BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 03 November 2019

NOGTANS OF AS?

NOGTANS! Vandag se boodskap kan in hierdie een woord opgesom word. NOGTANS! Kom ons kyk net eers wat die woord beteken: Nietemin, ewewel, nog steeds, ten spyte hiervan, ongeag… ‘n Pa kan vir sy seun sê : “Jy is baie stout, jy het vreeslik verkeerd gemaak, nogtans is ek lief vir jou, nogtans bly jy my seun…” In ‘n sekere sin kan die kind van God se hele pad van geloofsvolharding in hierdie een woord opgesom word : NOGTANS! 


Kom ons kyk na twee sulke NOGTANS situasies

Daniel se drie vriende wat weier om voor die beeld van Nebukadnesar te buig, selfs al sou die Here hulle nie uit die gevaar uit red nie. 

“Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, en Nebukadnesar het vir hulle gesê: "Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 
Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ‘n ander blaas— of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ‘n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?" 
Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: "Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 

Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie." (Daniel 3:13-18) 

Hulle het volle vertroue dat die Here hulle sal red uit die oond, maar hulle maak dit duidelik dat selfs al sou Hy dit nie doen, hulle NOGTANS nie voor die beeld sal buig nie. Hulle sal ongeag wat gebeur getrou bly aan God! 

Habakuk se beroemde lied. 

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. 

Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. (Habakuk 3:17-19) 

Die gelowige verklaar hier dat al sou als wat verkeerd kon gaan, wel verkeerd gaan sal hy nogtans, ten spyte van al sy vreugde in die here vind en sy vertroue op Hom stel! 

Hoekom kon hierdie gelowiges so ‘n onwankelbare vertroue en ook lojaliteit teenoor God hê? Al loop als skeef, al kon hulle hul lewens verloor? 

1) Hulle het God waarlik geken. Hulle het Hom leer ken uit die geskiedenis van Israel as die getroue God wat in die donkerste tye nog steeds sy beloftes hou. Dink aan Abram, Isak en Jakob. Moses en die Uittog, Josua… 

Jy kan net sê “NOGTANS” as jy weet met watter God jy te doen het. Die getroue, liefdevolle, almagtige en regverdige Verbondsgod! Ja, ook as jy siek is, ook as dit finansieel sleg gaan, ook as daar droogte is, ook as jy beledig en uitgestoot word, selfs ook as jy in die vuur moet sterf, dan beteken dit nie dat daar iets fout is met sy liefde of sy almag nie! Dan weet ek hierdie dinge is sy soewereine en volmaakte wil! 

2) Hulle het God ook waarlik lief gehad. Daniël en sy drie vriende het alreeds ‘n toets deurstaan toe hulle geweier het om van die koning se heidense kos te eet. (Daniel hoofstuk 1) Hulle het God regtig lief gehad en Hom daarom gehoorsaam. Ware liefde vra nie, wat kry ek uit die “deal” nie, ware liefde sê, al gaan als verkeerd, NOGTANS bly ek getrou aan U. 

Ek en jy kan net sê “NOGTANS” as ons God leer ken het in die geskiedenis van Jesus Christus… 

 As ek persoonlik besef het wat sy kruis en sy opstanding vir my beteken het. Ek kan net sê “NOGTANS” as ek Jesus Christus liefhet omdat Hy persoonlik my sondeskuld en straf gedra het! 

Die grootste voorbeeld van die begrip NOGTANS kry ons in die lewe van Jesus self daar in die verskriklike smeltkroes van Getsemane! Jesus verkeer in ‘n geweldige intense worstelstryd. Met sy hele wese skram Hy weg van die pyn en angs en vernedering van die kruisdood… Maar een saak tel meer as al sy angste, vrese, pyn en gevoelens…. Die wil van God, die liefde vir Sy Vader, daarom kan Hy ook sê “NOGTANS”. “Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." (Matteus 26:39) 

Jesus se NOGTANS is meer as ‘n mooi voorbeeld. Dis die historiese basis van ons geloof, toewyding en getrouheid. Juis by die kruis het Hy vir ons die finale en grootste bewys van God se liefde gedemonstreer.

Die kruis wys God het ons regtig lief. Die kruis wys God is getrou aan al sy beloftes. Geliefde dis net as ek en jy regtig die betekenis van die kruis verstaan het dat ons daagliks in die geloof sal kan sê : “Al loop alles verkeerd, NOGTANS sal ek getrou en gehoorsaam bly aan my Verlosser, Jesus!” 

Die Christen is die een wat kan sê : “Ek gaan U gehoorsaam, ek gaan U dien, ek gaan U liefhê ongeag my omstandighede, want by die kruis het U eens en vir altyd U liefde bewys!” 

Die Christen is iemand wat deurgaans sê “NOGTANS…” 

Al gaan dit sleg en al reën dit nie, NOGTANS sal ek die Here volg en dien. 

Al beleef ek vertwyfelinge, al voel my geloof swak NOGTANS hou ek aan vertrou op Jesus. 

Al word ek nie gesond nie, NOGTANS sal ek aanhou om die Here te loof. 

Al draai almal teen my, al word ek uitgeskel as outyds NOGTANS sal ek getrou bly aan die opdragte van Jesus! 

Al gaan ek baie geld verloor, NOGTANS gaan ek God se wil doen, eerlik besigheid maak en al my skuld betaal. 

Al verstaan ek nie alles in die Bybel nie, NOGTANS hou ek vas aan die waarheid van die Woord as my enigste norm. 

Al dreig my ou of meisie om my te los as ek op my Christelike beginsels staan, NOGTANS sal ek aanhou om Jesus te gehoorsaam.

Al voel ek nie soos ‘n Christen nie, NOGTANS gaan ek vas vertrou dat Jesus se kruisdood die volle betaling van my sondeskuld was! 

Is hierdie begrip NOGTANS deel van jou daaglikse praktiese Christenskap? Of is jy dalk ‘n AS Christen? (Dis presies die teenoorgestelde) “Here, as U beloof om my gelukkig of gesond te maak sal ek U dien. Here, as U vir my reën gee sal ek my bydra verhoog. Here, as ek maar met hierdie verkeerde verhouding mag aangaan sal ek U volg.” AS, AS, AS...altyd ‘n klomp voorwaardes! Dis nie Bybelse Christenskap nie. Dis selfbedrog, wat gaan eindig in die hel! 

Kan jy al sê “NOGTANS”? As jy onseker is , nooi ek jou uit om na die kruis te kom kyk… Sien : Jesus gee Homself vir jou, sy laaste druppel bloed, sy laaste asem! Hy hang van God en mens verlate weens sy liefde vir jou! Hy vat al jou skuld op Hom, Hy roep uit : “Dis volbring!”


Al loop als verkeerd, NOGTANS sal ek die Here dien en loof! Hyself is my Vreugde!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.