BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 Desember 2011

WAS DIT REGTIG GOD SE WIL?

WAT VAN DAARDIE ONREGVERDIGE TRAGEDIE?

Ons ken almal die veelbewoë geskiedenis van Josef... die drome... die jaloesie van sy broers... sy verkoop as slaaf... sy onregverdige gevangeskap... sy verlossing uit die tronk... sy uiteindelike opgang tot onderkoning van Egipte! Hier aan die einde van Genesis, gee hy ‘n verhelderende perspektief op al die gebeure as hy (na Jakob se dood) met sy broers praat om hulle vrese vir vergelding te besweer. Lees Genesis 50:18-21
 

Is alles wat gebeur God se wil?

Weereens : Was dit God se wil dat die dronk man die kind doodry? Die antwoord is Nee, maar die antwoord is ook JA.

Om dit te probeer verstaan moet ons onderskeid maak tussen God se geopenbaarde morele wil en God se verborge ewige Raadswil. (Natuurlik is dit so ‘n diep saak, al ons vrae word nie geantwoord nie, maar hierdie onderskeid kan tog baie nuttig wees. Natuurlik is God oneindig bo ons denkvermoë verhewe... dit moet ons altyd besef)

God se geopenbaarde morele wil is dit wat Hy duidelik in Sy Woord sê, wat reg en verkeerd is. Dis tog duidelik waarvan God hou en waarvan Hy nie hou nie. Daarom kan ons sê dat die dronk man wat die kind doodry nie God se wil is nie. God is duidelik teen dronkenskap, God is ook duidelik daarteen dat ons ander mense leed aandoen. Dis sonde en God is altyd teen sonde. Sonde is nie God se wil nie. Daarom, NEE dis nie God se wil dat ‘n dronk man ‘n kind doodry nie!

Kom ons vra dit weer : Was dit God se wil dat die dronkman die kind doodry? JA, want niks kan op hierdie aarde gebeur sonder sy verborge ewige Raadswil nie. God se ewige Raadswil is dit wat Hy van ewig af bepaal het, sy finale doel met die wêreld en die geskiedenis, die heerlike einddoel van alles, ook sy doel met jou en my. Dis God se volmaakte meesterplan, wat daarop sal uitloop dat God volmaak geëer sal word! Alles werk daartoe mee. Dit kom daarop neer dat God so groot en almagtig is, dat Hy selfs dinge wat teen sy morele wil is kan gebruik om sy uiteindelike raadswil se doelwitte te bereik. Daaom moet ons sê dat ook die tragiese gebeurtenis van die kind wat doodgery word (al sê mens dit met groot sensitiwiteit en deernis) inpas by God se volmaakte Raadsplan, al verstaan ons nou glad nie wat die sin daarvan kan wees nie.

Miskien klink die ingewikkeld en teoreties. Kom ons kyk hoe hierdie beginsel prakties in die geskiedenis van Josef geïllustreer word:

Josef word deur sy jaloerse broers verkoop as slaaf en beland in die grootste ellende in Egipte. Sy broers het dus gesondig. Hulle doen iets wat nie God se wil is nie. Hulle het duidelik God se wil van liefde oortree en verbreek! Josef se broers het gesondig en hulle is self verantwoordelik vir hulle sonde. Tog is God so groot dat Hy die sondige broers se wandade gebruik om sy raadswil uit te voer en die volk van Israel van ‘n hongerdood te red. Dis duidelik uit Josef se woorde in Genesis 50:20 dat God ‘n goeie plan gehad het, al was dit die broers se bedoeling om Josef kwaad aan te doen.

Was Josef se swaarkry in dan nou Egipte God se wil of nie?
NEE, dis teen God se wil wat tog duidelik bepaal dat jy nie jou broer mag kwaad aandoen nie.
Maar...JA, dit was baie beslis deel van God se heerlike raadsplan om sy volk Israel te bewaar, sodat Jesus later uit hulle gebore kon word!

Hierdie beginsel dat God slegte dinge wat teen sy geopenbaarde morele wil is kan gebruik om sy ewige heerlike raadsplanne uit te voer kry ons die duidelikste in Jesus se lewe! Luister na die woorde van Petrus op Pinksterdag in Handelinge 2:22,23! (Lees) Jesus word deur sy eie volk se mense onskuldig gevang en oorgelewer om gekruisig te word. Hierdie mense verbreek dus ongetwyfeld God se wil van liefde en eerlikheid en regverdigheid. Tog lees ons baie duidelik dis God wat Jesus oorgelewer het! God het dit VOORAF so besluit en bepaal! Dit was van ewigheid af God se plan en bedoeling om juis die wêreld so te red!

God gebruik die goddelose en onregverdige leiers
om sy ewige Raadsplan uit te voer.

Was Jesus se onskuldige oorlewering deur sondige mense dan nou God se wil of nie?
NEE, dis teen God se morele wil om ‘n onskuldige mens dood te maak! (en terloops, Jesus was die enigste volkome onskuldige mens wat ooit op aarde was!)
JA, dit was van ewig af God se wil dat Jesus onskuldig moes sterf sodat ons gered kon word!

Alles wat gebeur is dus nie volgens God se geopenbaarde morele wil nie! Alles wat gebeur val wel binne God se Raadswil en uiteindelike bedoeling!

God is so groot, niks kan sy finale doelwitte dwarsboom of sy ewige planne in die wiele ry nie. Daar gebeur wel baie dinge wat teen sy morele wil is - baie sonde, onregverdigheid ens., maar Hy is so groot dat Hy juis ook daardie dinge kan inspan om uitvoering aan sy ewige dekrete en raadsplanne te gee.

Ook al tree mense goddeloos op, word hulle uiteindelik ingespan
 om God te eer! 

Die Here het alles gemaak met ‘n doel , ook die goddelose vir die dag van straf! (Spreuke 16:4) God sal alles laat uitwerk tot Sy eer, ook die goddeloses wat sy genade verwerp sal God eer deurdat God sy grootheid laat blyk as Hy hulle straf in die hel!

Hierdie beginsel raak ons prakties op twee maniere :
Ons is verantwoordelik vir ons dade. Ons kan kies om God se geopenbaarde wil te gehoorsaam of nie. Dit het gevolge..... As ek dronk bestuur, kan dit vreeslike gevolge hê! Ons keuses is werklike keuses waarvoor ons verantwoording sal moet doen!
Aan die anderkant kan ons die versekering hê - selfs al gebeur daar hoeveel slegte en hartseer dinge, selfs al gebeur daar hoeveel onverstaanbare dinge - God sal al sy ewige planne uitvoer!  Ons kan bly wees dat ons so ‘n groot  volmaak soewereine God het.

God se hand is agter alles.

God maak nooit ‘n fout met sy beplanning nie. Al God se Raadsplanne sal tot op die laaste letter, komma en punt uitgevoer word. So sal God al die eer kry wat Hom toekom.
Ons het ’n wonderlike God wat ten volle in beheer is van die geskiedenis en als sal laat gebeur volgens sy volmaakte Raadswil en Meesterplan. Dit vat egter nooit ons verantwoordelikheid weg nie! En wat is ons grootste verantwoordelikheid? Wat is ons belangrikste keuse? My vriend, dis om Sy Seun Jesus Christus as ons Heer en Verlosser te aanvaar en Hom in gehoorsaamheid te dien! AMEN

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.