het "selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie."
Ek plaas die jongste skrywe vanaf die Namibiese moderamen hier onder:*
Van die
moderamen, verkose
voorgangers in die Namibiese kerkverband, aan die gemeentes van God in
Namibië, wat in Christus Jesus geheilig is – geroepe heiliges: Genade en
vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Op 29 Oktober 2015 het ons in Windhoek vergader
te midde van ernstige woelinge en dreigende skeuringe binne die NG-kerkverband
dwarsdeur Suider-Afrika. Ons is daar deur Paulus se gebed vir die Romeine
getroos en wil daarom ook hierdie troos aan julle deurgee daar waar julle is: Mag
die God van volharding en bemoediging gee dat julle onder mekaar eensgesind sal
wees, soos Christus Jesus dit wil hê, sodat julle eenparig, ja, uit een mond,
aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. (Rom
15:5,6)
Ons skryf na aanleiding van die omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudinge
en antwoord graag op vrae wat ons gehoor het.
1. Wat is die status
van die Algemene Sinode se besluit in Namibië? Hoekom het ons eers gehoor net
een punt is nie van toepassing nie, maar later die hele besluit is nie van
toepassing hier nie?
Die besluit
is in sy geheel nie hier te lande van toepassing nie omdat die Algemene Sinode
dit (op voorstel van twee Namibiese afgevaardigdes) so besluit het.
Ongelukkig het die Algemene Sinode aanvanklik
’n foutiewe formulering van die besluit vrygestel. Daarin is gesê dat net die
punt wat handel oor die burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde
geslag nie op Namibië van toepassing is nie. Toe die Namibiërs in die land
teruggekom het na die sinode, het ds. Hendrik van Zyl dadelik op die fout gewys
en hom daarvoor beywer om die korrekte formulering te kry.
Ons vra verskoning vir hierdie geharwar!
2. Hoekom lyk dit of
die moderatuur se verklaring van 21 Oktober mense etiketteer en in kampe jaag?
Uit
verskeie oorde het ons gehoor dat ’n deel van die moderatuur se verklaring van
21 Oktober ongelukkigheid tot gevolg gehad het. Veral die laaste vergelyking in
par 2 van die moderatuur se verklaring, nl. “...en hoe hulle God ken en oor
Hom dink (bv. ’n veroordelende God wat sondes
straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en
barmhartig is)” het aanstoot gegee. (Kliek op FELDMUIS vir my reaksie op hierdie stelling)
Ons erken dat die moderatuur se verklaring
vatbaar was vir misverstand en vra onvoorwaardelik verskoning hiervoor. (Dankie!) Die bedoeling van die verklaring was om lidmate op die kontinuum tussen die ekstreme
van die debatslyn te erken en nie om ’n verdeling te bewerk nie.
3. Die Algemene Sinode
se besluit oor selfdegeslagverhoudings geld nie hier nie. Waar staan ons dan
nou in Namibië?
Ons het,
benewens die feit dat die besluit nie hier van toepassing is nie, selfstandig
geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie. Ons
kies tans om met die besluit wat die Namibiese sinode in 2006 geneem het, die
2007-besluit van die Algemene Sinode sowel as die 2013-besluit van die Algemene
Sinode te volstaan.
Ons onderneem egter om die gesprek oor hierdie
sensitiewe saak voort te sit met die oog op standpuntinname tydens die
Sinodevergadering in Maart 2016.
Teen hierdie agtergrond versoek ons beleef dat
julle in die gemeente in nederige afhanklikheid voor die Here met die gesprek
moet voortgaan. Dit
gaan krities belangrik wees vir julle afgevaardigdes na die sinode volgende
jaar.
Ons wil graag 5 bronne voorstel wat julle in
hierdie gesprek kan gebruik as riglyne:
· Namibië se besluit oor
homoseksualiteit van 2006 – ons plak dit hier onder in;
· Die Algemene Sinode se 2007- en
2013-besluite – ook dit is hier onder ingeplak;
· ’n Studiestuk oor
selfdegeslagverhoudings wat deur dr. Chris van Wyk (van die Oos-Kaap) opgestel
is. Dit word as aanhangsel by hierdie epos aangeheg.
· Die storie van die NG Kerk se reis
met selfdegeslagverhoudings wat op die internet beskikbaar is by http://atlas.bybelmedia.org.za.
