BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 28 Augustus 2021

FELIKS RAAK BANG!





Wat het vir Feliks bang gemaak? 






Paulus se evangelieverkondiging het hierdie ou vreesbevange gemaak! Reg gehoor! Nou wonder ek, maak evangelisasie vandag nog mense bang…?

Hoe word daar deesdae evangelisasie gedoen? Miskien het jy al gehoor: "Is jy eensaam, alleen, sukkel jy met 'n swak selfbeeld..? Moenie worry nie, Jesus het ‘n groot plan vir jou lewe… Bid ‘n gebedjie agter my aan. Vra Jesus om in jou hart te kom." Verder... "en dan gaan jy en geniet jouself en leef soos jy wil. En dan doen jy sommer lekker sonde, adverteer dit op Facebook en almal sê geluk! En weet van nou af gaan jy baie gelukkig wees, altyd gesond wees en sommer gou ryk word! Jy vlieg nou besigheidsklas… alles gaan net lekker wees!"  Is dit hoe evangelisasie volgens die Skrif gedoen moet word? Is dit hoe die apostels soos byv. Paulus die verlossingsboodskap gebring het? Kom ons kyk…


Paulus het geen geleentheid laat verbygaan om met mense oor Jesus te praat nie. Hy is nie skaam vir die evangelie nie. (Romeine 1:16). 



Nie alle mense het die evangelie van Jesus egter met blydskap aanvaar nie. Die evangelie wat Paulus verkondig het was vir party dwaasheid, vir ander aanstootlik, en party soos Feliks het bang geword. 

Kom ons kyk na Handelinge 24:24-27

In die voorafgaande gedeelte kry ons Paulus in die hof. Gevang in Jerusalem. Hy verskyn voor goewerneur Feliks.. Die verhoor word onderbreek. (22)

Na ’n paar dae hervat hy die verhoor (24) - ook sy Joodse vrou Drusilla is nou by. Paulus praat met Feliks en Drusilla oor die geloof in Jesus Christus. Nie oppervlakkige gesprek nie. (25) Dit het ingesluit dat Paulus met hulle gepraat het o.a. oor spesifiek drie temas wat hier genoem word:

Geregtigheid (OAV en Grieks) Geregtigheid maw die standaard wat God eis! (1983 Vertaling omskryf dit as gehoorsaamheid aan God), selfbeheersing, en die komende oordeel. Dis drie temas wat nie losgemaak kan word van die boodskap oor Jesus nie. U sien die boodskap van Jesus se vergifnis en genade kom nie in ’n lugleegte na ons nie.

As ons die boodskap van die Bybel ernstig opneem kan ons nie stilstaan by sentimentele goedvoelboodskappies nie. Paulus het die volle waarheid en die harde realiteit aan Feliks oorgedra. U sien dis so belangrik -. Ons moet aandag gee aan die volle boodskap wat die Woord leer. Ons moet luister na dit wat God as belangrik beskou : Geregtigheid, Selfbeheersing, Oordeel. Die doel daarvan is om ons tot ons sinne te bring en tot bekering te lei. So baie mense beskou hulself as kinders van God, maar hulle het nog nooit tot bekering gekom nie! Geregtigheid, Selfbeheersing, Oordeel! Hierdie drie temas skep’n probleem vir die sondaar. Inderdaad maak dit ons ongemaklik. Hoekom?

~ Die sondaar voldoen nie aan God se eis vir geregtigheid nie. Ons is oortreders van God se wet. Ons is ongehoorsaam aan God se wil. Dit maak dat daar vyandskap tussen ons en God is. Baie prakties - God haat die sonde wat ons doen en Hy gaan dit straf. Dit het Feliks bang gemaak.

~ Die sondaar het ’n probleem met selfbeheersing.
   Efesiërs 2:3 gee ’n realistiese beskrywing hiervan. 

 Die ongeredde wil doen net waartoe sy luste hom lei. God straf hierdie bandelose optrede. Weereens, dit het Feliks bang gemaak.















~ Die komende oordeel is ongetwyfeld ’n skrikwekkende vooruitsig vir elke rebel. Hoekom? Elke mens moet verantwoording gaan doen aan God wie se oë alles gesien het. Voor God is alles oop en bloot! Baie mense kom op aarde weg met baie dinge..... hulle word nooit uitgevang nie, hulle bedrog en geld en mag en slimmmighede laat hulle altyd vry kom. Maar daar is een finale rotsvaste toets wat niemand kan systap nie - God se oordeel. Die dag wanneer die mensdom voor die groot wit troon sal verskyn en daar van elkeen rekenskap geeis sal word... klein en groot, ryk en arm... (Openbaring 20:11,12) Feliks moes hierdie feite aanhoor en hy het bang geword. Dit het vir hom onuithoudbaar geword om langer daarna te luister en hy het uitgeroep : “Dit is nou genoeg!” (25)

Ja, dis duidelik dat God se eis vir geregtigheid, God se eis tot selfbeheersing en die feit van die naderende oordeel ’n dilemma is vir elke sondaar. Dit hou ’n bedreiging in vir elkeen van ons.

Die feit is dis slegs Jesus Christus wat die sondaar uit hierdie dilemma kan verlos. Slegs Jesus kan hierdie bedreiging afweer. Dis ook net as hierdie drie sake vir my ‘n skrikwekkende realiteit word dat die evangelie van die genade van God vir my sin maak en ek dit met dankbaarheid omhels! Jesus, sy vergifnis is die antwoord op die sondaar se dilemma. Feliks kry kans om na Jesus te draai! Hy kry geleentheid vir bekering. En nou laat Feliks hierdie unieke geleentheid deur sy vingers glip. 


Dis die groot tragedie - Feliks raak bang en draai sy rug op die enigste Een wat hom kan verlos.





Hoekom tree Feliks so dwaas op? Vers 26 gee ons die leidraad. Hy hoop Paulus gee hom omkoopgeld. Hier kom ons by Felix se wortelprobleem uit. Hy raak wel bang as hy van die oordeel hoor, maar sy groot fokus in die lewe is op die hier en nou. Geld is sy God. Materialisme is sy godsdiens. (Terloops, ek dink Feliks sou die prosperity gospel met ope arms aanvaar het!)Terwyl Paulus oor skrikwekkende ewige werlikhede praat is sy gedagtes besig met planne om nog ryker te word. Min gode is so sterk soos die geldgod! Hoe afgryslik dwaas! Wat baat jou geld jou as jy voor God se groot wit troon moet staan? God kan nie omgekoop word nie. Wat van ons? Word jy afgestoot deur die ware evangelie? Klink die evangelie vir jou te ernstig? Word jy bang as die waarhede van die Woord onverdund verkondig word? Die probleem is nie by die evangelie nie, maar by jou verdorwe hart wat verknog is aan eie belang. 


Die waarhede van God se Woord - die eis van geregtigheid en selfbeheersing en die feit van die komende oordeel het Feliks ontstel en kopsku gemaak vir evangelie. Hy het weggeskram van die hierdie waarhede en die geleentheid misgeloop om redding en die ewige lewe te kry. (Soos ‘n halstarrige donkie- weier hy om te beweeg, vasgevang in gierigheid…) Moenie dieselfde fout maak nie.

Luister en kyk op YouTube. Kliek op FELIKS

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.