BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 23 November 2019

Gaan die NGK skeur?


Gaan die NGK skeur oor die gruwelbesluit van die AS 2019? Ek dink : “NEE!” Hoekom sê ek so? Die NGK het eintlik lankal reeds geskeur, ons is net nie eerlik en mans genoeg om dit te erken nie. Kom ek verduidelik… Die NGK het teologies geskeur, maar probeer bloot nog ‘n administratiewe eenheid handhaaf. 


Wat behels hierdie teologiese skeuring wat reeds plaasgevind het? 

Sommer net ‘n paar vinnige voorbeelde. Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood nie, ander glo dit nog… (Gaan lees maar die verhaal van Ferdie Mulder in OPGESTAAN as jy dit nie weet nie) Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus die unieke enigste middelaar tussen God en mens is nie, ander glo dit nog… Een deel van die NGK glo nie daar bestaan iets soos ‘n persoonlike duiwel nie, ander wel… (Hy is immers ‘n springlewendige lid van die Algemene Sinode!!) Een deel van die NGK glo nie meer dat ‘n huwelik net uit een man en een vrou bestaan nie, ander glo dit nog… Kortom. Een deel van die NGK glo nie meer die Skrif en belydenisskrifte nie, die ander hou steeds vas aan die waarheid van die Woord en belydenis… 

 Die liberaliste in die NGK het die NGK gekaap via die Algemene Sinode. 

Baie slim en slu. Die Guptas kan gerus by hulle kom leer. Die minderheid lei die meerderheid aan die neus rond. 

Maar ongelukkig word die ongelowige deel van die NGK al groter en die gelowige deel al kleiner, want die meerderheid van nuwe predikante wat deur die fakulteite geproduseer word glo nie meer die Woord nie, want dis wat hulle geleer word. Verder verlaat baie van ons getrouste en vroomste lidmate die NGK omdat hulle dit net nie meer kan uithou nie. En uiteindelik is dit die vrot appels wat die goeies ook vrot maak en nie andersom nie! 

Die standpunte oor kernsake binne die NGK is onversoenbaar teenstrydig en uiteenlopend! Hoekom bly ons dan nog bymekaar? Hoekom tyd mors met onlogiese kompromisbesluite? Hoekom was daar nie lankal ook ‘n sigbare skeuring nie? Hoekom byt baie leraars en lidmate tog maar vas? 

Hoofsaaklik ter wille van administratiewe, finansiële en praktiese redes. Die administrasie van pensioen en mediese fondse, die behoud van kerkgeboue en predikantstatus… Maar daar is moontlik ook ‘n groot aantal leraars wat binne die NGK strukture bly omdat daar net nie ‘n ander opsie op hierdie stadium is nie. Daar is net nie alternatiewe geestelike versorging vir hulle gemeentelede nie. Waar moet God se kosbare skape kos kry? En ja, daar is ook fundamentele teologiese oorwegings. Die getroue gemeentelede in die sewe gemeentes van Openbaring word immers nêrens opgeroep tot afskeiding nie, maar eerder om broers en susters wat nog vashou aan die waarheid te versterk. Ja, die gemeentes word ook telkens opgeroep tot bekering! Daarom mag ons in hierdie dae wat ons besluite ook al uiteindelik mag wees, ten minste nie stilbly nie en verstom ek my oor hoe broers wat die waarheid liefhet, so ‘n oorverdowende stilte kan handhaaf! Hoe werk dit? 

Waarom bly baie getroue gelowiges nog steeds in die NGK? Die eerlikste antwoord is seker om te sê dat daar ‘n mengsel van die bogenoemde redes ter sake is. En, ja die AS besluit is immers nie ons gemeentelede se opinie of hulle skuld nie! Mag die Here vir sy kosbare kinders binne die NGK duidelik die pad vorentoe wys! Mag elke plaaslike NGK wat nog vashou aan die Woord duidelik deur die Gees en Woord gelei word binne ons huidige omstandighede!

Wanneer is genoeg, genoeg? Wanneer moet die padda maar uit die pot spring, voordat dit te laat is? Wanneer moet ons ons profetiese stem met radikale dade demonstreer? Kom ons help mekaar om die tye te verstaan!


Wanneer gaan die sand van ongeloof en ongehoorsamheid ons heeltemal verstik en begrawe?


2 opmerkings:

  1. Hier's 'n Skrifgedeelte wat in gedagte gehou moet word:

    "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
    TERWYL ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring."
    II KORINTHIËRS 6:14‭-‬7:1 AFR53

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  2. Ek onthou soos gister die pyn van die vorige skeuring, in die vroee tagtigs, en die stigting van die AP Kerk. Die paaie van gesinne, jare lange vriende het uitmekaaar gegaan. Dit is waarom ek van harte bid vir 'n kentering. En dan behoort die kerk regeer te word volgens die presbiteriaanse stelsel: die presbiters (ouderlinge) dus elke plaaslike kerkraad, het meer gesag as die moderamen. Genadiglik was ek nog al die jare in 'n gemeente waar die suiwer Woord van God bedien is. Mag die Here vir ons Goddelike wysheid gee in hierdie donker dae.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.