Liewe
Geloofsgenote, onthou: ons is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom,
’n heilige nasie, ’n volk wat aan God behoort. Só tipeer Petrus die gelowiges
in die diaspora (verstrooiing – 1 Pet. 2:9). Ons diepste anker lê daarin dat
ons in Christus God se geliefde seuns en dogters is in wie Hy Hom verbly. Mag
hierdie anker sterk genoeg wees om ons deur hierdie turbulente tyd in ons
geskiedenis te dra!
Die genade
van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die
Heilige Gees bly met julle almal!
Di Pine
Pienaar, Johannes Maritz, Hendrik van Zyl, Evert Strydom, Gerhard Liebenberg,
Clem Marais, drr. André Olivier, Fourie vd Berg.
Oudll
Fouché Brand, Recht vd Westhuizen, Jacques Coetzer, Pieter vd Westhuizen, Fanie
Badenhorst.
LEDE VAN DIE MODERAMEN TEENWOORDIG OP DIE VERGADERING VAN 29 OKTOBER
2015
Die Namibiese sinode se 2006-besluit oor homoseksualiteit:
1. Die kerk besef en
erken dat daar in die Bybel eksplisiete vermelding is van ‘n verskeidenheid van
seksuele optredes wat afwyk van en in teenstelling is tot die oorspronklike
bedoeling van God met seksualiteit. Praktyke en optredes soos buite-egtelike
geslagsverkeer, bloedskande, verkragting, egbreuk/huweliksontrou, prostitusie
en egskeidings word onomwonde in die Bybel vermeld. Vreemd genoeg word hierdie
optredes nie elkeen op presies dieselfde wyse in die Bybel beoordeel en/of
afgewys nie. Die twee seksuele optredes wat in die Bybel op die skerpste wyse
veroordeel word, is prostitusie en homoseksuele gedrag.
2. Dat die sondige
natuur van die mens se verwording en verval uiteraard ook (‘n mens wil byna sê,
veral) in dade en optredes van seksuele aard na vore kom, maak nie die
goddelike gegewe van menslike seksualiteit as sodanig sondig nie.
Eerder besef die kerk dat dit wat die Bybel vir ons oor die aard en
gevolge van sonde leer, met konsekwente erns ook op praktyke wat in
teenstelling tot die bedoeling van God met seksualiteit gepleeg word, van
toepassing is. Sonde vernietig die mens se lewenspotensiaal en lei tot die
ewige geestelike dood. Om met die gawe van ons seksualiteit om te gaan en dit
uit te leef op ander maniere as wat God self daarvoor gewil het, is soos wat
dit trouens die geval is met die ondoelmatige uitlewing van enige ander gawe
wat die Skepper aan die mens toevertrou het, sonde in die oë van die Here.
3. Die opvallende is dat
nêrens in die Bybel eksplisiet inhoudelik berig word omtrent spesifieke dade en
optredes van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Daar word slegs op indirekte
wyse na sodanige optredes verwys of oor die neiging daartoe gepraat en dan wel
in ernstige veroordelende taal en bedoeling.
4. Op grond en na
aanleiding van deeglike eksegetiese ondersoek en begronding is dit op geen
manier vir die kerk in haar lesing en interpretasie van die Bybel moontlik om
homoseksuele dade en praktyke van geslagsgemeenskap te aanvaar en te regverdig
as dit ook binne die oorspronklike bedoeling van God met menslike seksualiteit
verstaan en gehandhaaf kan word nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God
se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.
5. Die kerk kan nie
anders nie as om die bestaande werklikheid van mense met ‘n homoseksuele
oriëntasie te erken nie. Sommige navorsing vanuit die menswetenskappe wys onder
meer daarop dat ‘n mens se seksuele oriëntasie, hetsy heteroseksueel of
homoseksueel, so wesenlik deel is van die mens se identiteit en selfbewussyn
dat dit net so min kan verander, ontgroei of afgelê kan word as wat ‘n mens se
ras of geslag deur psigiese prosedures kan verander. Net soos wat daar baie
ander werklikhede in die skepping is wat ons nie kan verklaar nie, kan ons ook
nie ten spyte van baie navorsing en studie, afdoende verklaar of verstaan
hoekom dit is dat sommige mense se konstitusie so is nie. Die kerk getuig dat
die Bybel in geen taal praat of leer oor die onverstaanbare werklikheid van
hierdie soort oriëntasie by ‘n klein persentasie mense nie. In die Bybel word
slegs deurlopend verwys na en gepraat oor die neiging tot die praktyk van
homoseksuele geslagsgemeenskap tussen merendeels mans en soms ook vroue. Ons
besef en aanvaar dat mense met sodanige natuurlike oriëntasie nie bloot
afwykende, immorele of sondige keuses maak om op so ‘n manier te wees nie.
