BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 12 Desember 2011

NUWE BEGIN IN DIE BEGRAAFPLAAS! Deel 1

Lees  eers Esegiël 36:24-38

Sien raak die groot waarheid : God is ’n God van ’n nuwe begin! Omdat Hy God is kan Hy dit op die onmoontlikste plekke met die onmoontlikste mense doen! God maak ’n nuwe begin in die begraafplaas! ’n Nuwe begin met ’n klomp bene! (dit sien ons later in hoofstuk 37) Hoor dit! Dis ’n feit! Hoor dit elkeen wat weggedwaal het, wat ’n gemors van jou lewe gemaak het, wat kosbare kanse laat verbygaan het, wat die Here se naam in die skande gesteek het, wat geteister word deur die mislukkings van die verlede... Hoor dit elke sondaar!

 God is die God van ’n nuwe begin!

Esegiël 36 stel dit so duidelik : God maak ’n nuwe begin met mislukte sondaars! Ons weet : Israel was God se uitverkore volk! Hulle het die wonder beleef van die Uittog, hulle was bevoorreg in elke opsig. Hulle het die Wet geken, die Tempel besoek, Priesters gehad en Offers gebring. En tog : Israel het boos en sleg geleef en God se Naam oneer aangedoen. (21) Dit bewys maar net weer : Uiterlike godsdienstigheid kan nie die mens se bose hart genees nie! Ten spyte van al hulle godsdiens, roemryke geskiedenis, al hulle voorregte, was hulle net so sleg en nog erger as die goddelose mense rondom hulle. Daarom straf God hulle, deur hulle te laat wegvoer in ballingskap. Deur hulle optrede het hulle God se Naam in die skande gebring. Die omringende heidense volke sou kon sê :  "Julle sê, julle het ’n heilige sterke God, maar kyk wat doen julle, kyk nou is julle verslaan en weggevoer na ’n vreemde land - waar is julle sterk God nou?”

Dink mooi : Wie doen die grootste skade aan God se naam op in hierdie wêreld ? Ja, jy is reg.... godsdienstige mense, mense op die lidmaatregister... kerkmense wat leef soos heidene!

Wat 'n tragiese skandelike toestand! Dit lyk asof God se plan met sy volk klaaglik misluk het.
Maar nou : Wonderlike nuus! God gaan nie alles net so los nie. Hy sê, Hy gaan ’n nuwe begin maak met die mislukte volk Israel. LW - God self gaan iets doen. Kyk die klem op EK! (Lees weer vers 24-27 hardop vir jouself)

Gód gaan ingryp!

Dis die mens se enigste hoop - as God ingryp en iets doen aan ons sonde en ellende. Dis wat ons ook so nodig het om te besef - as ons kyk na die afval en die verdorwenheid.... Geen menslik projek kan iets daaraan doen nie. Geen dreigemente of mooi praatjies kan die goddeloosheid keer nie. Geen aardse wette of reëls kan gesindhede (attitudes) en harte verander nie. Net God kan iets in jou lewe doen, in die lewe van jou eggenoot, in jou kinders...

Ons kan staatmaak op God se beloftes - Hy doen wat Hy sê! Kyk hoe kragtig stel vers 36 “Ek die Here sê dit en Ek sal dit doen.”

Net gou ’n belangrike vraag. Hoekom gaan God ingryp? Omdat Israel so belangrik of oulik is? Nee! Ter wille van die eer van sy eie Naam! (Terloops : Valse teologie sê altyd : Jy is so belangrik! Bybelse teologie sê : God se Naam is belangrik) God se doel is om die respek vir Sy Naam onder die oë van die volke te herstel. Vers 22-23 (Lees) God bring redding na sy volk nie omdat hulle dit verdien nie, maar ter wille van die eer van Sy heilige Naam. Onthou dit maar - as God ons genadig was -is dit nie omdat ek en jy so oulik was of beter as ander nie, maar om Sy Naam ontwil!
Soli Deo Gloria!

God maak ’n heerlike belofte oor wat Hy gaan doen: (dit behels basies drie dinge)

~ Hy gaan rein water oor hulle uitgiet. Hy gaan dus vergifnis skenk en hulle straf ophef (25)

~ Hy gaan vir hulle nuwe harte gee. Hy gaan sy Gees in hulle gee sodat hulle ’n nuwe begeerte sal hê om God se wil te doen en ook instaat sal wees om sy wil uit te voer. (26,27)

~ Hy gaan hulle seën, met ander woorde sy goedheid en sy liefde oor hulle uitstort. (33-35)

Hierdie beloftes van God het voorlopig in vervulling gegaan met die terugkeer uit Ballingskap uit Babel. Dit het dus konkreet waar geword in die geskiedenis! Maar daar sou nog iets beters kom!

Met Jesus se koms en werk het al drie elemente van hierdie belofte in volle vervulling gegaan:

~ Reiniging : Jesus bewerk vergifnis en hef ons straf op (sy werk aan die kruis bring reiniging) Prakties: Jou skuld en die skande van die verlede word finaal en volkome uitgewis. Jy is nou rein in God se oë!

~ Nuwe hart deur die Gees : Jesus gee die Heilige Gees aan elkeen wat Hom aanvaar - 'n nuwe hart met nuwe begeertes. Prakties beteken dit : Jy kry ’n Hart wat getrou wil bly aan jou huweliksmaat, ’n hart wat eerlik wil wees, ’n hart wat God se gebooie wil en kan uitvoer...! Kyk weer vers 27!

~ Seën : In Jesus kry ons deel aan al die seëninge wat God vir ons beloof het. (Nou reeds, maar veral ook eendag by sy wederkoms)

In beginsel het hierdie beloftes waar geword, maar wat is die situasie in jou persoonlike lewe? Het jy Jesus al aanvaar en so hierdie beloofde reiniging, nuwe hart en ewige seën ontvang?

God is die God van ’n nuwe begin! Ook ’n nuwe begin in jou lewe! Vertrou Hom daarvoor. Kom na Jesus, die Verlosser en Middelaar. Deur Hom sal God sy beloftes in jou lewe waar te maak! Amen
 
(volgende keer, meer hieroor)




















































Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.