BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 27 Oktober 2016

"Pa, seën my tog ook!"

- die smartkreet van ‘n jongman wat ‘n verkeerde keuse gemaak het.


Besondere kosbare en gesogte erfstukke word van geslag na geslag oorgedra en is dikwels onberekenbaar waardevol. ‘n Ou geweer deur ‘n voorsaat gebruik op die slagveld, ‘n oorspronklike skildery of vaste eiendom soos ‘n plaas... Vandag gaan dit oor iemand wat ‘n ontsaglik kosbare erfporsie vir altyd misgeloop het.

Ons ken darem seker almal die geskiedenis van Jakob en Esau. Jakob het hom vermom en is deur die ou blinde Isak op sy sterfbed geseën. Kort daarna het Esau van die jagveld by sy pa Isak gekom om geseën te word, maar moes hoor dat Isak reeds sy seën uitgedeel, en dit aan Jakob! 

Dan lees ons :

“Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: ‘Pa, seën my tog ook!’" (Gen 27:34) 

Hartverskeurende woorde! Hoor hoe kreun hy dit uit : “Pa, seën my tog ook!” Dis die smartkreet van ‘n stukkende en wanhopige jongman. Dis seker van die hartseerste woorde en mees tragiese gebeure in die Bybel. Esau het die seën as eersgeborene van sy pa misgeloop en niks kon dit ooit verander nie. Esau het iets ontsettend kosbaar gemis, en hy kon dit nooit weer kry nie. Esau se spyt was vir ewig te laat!

EERSGEBOORTEREG

Wat was so kosbaar aan die eersgeboortereg en aan hierdie seën? Hoekom was dit so belangrik? Om die betekenis van hierdie gebeurtenis reg te verstaan moet ons terug gaan na Esau se oupa - Abram. Ons weet God het Abram geroep en het heerlike beloftes aan hom gemaak en hom geseën. Abram het dus besondere gunste van God geniet, God was hom besonder genadig. God was goed vir Abram. Hierdie verbond en die seëninge wat God aan Abram beloof het was nie net vir hom bedoel nie maar ook sy nageslag. Mens kan amper sê dit was familiebesit. Die beloftes en seëninge van God is dus van geslag tot geslag oorgedra. Anders gestel, die beloftes en seëninge van God was die belangrikste erfstuk.

Nou wie is die grootste/hoof erfgenaam? Wel, volgens destyds se gebruike, die eersgeborene. Ons weet tog die eersgeborene was die belangrikste erfgenaam, mens kan sê die opvolger van sy pa. Om die seën van jou pa as eersgeborene te ontvang was dus nie maar net ‘n klomp leë woorde of ‘n sinnelose ritueel nie. Nee, dit gaan ten diepste oor ‘n Goddelike seën. Dis tog in elk geval net God alleen wat die mag het om mense te seën of aan die anderkant te vervloek. Dit gaan oor meer as maar net materiële goedere. Dit het in die familielyn van Abram, ‘n besonder sterk geestelike verbondskonnotasie. In Hebreërs 12:16,17 word dit baie duidelik dat hierdie seën nie maar net oor ‘n aardse saak gegaan het nie. “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.”

U sien daar was ‘n besliste geestelike dimensie aan die minagting van die eersgeboortereg verbonde gewees. Dis duidelik dat die seën wat die eersgeborene ontvang ‘n oneindig kosbare besitting was. Esau het nou hierdie kosbare seën gemis - dis waarom hy nou in wanhoop uitroep : “Pa, seën my tog ook!”

As mens nou so vinnig op die oppervlakte lees wil mens Esau eintlik jammer kry. "Arme man, kyk hoe is hy ingeloop." Ons weet mos wat het gebeur. Hoe die skelm Jakob en sy Ma ‘n plan gemaak het om die blinde ou Isak te bedrieg. (met die bokvelletjies om sy hande en nek) Maar as mens nou mooi gaan lees, kom mens agter dat dit sy eie skuld was. Die sleutel vir die verstaan van hierdie gebeure kry ons in Genesis 25:34. OAV - “Esau het sy eersgeboortereg verag”. NAB – “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.”

‘N FOUTIEWE WAARDEBEPALING LEI TOT VERKEERDE KEUSES

Esau het eintlik nie meer ‘n reg gehad op die seën van sy pa nie, hierdie Goddelike seën wat van sy oupa Abram af gekom het. Ons weet mos wat gebeur het. Hy het eendag moeg en honger van die veld af gekom en die geslepe Jakob het Esau se eersgeboortereg by hom gekoop. Hy het sy eersgeboortereg verkoop vir ‘n pot lensiesop. Hy het dus self die eersgeboortereg en die kosbare erfenis wat daarmee saam gegaan het verruil vir ‘n pot sop! Vir die tydelike genot van kos, vir die tydelike bevrediging van sy behoeftes het hy sy eersgeboortereg verkoop. Dit kom maar eintlik daarop neer dat hy so min gedink het van die Goddelike seën dat hy dit vir sop verruil het. Hy het ‘n tydelike verbygaande ding van meer kosbaar en belangrik geag as die ewige seën van God. Minagting van die eersgeboortereg het neergekom op die minagting van Goddelike seën en daarom is dit ‘n geskikte voorbeeld om as waarskuwing te dien dat ons nie God se verlossingsgenade moet minag nie. (dis soos die Hebreërs skrywer dit gebruik) 

Die groot saak om raak te sien : Daar was fout met Esau se waardebepaling en daarom het hy ‘n verkeerde keuse gemaak toe hy die geur van lensiesop kry. 

