BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 29 Mei 2012

SATAN SE SAPPIGE STORIES

- die gevare van die  “health, wealth and prosperity teaching”

Ons geloof is gebou op God se kosbare en heerlike beloftes. Maar soos ons weet is die Satan, God se na-aper. Hy maak ook beloftes, baie aanloklike beloftes wat hy deur sy valse apostels aan mense opdis en so miljoene mislei.

Valse beloftes. Dis ‘n ou taktiek van die duiwel waarmee hy al vir Adam en Eva uitgevang het. Aan hulle het hy die subtiele belofte gesuggereer dat as hulle van die verbode vrug eet,  hulle net soos God sou word. “...dan sal julle soos God wees wat alles kan ken.” (Genesis 3:5)   Sedertdien is die sondige mens ‘n maklike slagoffer vir Satan se sappige beloftes wat so lekker pas by ons sondige begeertes. Satan se beloftes gaan hoofsaaklik oor geld, gerief en grootsheid (roem), want dis die dinge van die wêreld wat die sondige mens nastreef as eerste prioriteit bo God!  Dis presies teen hierdie verkeerde begeertes waarteen 1 Johannes 2:15-17 so ernstig waarsku : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. Die wêreldse dinge, alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit, kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

Satan het sy listige beloftes oor  gerief en voorspoed ook op Jesus uitprobeer. Natuurlike op ‘n super slinkse en subtiele wyse soos ons lees in Matteus 4:1-11. Hy probeer (die honger) Jesus verlei om brood te maak uit klippe. So wou Hy dat Jesus sy mag in belang van sy eie behoeftes gebruik in plaas van tot eer van God. Daarna probeer hy Jesus oorreed om van die tempel se dak af te spring, want dit sou vir Jesus dadelik roem en grootsheid meegebring het. Uiteindelik kom hy na Jesus met ‘n belofte van ontsaglike rykdom en mag. Jesus verwerp al hierdie mooi praatjies van die duiwel en onderwerp Homself aan God se volmaakte wil. God se agenda  vir Jesus was die kruis, en al hierdie pogings van Satan was daarop gemik om aan Jesus ‘n kortpad na roem en gerief voor te hou sodat Hy nie na die kruis sou gaan om die oorwinning daar oor die duiwel te behaal nie!

Dis presies nog  die taktiek van die duiwel ook met ons. Hy wys vir ons ‘n maklike kortpad na rykdom, gerief en roem om ons weg te lok van die pad waarop God wil hê ons moet loop. Die pad van die waarheid is God se pad van vertroue op Jesus wat nou vir ons vryspraak bring  en eendag sal uitloop op onbeskryflike heerlikheid.

Hoe verskil Satan se slimpraatjies van God se beloftes? Die duiwel se beloftes sluit aan by die mens se sondige  begeertes. Hierteenoor, is God se beloftes gemik op die eer van sy naam en is juis in konflik met ons eie sondige ambisies. Satan se mooi beloftes is gefokus op die hier en die nou.   

God se volgorde is eers die kruis en daarna die kroon!  

Die Bybel is klinkklaar helder, ons grootste behoefte nou is om vergifnis van sonde te ontvang en vrede met God te vind. Eers met die wederkoms gaan ons liggame ook herstel word en sal al die trane van ons oë afgevee word. Jesus moes eers deur lyding gaan en dan verheerlik word! Ons as sy volgelinge is veronderstel om dieselfde pad te loop. Christenskap is nie ‘n maklike paadjie wat geplavei is met geld en gerief nie. Nee, Paulus het dit baie duidelik aan die nuwe bekeerlinge van sy dag gestel dat ons  “eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.” (Handelinge 14:22)

Die valse apostels van die “Word of Faith Movement”  en die verkondigers van die “Prosperity Gospel” beloof aan hulle aanhangers ‘n lewe van gerief, gesondheid en aardse sukses, nou! Dis tyd dat hierdie gruwelike grootbekke ontmasker word vir wat hulle is : valse profete en dwaalleraars! Wat hulle verkondig is direk in stryd met die boodskap van Jesus!

Hierdie hedendaagse vals apostels wil ons heidense tegnieke leer om vir onsself ‘n gerieflike lewe hier op aarde te skep! Dit skreeu teen Jesus se opdrag om juis ons kruis op te neem, onsself te verloën en Hom te volg. Een van hulle, die bekende Joel Osteen sê : “All of us are born for earthly greatness” Hy verkondig ook die heidense lering dat die mens se woorde skeppingsmag het en verdraai die Skrif om dit te staaf*. Hy beweer: “words give life to your dreams” en “Friend, there is a miracle in your mouth.” Die gerespekteerde  jarelange prediker van God se Woord, John MacArthur noem Osteen ‘n “pagan religionist, a quasi pantheist and an agent of Satan.” Dis harde woorde, maar dis inderdaad belangrik dat ons ons broers en susters duidelik moet waarsku teen sielsvernietigende dwaling. Dis tragies, maar hierdie gevaarlike Joel Osteen, met sy duisende aanhangers het werklik geen insig in die waarheid nie. (Dit het ek onlangs besef toe hy Mormone as Christene beskryf het) 

“Mag ons dan oordeel?”, vra jy. Wel, Paulus het nie geskroom om dwaalleraars by die naam te noem nie. (Sien 2 Timoteus 2:16,17) Die eer van God en die ewige welsyn van mense is op die spel.  Ek kan maar net saam stem met John Piper as hy sê : “I hate the Prosperity Gospel.”

Waarom is hierdie valse lering so gewild? Dis eenvoudig. Dit wat die Satan deur hulle beloof, vind gemaklik aansluiting by die sondige mens se natuurlike begeertes. Om opgewonde te raak oor hierdie beloftes van sukses en roem  hoef mens mos  nie wedergebore te wees of jou te bekeer van selfgesentreerdheid nie.  Alle sondaars wil altyd al hierdie dinge hê. Maar daar is ook ‘n ander aspek wat ons maklik miskyk. Hierdie vals leraars is ‘n bewys van God se oordeel oor goddelose mense, wat  soetsappige boodskappe verkies wat hulle eie  sondige begeertes bevredig en hulle nie sal ontstel nie. Sulke bose mense maak vir hulleself leermeesters bymekaar om te sê wat hulle graag wil hoor. (2 Timoteus 4:1-5) God gee dus mense wat nie die waarheid liefhet nie, oor aan die oordeel. Hy laat  toe dat hulle hulself dik vreet aan die leuen sodat hulle daaraan kan stik en sterf!

Naskrif : Luister na die waarskuwing van manne soos John Piper en Paul Washer oor hierdie gevaarlike dwaling deur te kliek op PROSPERITY GOSPEL.

*Sien op hierdie blog, DIE DUIWEL SE BYBEL.


Joel Osteen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.