BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 06 Februarie 2012

DIE BOK WAT 'N LEEU WOU WORD



Ek deel graag met jou ‘n “diep” storie wat ek gehoor het...


DIE DOM BOK

In die wye wêreld van die Kalahari was daar ‘n gemsbok wat anders en diep gedink het. Hy het die begeerte gehad om ‘n leeu te word. “Wat ‘n wonderlike vooruitsig om ’n sterk en waardige dier soos ’n leeu te wees”, het hy by homself geredeneer. “Leeus is mos darem immers baie beter en mooier as gemsbokke. Hulle is die konings van die Kalahari!”. Toe besluit die bok baie ernstig : “Ek gaan nou ’n leeu word. Ek gaan myself in ’n leeu verander.”

Hy gaan dadelik oor tot aksie. Stap een was om weg te kruip in die digte bos vanwaar hy die leeus noukeurig kon dophou. Die eerste ding wat hy opmerk is dat leeus vleis eet. Bok laat nie op hom wag nie en oefen elke dag hard om vleis te eet net soos ’n leeu. En ja, sowaar, uiteindelik kry hy dit reg. Van toe af eet hy nie meer gras soos enige ordentlike gemsbok nie, maar net vleis. Bok, baie tevrede met homself gaan loer toe weer die leeus af. Hy hoor hulle brul so pragtig. Weer gaan die bok en oefen elke dag hard om soos ’n leeu te brul. Na ‘n lang gesukkel en met baie deursettingsvermoë kry hy dit reg. Fantasies! Hy brul soos ’n regte leeu. Nog ‘n keer gaan kyk die bok na die leeus. Hy sien toe ook hoe hulle ander diere bekruip. Die bok probeer weer baie hard en na harde oefening kry hy dit reg om net soos leeus te bekruip.

Bok is nou baie bly. Hy sê vir homself : “Ek eet vleis soos ’n leeu, ek brul soos ’n leeu, ek kan bekruip soos ’n leeu. Wel, dan is ek mos nou ’n leeu!” Ja, kan jy dit glo, hierdie bok het nou gedink hy is ’n leeu. Hy soek toe weer die leeus op, vind hulle en kondig vol selfvertroue aan: “Kyk, hier ek is ’n leeu, ek wil saam met julle bly...” Nou ja, jy kan seker dink wat het verder gebeur......daardie gemsbok loop nie meer oor die duine nie...

Jy sien hierdie bok was so dom om te dink dat as hy die leeus maar net ‘n bietjie naboots dan is hy sommer ook ’n leeu. Ons weet natuurlik dit werk nie so nie. Om ‘n leeu te wees, moet jy gebore word as ’n leeu. Geen gemsbok kan homself in ’n leeu verander nie. Wat ’n dwase bok!



PARTY MENSE MAAK DIESELFDE FOUT

Ons lag vir hierdie bok, maar weet jy, daar is baie mense wat dieselfde dwaasheid begaan. Hulle wil graag ’n kind van God word en eendag saam met Jesus in Sy koninkryk wees. Dan probeer hulle hulleself verander om soos Christene te wees. Hulle gaan kerk toe soos Christene, hulle sing soos Christene, hulle lees Bybel soos Christene en hulle praat soos Christene. En weet jy wat, dan dink hulle hulle is nou Christene. Dom nê? Hulle maak presies dieselfde fout as die bok. Hulle dink as jy ’n paar uiterlike dinge verander en bietjie aanpassings maak, dan is jy sommer ’n Christen. Vir sulke mense wag daar ongelukkig ‘n aaklige verrassing op die oordeelsdag!



WEDERGEBOORTE

Weet jy, as jy ’n Christen wil word, moet jy van binne af nuut gemaak word. In die Johannes evangelie hoofstuk 3 kry ons ’n baie belangrike gesprek tussen Jesus en Nikodemus. Kom ons kyk bietjie na hierdie gesprek en lees ‘n paar tekste saam uit die Bybel. Nikodemus was ’n belangrike en geleerde man wat in die nag na Jesus gekom het. Volgens die algemene siening onder die Jode van destyds sou alle Jode in die koninkryk van God toegelaat word, behalwe die wat darem nou regtig erg boos en afvallig geword het. (vandag is daar nog steeds mense wat dink hulle is goed genoeg om die ewige lewe te kry, want hulle dink hulle sondes is darem nie te erg nie) Maar nou vertel Jesus vir hierdie goeie ordentlike Jood dat hy nie in die koninkryk van God kan ingaan as hy nie eers weer gebore word nie. Dit moes seker ‘n groot skok vir hom gewees het. Volgens Jesus moet mens, al dink jy ook jy is ’n goeie mens, eers nuut gemaak, oorgemaak word, voordat jy die koninkryk van die hemel kan ingaan. Luister wat sê Jesus in Johannes 3:3.