Die lekker geur van die lensiesop het vir hom meer getel as die eersgeboortereg en die seën wat daarmee saam gegaan het. So Esau was eintlik self verantwoordelik dat hy die seën gemis het, Jakob het maar eintlik net gevat wat hom toegekom het. Jakob was mos nou eintlik die eersgeborene - hy het die reg daartoe gekoop.

Dit bring ons nou eintlik by die tema :

Die minagting van God se beloftes veroorsaak dat ons die verkeerde keuses maak en so God se seëninge misloop!

Ons keuses in die lewe is die direkte gevolg van ons waardebepalings. Eenvoudig gesê - ons kies vir dit wat ons dink die meeste waarde het. As my vriende se opinie in my oë vir my meer waarde het as God se beloftes dan kies ek my vriende bo God. As die plesier van die wêreld vir my meer tel as die offer van Jesus dan kies ek die wêreld.

God maak heerlike beloftes aan jou! "Ek wil jou God wees, jou genadig wees en jou skuld weg neem. Ek wil jou red van jou sonde van die oordeel en die ewige hel. Ek wil jou nuut maak. Ek wil jou Vader wees. Ek wil vir jou rus gee, die ewige lewe en die hemelse erfenis." Hy bevestig en onderstreep sy beloftes met die teken van die doop! En tog kies soveel gedooptes iets ander bo God en sy seëninge!

Het jy al hierdie beloftes verkry, jou eie gemaak? Jy vra hoe? Wel, God se beloftes realiseer in jou lewe die oomblik as jy as sondaar jou tot Jesus bekeer en jou vertroue op Hom stel. Deur Jesus kry ons deel aan al God se wonderlike beloftes. Hoe waardevol is God se beloftes vir jou? Het jy dit al aangegryp? Of beskou jy ander dinge, ander genietinge, ander verhoudinge, ander ambisies as belangriker? 

Die punt is dit : 

God se beloftes stel ons voor ‘n keuse. 

Jy kan ook die seën van God verkry as eersgeborene. Miskien sê jy :"Maar ek is tog nie ‘n eersgeborene nie!" Wel, deur Jesus Christus as Verlosser aan te neem word ons eersgeborenes. Hebreërs 12:23 praat van die “vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is.” Wie is hulle? Hierdie eersgeborenes is almal wat aan Jesus behoort en wat so deel gekry het aan God se ewige seën.

Dis ‘n heerlike waarheid : ons wat sondaars en rebelle teen God is, ons word as eersgeborenes aanvaar deur God wanneer ons tot geloof in Jesus kom.

Is hierdie eersgeboortereg vir jou belangrik? Hierdie eersgeboortereg wat jy verkry as jy Jesus Christus as Here aanvaar? Net soos Esau moet jy ook kies tussen die eersgeboortereg en die lensiesop. Jy sal weet wat is die lensiesop in jou lewe. Jy weet watse dinge vir jou so ‘n aantrekkingskrag het dat dit belangriker as Jesus word... Wat is vir jou meer waardevol as Jesus, wat is vir jou belangriker as die heerlike beloftes van God ......is dit dalk ‘n boesemsonde, ‘n sondige verhouding, vrees vir wat mense gaan sê as jy Jesus volg, bitterheid, weiering om iemand te vergewe, gierige najaging van geld.....?

Wat van jou? Wat dink jy van God se beloftes? Het jy dit al ernstig opgeneem en hoog gewaardeer deur Jesus as Here aan te neem?

3 opmerkings:

  1. Baie kosbaar en so belangrik. mag ons mense maar net al meer besef wie God is en hoe belangrik sy beloftes vir ons is - juis omdat Hy soveel vir ons omgee. Die Woord waarsku ook dat mense ten gronde gaan aan 'n tekort aan kennies - ook 'n kennis van God se beloftes. Baie dankie Joahnnes.
    (ek hoop my reaksie kom deur daar na jou toe - hierdie keer sukkel ek nogal met al die opsies waar mens hieronder 'n profiel moet kies. Ai die tegnologie wat voortdurend so verander. Mens kan nie meer byhou nie).

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Wolf en lyk my jy kan arem nog die tegnologie hanteer...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.