BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 22 Mei 2013

STERF OM VRUGBAAR TE KAN LEWE

- Jesus se raad (wat die gemiddelde “prosperity gospel” aanhanger en  TBN kyker aan hulle pizzas sal laat stik)

Die sekerste manier om onvrugbaar, vaal en vreugdeloos te wees is:  Leef maar net rustig vir jouself.  Fokus maar net op jou eie gerief, jou eie behoeftes, jou finansiële groei,  jou eie aftreeplanne... Klink dit vreemd en vergesog? Wel dis die duidelike implikasie van Johannes 12:24,25.   “Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”   Geweldige woorde!

Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat sy hoorders almal goed kon verstaan. ’n Koringkorrel of mieliepit moet in ’n sekere sin “sterwe” sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy bestaan en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en van die toneel verdwyn. As ’n pit by wyse van spreke sou weier... sal hy ‘n mislukking wees, net alleen bly, geen oes voortbring nie, sy bestaansdoel misloop.

Jesus praat hier  natuurlik in die eerste plek van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (die gesprek vind plaas kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. Sonder Jesus se plaasvervangende dood sou nie een van ons gered kon word nie. Jesus se offerdood wis ons sonde uit omdat Hy so die straf wat ons verdien in ons plek ondergaan. (Jesaja 53:5,6) As Jesus nie gesterwe het nie,  sou ons nie verlos kon word nie-  nie ek nie, nie jy nie... Ons moet dit goed verstaan, Jesus het baie wonderlike dinge gedoen, genesings, vermeerdering van die brood, op die water geloop.....nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie,  Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... So dis baie duidelik, as Jesus nie gewillig was om te sterwe nie,  sou daar geen oes van verloste mense vir sy Vader  wees nie. Geen mens sou gered word nie.

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe, maak Jesus nou egter ook van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding en swaarkry  verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God  verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange, ja aan sy lewe. Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik, kosbaar en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos en vaal en  gevolglik ook vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk. Maar dit geld as ’n basiese vereiste vir ons vrugbare volgelingskap. Dis veral prakties van toepassing op ons getuienistaak, deur woord en lewe in hierdie wêreld.

Kom ons sê dit anders : Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitleef en uitdra van die evangelie wees nie!

Sonder ‘n doelbewuste keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie. Dit word voortgesit in ons. Ons lyding is ’n voortsetting van Christus se lyding. Dit is soos Paulus sy eie lyding verstaan het in Kolossense 2:24,25  “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,  waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak.” Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as selfsugtige “Christen” in ‘n “gerieflike voorstad” van Jerusalem... Maar nee, hy  kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van Jesus in sy eie lewe toe - Hy kies om te sterwe sodat daar ’n oes kan wees! 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.
Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie.
Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.”

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. Evengelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. As jy dink jy gaan gelukwensinge en ‘n klop op die skouer kry omdat jy die evangelie verkondig, leef jy nog in ‘n droomwêreld! John Piper vat als mooi saam : More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.”

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie is ‘n doelbwuste keuse.   Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy verlossingsboodskap moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf.

Hoe raak hierdie beginsel ons prakties?  Wat moet ek opoffer soadat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe sodat daar ’n oes vir God ingesamel kan word. (Daar is mos nie oral malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Ek wil net drie praktiese areas uitlig.

Ek moet sterwe aan :

~ My “reg” tot gerief en najaging van  eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings, gewaarborgde finansiële pakette en pensioen. Het jy al jou aan jou vrese vir mense gesterf en met ander mense oor Jesus gesels?
Dit sal dalk nodig wees om jou eie belange prys te gee in terme van tyd en geld.  Dit gaan egter nie net oor groot sake nie. Daar is  talle klein keuses waar ek teen my eie belang moet kies om bruikbaar te wees in die uitdra van die evangelie... dalk iets soos ‘n Sondagmiddagslapie wat opgeoffer moet word? Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek doelbewus teen my eie welsyn kies. Hierdie beginsel word onderstreep deur talle voorbeelde in die kerkgeskiedenis. Dink maar aan iemand soos Adoniram Judson wat twee vroue en talle kinders moes opoffer om die Woord van God na Burma te bring.  