“Dít verseker Ek jou : As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

So, deur die woorde “opnuut gebore” te gebruik wil Jesus vir Nikodemus sê dat ‘n mens eers radikaal verander moet word om te kan ingaan in God se koninkryk. Hierdie verandering, hierdie wedergeboorte of nuutmaking is die werk van die Heilige Gees. Dis nie sommer iets wat ‘n mens met eie krag kan regkry nie. Dis nie iets wat net sommer van buite af aangeplak kan word nie. Om wedergebore te word beteken om heeltemal nuut en skoon gemaak te word, om ’n nuwe mens te word. Die uitdrukking “water en Gees” in Joh. 3:5 verwys na die reinigende werking wat die nuwe geboorte teweegbring. God het dit al in die Ou Testament in Esegiël 36:25-27 in die vooruitsig gestel.

“Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”

Let op in hierdie verse word “water en Gees” ook saam genoem. Hierdie vers in Johannes wil dus sê, as God jou verander, kry jy ’n nuwe hart wat graag wil doen wat God in Sy Woord vir ons leer. Jy hou nie meer van die ou slegte dinge nie, dit maak jou hartseer en jy is jammer daaroor.



DIE KOPERSLANG

Nikodemus is verwonderd oor hierdie stelling van Jesus dat mens weer gebore moet word en vra dan hoe dit kan gebeur? (Joh. 3:9) Jesus begin dan verduidelik deur Nikodemus daarop te wys dat Hy wat Jesus is van die hemel af kom. Net Jesus kan dus vir ons die volle waarheid oor God en Sy koninkryk vertel. Ons moet dus na Jesus luister. In vers 14 verduidelik Jesus hoe God se plan vir ons redding werk. Hy gebruik die voorbeeld uit die geskiedenis van die koperslang wat Moses in die woestyn op ‘n paal gesit het. Ons lees daarvan in Numeri 21:4-9. Die koperslang was die manier waardeur God weer lewe geskenk het aan die Israeliete wat sterwend was nadat hulle deur giftige slange gebyt was. Dit was God se plan en oplossing. Hulle moes net na daardie slang kyk, dan het hulle weer gesond geword. God het dus op hierdie manier genade aan hulle bewys en lewe aan hulle gegee. Ons as sondaars is ook sterwend, gepik deur die sonde ons is almal oppad na die hel. God se manier om vir ons lewe te gee is deur Jesus Christus, Sy Seun. Net soos die slang destyds hoog op ‘n paal gesit is, net so sou Jesus hoog aan ‘n kruis opgehang word en sterf vir sondaars. Hy het ons aaklige sondes op Hom gevat en toe het God Hom in ons plek gestraf sodat ons nie meer hoef gestraf te word nie.

In vers 15 kom Jesus by die direkte antwoord op Nikodemus se vraag in vers 9. Hoe word ons nuut gemaak en verander? Ons moet glo in Jesus wat vir ons gesterf het. Ons kry deel aan die koninkryk van God, ons kry die ewige lewe, op grond van die verlossingswerk van Jesus aan die kruis. Ons ontvang dit deur te glo in Hom, persoonlik. In Johannes 1:12-13 lees ons :

 “Maar aan almal wat Hom (Jesus) aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.”

Om weer gebore te word, is dieselfde as om ’n kind van God te word en dis dieselfde as om uit God gebore te word. Die opdrag aan elke sondaar is om Jesus aan te neem, wat dieselfde is as om waarlik in Hom te glo. Die lering wat Jesus in hierdie gesprek vir Nikodemus gee, het Johannes dus alreeds in die inleiding van sy evangelie opgesom.



VERTROU OP JESUS

Soos die Israeliete net na die koperslang gekyk het, en daardeur vertrou het op God se belofte om hulle te genees, so moet ’n sondaar op Jesus vertrou. Deur op Jesus te vertrou kry jy ’n nuwe hart. Geloof in Jesus beteken dat jy God se oplossing vir jou sondeprobleem aanvaar, al maak dit dalk nie alles vir jou sin nie.Deur in Jesus te glo, word jy ’n ontvanger van die ewige lewe. Dis tog wat die bekende Johannes 3:16 so mooi sê : “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”


Die groot saak wat ek wil hê jy moet verstaan is dat jy jouself nie in ’n Christen kan verander deur maar net ‘n paar uiterlike aanpassings te maak nie. Bietjie meer Bybellees en bid of bietjie minder vloek en drink, maak nie van jou ‘n Christen nie. Ons moet van binne af nuut gemaak word. Dis wat nodig was vir die leraar Nikodemus, dis ook wat nodig is vir elkeen van ons as ons die koninkryk van God wil ingaan. Jy moet dus besef jy is ‘n verlore sondaar. Jy kan nie sommer net so inglip in die koninkryk deur ‘n bietjie hier en daar aan jouself te verander nie. (onthou weer die dom bok) Jy het nodig om van binne skoon en nuut gemaak te word. Net God kan jou van binne verander. Jy het dus Jesus nodig. Dis God se manier om mense te red. God red mense deurdat hulle in Sy Seun Jesus glo. Wees eerlik met Jesus, vertel vir Hom van jou sonde, maar sien ook raak dat Hy aan die kruis reeds die straf vir daardie sonde gedra het. Om in Jesus te glo beteken om alleen op Hom te vertrou dat Sy sterwe genoeg betaling was vir al jou sondes. ‘n Christen sal dus nooit sê ek is verlos, want ek doen goeie dinge soos kerktoegaan en Bybellees nie. Nee, ‘n ware Christen sal sê, ek weet ek is gered, want Jesus het klaar volledig vir my sondes betaal en my heeltemal vergewe.

