BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 17 Junie 2014

ALTERNATIEWE GEMEENSKAP

- gevorm en bewerk deur die Gees van Jesus!

So dikwels is daar ‘n stryd in die kerk om mense betrokke te kry of dan nou om “fellowship” of "kononia" te organiseer. Baie moeite, planne en pogings, maar dikwels min resultate... Handelinge gee duidelike antwoorde en standaarde oor hierdie saak. Miskien wonder jy : “Maar is Handelinge ‘n realistiese eerlike boek?” Wel, Lukas is ‘n baie eerlike geskiedskrywer - hy vertel nie net die mooi dinge nie, maar ook hoe die heilige gemeenskap deur skynheiligheid ontsier is (Ananias en Saffira), hy vertel hoe etniese wrywing die heerlike eenheid bedreig het. Sy eerlikheid word nogal treffend bewys as hy selfs die spanning tussen die twee groot sendelinge Paulus en Barnabas beskryf.

Dis belangrik dat ons die moed sal hê om dus ook van ons kant eerlik na Handelinge te kyk en onsself en ons gemeentelike lewe in die lig hiervan te ondersoek en aan te pas. Johnson* sê dat Lukas sy beskrywing nie bloot bedoel het as ‘n nostalgiese retrospek van die goeie ou dae nie, maar eerder as ‘n patroon vir die huidige. Met ander woorde hierdie is ‘n patroon vir normale gemeente wees! (Natuurlik is daar ook uitsonderlike eenmalige gebeurtenisse in Handelinge wat nie net so vandag toegepas moet word nie. Leraars word nie almal deur die Gees getransporteer soos Filippus nie, ons hoef nie op die dak te gaan bid soos Petrus nie... Nou hoe weet ons wat normatief is vir vandag en wat nie? ‘n Eenvoudige reël is om die beginsels in Handelinge wat later in die vorm van opdragte in die Nuwe Testamentiese briewe aan gemeentes voorgehou word, as normatief vir die kerk van Jesus te beskou.... Opdragte oor gebed, liefde, versorging ens.)

So, wat sê Handelinge oor die praktyk van kerkwees as ‘n alternatiewe gemeenskap?

Grondliggend kan ons die kerklike praktyk in Handelinge saamvat as ‘n gemeenskap (fellowship) bewerk deur die Heilige Gees!

“Fellowship” is ‘n geykte term in Christen geledere, algemene woord, maar dit het heelwat van die betekenis soos ons dit in Handelinge vind verloor. Vir baie is dit sommer net bietjie gesellig saam wees. Maar daar moet tog meer in wees – ‘n klomp drinkebroers verkeer ook gesellig saam, nogal juis hulle... (dis nou voor die fight!) Gemeenskap van die gelowiges gaan egter veel dieper. Die fokus van ware gemeenskap is dit wat gelowiges in gemeen met mekaar het, dit wat ons met mekaar deel. Koinonia beteken om prakties die waarheid dat ons ledemate van een liggaam is, tot uitvoer te bring. Dikwels het hierdie begrip materiële en finansiële implikasies! 

Die opsommings van die kerklike lewe en groei in die eerste hoofstukke van Handelinge (byv. 2:43-47; 4:32-35; 5:12-16) bring ‘n paar praktiese aspekte van gemeenskap na vore. Dis: 

-Gemeenskap van gereddes. “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (2:47b) Net mense wat gered is (m.a.w. saligmakend aan Jesus persoonlik verbind) kan waarlik deel van die kerk wees. Anders gestel : As ek aan Jesus verbind is, mag ek ook nie los wees van sy Kerk nie. God voeg my dan by sy gemeente! Die een Gees van Jesus woon in alle gelowiges – dit bind mense aan mekaar. Dis spontaan, dis Geesgewerk...(ons het nie eintlik iets soos Belhar daarvoor nodig nie...) Hierdie egte gemeenskap kan nie meganies geforseer of uiterlik afgedwing word nie. Ware gemeenskap begin dus by ware bekerings...

-Gemeenskap binne die konteks van die genade van God. “Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.” (4:33) Dit sluit noodwendig aan by vorige punt. Die genade wat hulle aan hulle Verlosser gebind het, het hulle ook aanmekaar verbind. Gemeenskap van die gelowiges is net moontlik vir mense wat genade ontvang het en daarom ook genadig teenoor mekaar is. Omdat ons mense is met verskille in agtergrond, gewoontes en maniere is die potensiaal vir konflik en irritasie enorm groot in die kerk – daarom kan hierdie gemeenskap net werk as die beginsel van genade oorheersend is! Die gee van genade aan mekaar is die groot faktor wat ware fellowship, ten spyte van ons gebrokenheid moontlik maak. 

· Gemeenskap in die breking van die brood. Sonder twyfel was deel van ‘n normale maaltyd, maar dis ongetwyfeld wel ‘n spesifieke verwysing na die nagmaal in sy vroeë vorm. Die nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd in die teenwoordigheid van die Here. Dit is ‘n viering van die Nuwe Verbond (Jeremia 31) en ego die verbondsmaaltyd wat by Sinaï in God se teenwoordigheid geëet is! (Eksodus 24:9-11) Wat ‘n geweldige gebeurtenis! (kliek op TOEGANG)  Die ooreenkoms met die nagmaal is opvallend. Nadat versoening deur die besprinkeling van die bloed bewerk is, mag hierdie groep persone in God se teenwoordigheid aansit vir ‘n maaltyd. Ten volle met God versoen, aanvaarbaar by God en in gemeenskap met Hom en met mekaar... Verbysterend heerlik! Die heiligheid en belangrike rol van die nagmaal moet nie onderskat word nie. Dis iets wat geen Christen sommer ligtelik mag misloop nie!