Lees meer, kliek op ADONIRAM JUDSON.

Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by uitbreiding van die Koninkryk, maar wil nie hulle hande vuilmaak nie. Ek sal op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf, maar moenie my vra om in ‘n plakkershut in te gaan nie...





~ Kulturele trots en ekslusiwiteit. Ons moet in nederigheid grense oor te steek na ander kulture en klasse wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet ons hoogmoedige trots in ons sak steek. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkomodeer. Het jy dit al gewaag om teenoor iemand van ‘n ander kultuur of godsdiens te getuig - soos ’n Moslem? Sterf vir jou gemaksone en doen dit. Skuif jou vooroordele opsy en gaan sit langs ’n plaaswerker of ‘n huishulp... of daal doelbewus na die vlak van 'n kind of 'n bejaarde om die evangelieboodskap in hulle leefwêreld se terme oor te dra. Dit kan ook insluit opofferings ten opsigte van taal of ander kulturele aspekte. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee om soos een van ons te word. Ons kan nie die evangelie uit die hoogte deel nie. Ook nie vanuit verkeerde motiewe nie - “Ja, sendingwerk is goed, dit hou darem die ... op hulle plek...” As ons die evangelie wil deel , moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. Dis presies wat Jesus gedoen het ...  ”Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45)

~ Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Vergeet van daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die bedekte behoefte  wat ons het om gedurig bedank en waardeer te word. Ons eie ambisies staan in die pad van suksesvolle getuienis....soos om ryk te wil word of aansien in die gemeenskap te hê.  Ons moet ook sterf aan ons “groot indrukwekkende metodes” van evangelisering  wat meer gegrond is op wêreldse propaganda tegnieke as God se Woord.  Die TBN styl van "glitter en glamour!" As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee... Om agter die skerms te werk en in ons binnekamers te pleit voor God.  Weet verseker  dat as jy die onverdunde Bybelse boodskap bring,  gaan  jy beslis ongewild wees.  Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om ‘n verworpe ongewenste lid van die gemeenskap te wees?  Soos Jesus? Ja, dan eers kan God jou gebruik!  Satan het Jesus versoek op hierdie punt. Hy nooi Jesus om van die tempel se dak af te spring. Dit sou ‘n kortpad na gewildheid wees. Jesus val egter nie vir sy grappie nie, maar kies die bitter eensame pad van die kruis. Sukses mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare resultate nie.  Ons begeerte om geprys te word moet ons afsterf. Jy gaan dalk die teenoorgestelde beleef as jy begin getuig. In plaas van resultate en lof gaan jou skoolleerlinge teenoor wie jy getuig, jou alle hel in die klaskamer gee; juis  jou plaaswerkers vir wie jy die Woord bring gaan jou dalk in die steek laat...terloops dis mos wat Jesus ervaar het van sy eie dissipels! Is jy bereid om al hierdie teenstand deur te gaan?

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde!

Twee slotopmerkings:

~ Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Ons kan seker baie lang debatte hieroor voer, maar een duidelik waarheid is : die kerk groei net met die spoed waarteen mense bereid is om te “sterf”!   Daarom is daar in tye van vervolging dikwels vinnige kerkgroei, maar hoe meer welvaart en gerief Christene beleef, hoe minder groei is daar. Namate ons bereid is om aansprake op gerief, eie belang en ambisies prys te gee, groei die kerk. Op hierdie oomblik is daar genoeg middele binne die kerk om die wêreld te bereik - waarom gebeur dit nie? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is  bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas... John Stott sê : "The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die."

~Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg wonder : Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, moet ek  maar eers wag totdat ek dit regkry?” Vriende, net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses wat lewenslank duur. Solank ons hier op aarde is, sal die kind van God voortdurend maar die soeke na selfbelang en eie gerief in homself ontdek. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself tot beskikking van Jesus, NOU!  Die Heilige Gees is getrou. Hy sal jou wys waar jy nog moet sterwe. Begin net!

Bybelse logika :


Streef na jou eie belang en word 'n verloorder! Verloor jouself vir Jesus en sy saak en wees 'n ewige wenner!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.