6. Deur die erkenning
van die werklikheid van ‘n menslik-onverklaarbare homoseksuele oriëntasie
by sommige mense aanvaar die kerk die verantwoordelikheid om hierdie
mense met ‘n pastorale gesindheid van sensitiwiteit en begrip te aanvaar en
respekvol te behandel as ewemense voor die aangesig van die lewende God wat
hulle geskep het. Mag die Gees van Christus sy gemeente tog daarvan bewaar om
in ‘n gesindheid en houding van onverdraagsaamheid en geestelike hoogmoed
veroordelend en verkleinerend teenoor enige mens van God se liefde op enige
wyse te dink of op te tree. Waar sodanige gedrag of houding in die verlede of
tans nog deur lede van die kerk teenoor mense van homoseksuele oriëntasie
uitgeleef is, het die kerk skromelik in haar roeping tot genadige liefdesdiens
in die Naam van Christus gefaal.
7. Die kerk aanvaar en
eerbiedig ook in goeie trou mense met ‘n homoseksuele oriëntasie se opregte
belydenis van hulle egte saligmakende geloof in God Drie-enig as ‘n geloof wat
alleen berus op die genadige soenverdienste van Jesus Christus, ons Here.
8. In sy etiese lering
handhaaf die kerk dat die Bybel duidelik is oor die goddelike gegewe van
menslike seksualiteit. Ons verstaan dat seksualiteit primêr deur God geskep en
bedoel is om die menslike geslag te laat voortplant en te
vermeerder binne die raamwerk en ruimte van gesinne gegrond op ‘n
onverbreekbare egverbintenis en trouverbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat mekaar
liefhet. Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die belewing
en beoefening van sy / haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van
die gebrokenheid en verval van die skepping, met die hulp van die Gees van
Christus tog daarna streef om te probeer voldoen aan die bedoeling en wil
van God self. Immers deur die eeue heen het die kerk getuig dat die goddelik-bedoelde
beoefening en uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou,
die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees
lewensvervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring.
9. Wanneer die kerk dus
‘n pastorale gesindheid en optrede van aanvaarding teenoor mense van
homoseksuele oriëntasie handhaaf, kan die kerk nie anders nie as om hierdie
mense te versoek om die verantwoordelikheid van die selibate lewe te aanvaar en
hulle te weerhou van dade en praktyke van homoseksuele geslagsgemeenskap nie.
Dit is nie die geval omdat die kerk daarmee in eie reg en terwille van
selfhandhawing so kies nie, maar omdat die kerk gewoon nie anders kan nie as om
te probeer om, sovêr dit binne haar begrip en vermoë is, getrou te bly aan haar
verstaan van God se oorspronklike bedoeling met menslike seksualiteit soos die
Bybel daaroor praat.
10. Daar is geen manier waarop die
kerk lidmate van ‘n homoseksuele oriëntasie wat selibaat leef, wil verhinder of
belemmer in die uitleef van hulle diens aan die Here nie. Daarom aanvaar
die Kerk dat hulle net so geskik en bekwaam is soos enige ander lidmaat om
ampte in die gemeente te beklee. Die lewe van selibaat wat die kerk van
lidmate en medegelowiges van homoseksuele oriëntasie verwag, is dus nie bedoel
om hulle te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie. Eerder word dit
gebore uit ‘n eerlike en opregte poging om in ons menslike swakheid, niks
anders te wil wees of na te streef as om Christus, ons Here, te ken en aan Hom
gehoorsaam te wees uit dankbaarheid vir Sy onverdiende en onbegryplike genade
in ons lewe nie.
Die Algemene Sinode se 2007-besluit oor homoseksualiteit:
1. Die Bybel is ons uitgangspunt
en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die
Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van
Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die
geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die
verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle
gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle
seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van
hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder
lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en
onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode
herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs
die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig
ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit
ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit
dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as
‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van
predikantsbevoegdheid is ‘n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit
dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ‘n selibate lewenstyl beoefen tot die
predikantsamp toegelaat word.
8. Die Algemene Sinode erken die
diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in
die gees van Christelike liefde te hanteer.
Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte insake
homoseksualiteit as 'n eenheid aan die Algemene Sinode gestel is en dat hierdie
besluit as 'n eenheid gelees en verstaan moet word.
Die Algemene Sinode se 2013-besluit oor homoseksualiteit:
Die
Algemene Sinode
1
bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ʼn deeglike
eksegetiese en teologiese studie;
2 gee
opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit
ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die
Skrif en Gereformeerde tradisie;
3
besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die
bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet
voldoen met die oog op legitimasie;
4
verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen
van Menswaardigheid.
*Die feit dat ek hierdie volle verklaring so plaas beteken nie noodwendig dat ek als persoonlik daarin onderskryf nie. Dit is wel positief in die sin dat die moderamen duidelik nie die AS 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings onderskryf nie! Dit beteken volgens my beskeie interpretasie dat praktiserende homseksuele predikante nie in Namibië bevestig mag word nie! Hierdie saak se ontwikkeling in Namibië laat mens natuurlik met baie vrae, soos oor die rol en die integriteit van die Algemene Sinode. Byvoorbeeld, wat is die standaard van notulering van so 'n belangrike kerkvergadering soos die AS, hoe kan die AS dan nou verskillende legitimasie vereistes voorstaan binne dieselfde kerkverband? 'n Mens wonder ook oor hoekom sommige moderatuurslede van die Namibiese sinode die AS besluit in die openbaar so naarstigtelik verdedig het?
Ek kan nie help om hier te dink aan wat Dr Willie Marais geskryf het oor skeuring in die kerk nie – by die lees hiervan reken ek, hy was reg! Hy skryf in sy outobiografie "Man van God gestuur” (in die jaar 2000 uitgegee) verskillende interessante dinge. Onder andere: “EENHEID MOET VERBREEK WORD...” en “ONTSLAE RAAK VAN KONSERWATIEWE ELEMENTE”.
AntwoordVee uitLees meer hier:
http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/961-vrystaat-stem-nee-vir-belhar-2015-03-19.html#bylaag_a
Verdere inligting oor die implikasies van AS2015 se besluite: http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/1066-belhar-n-persoonlike-ervaring.html
AntwoordVee uitKyk ook hierdie brief van dr Pierre Rossouw, 'n vorige Hoof Uitvoerende Amptenaar van die AS, vandag in die Volksblad:
Het AS nog bestaansreg?
(Brief in VB 31 Oktober 2015)
Een van die belangrikste voorwaardes vir die bestaan van die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk is om met inagnemijg van die tweederdes- artikels te sorg vir uniformiteit in die hele kerk se belydenisgrondslag.
Toe die AS hiervan afstand doen en dit delegeer na die sinodes, word die AS ‘n instrument vir pluriformiteit. Hierdie aftakeling van die oprigtingsvoorwaardes het kerkregtelike en pastorale implikasies. Watter bevoegdhede bly oor om sy voortbestaan te regverdig?
Dr P Rossouw
Pretoria.
1. Ek sou graag Dr Pierre Rossouw se vraag ondersteun - "Watter bevoegdhede bly oor om sy voortbestaan te regverdig?"
AntwoordVee uit2. Ek wil graag die Namibiërs ondersteun in hulle afwysing van die on-bybelse
besluite wat daar in die resente verlede geneem is mbt "selfde-geslag huwelike".
3. Graag sou ek wou weet hoe 'n mens dan Romeine 1:26-28 en veral vers 32 moet
eksegetiseer: Vers 32: “Hulle is mense wat die verordeninge van God ken dat dié wat
sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie,
maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”
3. Ek is van mening dat die Algemene Sinode ook dus in die kategorie val van “hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”
Ek vind Rom 16 :18 ook baie gepas: Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.
Vee uit1. Ek sou graag Dr Pierre Rossouw se vraag ondersteun - "Watter bevoegdhede bly oor om sy voortbestaan te regverdig?"
AntwoordVee uit2. Ek wil graag die Namibiërs ondersteun in hulle afwysing van die on-bybelse
besluite wat daar in die resente verlede geneem is mbt "selfde-geslag huwelike".
3. Graag sou ek wou weet hoe 'n mens dan Romeine 1:26-28 en veral vers 32 moet
eksegetiseer: Vers 32: “Hulle is mense wat die verordeninge van God ken dat dié wat
sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie,
maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”
3. Ek is van mening dat die Algemene Sinode ook dus in die kategorie val van “hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”