· Gemeenskap in gebed. Die nuwe bekeerlinge het voortgegaan om in die tempel gebed en lofprysing aan God te bring. Gebed was deel van die algemene ritme van die gemeente. (3:1) Dit gaan egter oor iets dieper as die gebed in ‘n gebou... Die gemeente, die gelowiges is die nuwe heiligdom, die huis van gebed vir alle nasies. (Jesaja 56:7) Later is die gebruik van die tempel uitgefaseer. Die natuurlike en instinktiewe reaksie van die gemeente is om hulle tot gebed te wend wanneer daar besluite geneem moet word (soos die kies van ‘n apostel) en wanneer daar ‘n krisis is. (4:23-31). As ‘n gemeente nie saam bid nie, kan ons dus nie praat van ‘n gemeenskap van die gelowiges nie. 

“Fellowship” gaan nie net oor saambraai nie, maar veral oor saambid!

· Gemeenskap op materiële vlak. “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.” (2:44,45) Christelike koinonia behels ook iets meer as die belegging van ons aandag en tyd in mekaar se lewens, dit behels ook die belegging van Rand en sent in die praktiese omstandighede van hulle wat nood het. Nie verpligte kommunalisme nie, maar Geesgedrewe opoffering vir mekaar. Hierdie tasbare aspek van fellowship word pragtig uitgelig in die Filippense brief. In Filippense 1:5 dank Paulus hulle vir hulle gemeenskap aan die evangelie. Dit het hier ‘n duidelike finansiële konnotasie. Dis duidelik as ons dit in verband sien met Filippense 4:15. Ons sal die implikasies hiervan in integriteit voor die Here moet uitwerk, ook op ‘n globale skaal. Christen liefde en gemeenskap het baie te maak met oop beursies! (1 Johannes 3:17)

Dis onaanvaarbaar dat sogenaamde Christene is monsteragtige groot paleise bly, terwyl broers en susters rondom hulle van honger krepeer!


IS DIT REGTIG MOONTLIK?

Hoe het die eerste gemeente hierdie gemeenskap reggekry? Ons sê so maklik : “Dit was ander tye, vandag leef ons in baie moeilike omstandighede!” Twak! (as jy lopende water in jou huis het, is jou omstandighede regtig nie so moeilik nie...miljoene het nie daardie voorreg nie!) Die kerk van Handelinge het beslis ook nie in idilliese omstandighede gefunksioneer nie! Dieselfde sonde en versoekings as vandag was destyds maar ook teenwoordig. Daar was inderdaad mense in die vroeë kerk wat agter die verleiding van die rykdom aangegaan het. (Demas) Dieselfde ekonomiese krisisse as wat mense vandag beleef - hongersnood in Jerusalem. Dieselfde verdelende faktore soos etnisiteit (6:1) en die skeiding tussen ryk en arm. So hoe het hierdie gemeenskap gerealiseer? Drie onmisbare faktore maak hierdie innige gemeenskap prakties moontlik :

Dit was die gevolg van die werk van die Heilige Gees en gehoorsaamheid aan die Gees. Paulus praat van die gemeenskap van die Heilige Gees. (2 Korintiërs 13:13) Lukas noem dit nie direk so nie maar die konteks maak dit duidelik dat hierdie gemeenskap ontstaan het weens die werk en gawe van die Heilige Gees. Hy verwys na die vrug van die Heilige Gees in hulle lewens- “eendragtig.” Daar is geen ander verklaring vir die eenheid onder hierdie groep mense nie as die werk van die Heilige Gees.

· Hierdie mense is ten spyte van hulle verskille saamgebind deur die waarheid. ‘n Gemeenskaplike passie vir die waarheid. Eenheid gebou op die waarheid. Dis die evangelie waarheid wat deur die apostels verkondig is. (2:42)

En onthou sommer ook...

In Handelinge kry ons ‘n duidelike beeld van ‘n aspek van Nuwe Testamenties Christenskap wat vir baie ‘n onbekende saak geword het. “Bybelse Christenskap is Christus gesentreer en gemeente gebaseer” (Albert Martin ) Nie ‘n klomp los individue wat elkeen die Here dien soos hy of sy wil nie! 

In die "laaste dae" (die tyd wat aangebreek het met Jesus se eerste koms en die uitstorting van die Gees!) gaan dit oor die herstel van die harmonie wat tydens die sondeval skipbreuk gely het. Nie net wat betref die verhouding met God nie, maar ook met mekaar. Hierdie herstelde verhouding word veral binne gemeente verband gedemonstreer en uitgeleef.

Gemeenskap (fellowship) in Handelinge is diepgaande, lewenskragtig, eg en baie belangrik - dis duur, dit kos baie, dit vra baie! ( in terme van tyd, geld en prysgawe van eie belange en eie programme) Maar dis die wil en bedoeling van God vir Sy kerk!

*Johnson se skitterende boek, “The Message of Acts in the History of Redemption” is die basis vir hierdie Pinksterreeks.  Om na die begin van hierdie reeks te gaan kliek op PINKSTER 2014

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.