Natuurlik, as mens regtig besef dat Jesus klaar betaal het vir al jou sondes sal jy baie bly en dankbaar wees. Jy sal so dankbaar wees dat jy van nou af die sonde sal haat en sal wegvlug van alles wat sleg is. ’n Christen sal dus anders optree, omdat hy nou klaar ’n nuwe hart het. Jy sal nuut wees, want God het jou van binne nuut gemaak. As jy wel weer struikel en dinge doen wat God nie wil hê nie, sal dit jou hartseer maak, want jy het mos nou ’n nuwe natuur en nuwe begeertes, jy wil mos lewe volgens God se Woord.

As jy opnuut gebore en nou ’n kind van God is, moet jy weet dis nie nou die einde van die pad nie. Dis nou die begin van ’n nuwe lewe. Net soos ’n klein babatjie baie moet groei, moet ’n kind van God ook groei. Jy moet groei en sterk word, want die duiwel sal jou baie pla sodat jy weer sy pad moet loop. ’n Kind van God groei deur die Bybel te lees en gehoorsaam, gereeld te bid en saam met ander ware Christene God te dien. Bo alles kan ons vertrou dat God se genade wat ons gered het ons ook sal vashou en bewaar tot die einde toe. (Judas vers 24,25)







(Hierdie foto's het ek in Botswana geneem)

4 opmerkings:

  1. Het my weereens laat besef: "Ek is nie 'n Christen omdat ek goeie werke doen nie, maar ek doen goeie werke omdat ek 'n Christen is."
    Baie dankie!

    AntwoordVee uit
  2. Ek wil net graag kommentaar lewer oor die woorde "water en gees".

    Die Here Jesus sê in Johannes 3 : 5 - 6 "Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees."

    Die Nuwe Vertaling sê "Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees"

    Hieruit verstaan ek, op grond van Nikodemus se vraag in vers 4 " 'n mens kan tog nie twee keer uit die skoot van jou moeder kom nie", dat die Here Jesus baie duidelik aan hom die twee geboortes beskrywe. Die vleeslike of menslike geboorte en die geestelike geboorte.

    Die eerste is uit water (my vleeslike geboorte as mens op planeet Aarde) en die tweede is geestelik (die wedergeboorte - wanneer ek deur die Gees gebore word). Dit is wanneer ek die Here Jesus aanneem as Here en Saligmaker en daagliks volg as Sy dissipel. Johannes 1 : 12 - 13 praat van dat ek uit God gebore word en nou Sy kind genoem kan word.

    So, geen mens sal die koninkryk van God beërwe sonder dat hy twee keer gebore word nie. Inteendeel, in die Koninkryk van God gaan daar nie fiktiewe mense wees wat geensins eers op aarde bestaan het nie of wat net 'n geestelike geboorte gehad het sonder 'n vleeslike of menslike geboorte nie. Nee, jy moet eers vleeslike as mens gebore word op hierdie planeet Aarde, en dan deur die Gees 'n tweede geboorte verkry as kind van God, dan sal jy die ewige lewe beërwe en die Koninkryk van God kan ingaan.

    Alle mense wat deur die eeue bestaan het, wat op die planeet Aarde gebore is, tot op die wederkoms van onse Here Jesus Christus, is dus kandidate vir die Koninkryk van God.

    Eerstens moet hy in die vlees in die skoot van sy moeder gebore word (deur water) en tweedens moet hy weergebore word deur die Heilige Gees en die Woord van God (1 Petrus 1 : 23) waardeur die lewe van Christus Jesus in hom geplaas word deur die geloof, aanneming van Christus Jesus en die genade van God (Gees)

    Vrede vir u almal


    AntwoordVee uit
  3. Baie dankie vir jou kommentaar. Ek dink ons stem presies saam oor die noodsaaklikheid van die wedergeboorte en dis wat hierdie post wil uitlig. Die verklaring van "water" as natuurlike geboorte en "gees" as wedergeboorte deur die Gees, is inderdaad een van die algemene verduidelikings vir hierdie teks. Gesien egter in die lig van Johannes se verwysings na die Ou Testament stem ek saam met die bekende Baptiste teoloog en verklaarder, D A Carson se siening dat dat die tema van water en gees verwys na reiniging en vernuwing deur die Gees (maw wedergeboorte) wat reeds deur die OT profete in die vooruitsig gestel is, soos mens dit o.a in Esegiel 36 vind. Alle mense het vanselfsprekend 'n natuurlike geboorte, so dit sou eintlik heeltemal oorbodig vir Jesus wees om dit aan Nikodemus oor te dra.

    groetnis

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.