BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 09 Oktober 2019

DIE ALGEMENE SINODE 2019


se besluit oor SELFDEGESLAGVERHOUDINGS (sien onderaan) is ‘n meesterlike voorbeeld van kwalik bedekte oëverblindery, slinkse sagmaak tegniek en eintlik niks anders as verbale diarree nie! ‘n Teologiese maagwerksel wat erg aansteeklik is en tot ‘n epidemie van die dood gaan aanleiding gee! 



Die besluit klink so mooi en versoenend (want die behoudende lidmate moet gepaai word), maar kyk jy mooi is hier ‘n vrypas vir die legitimasie van aktiewe homoseksuele en terstond beoefenaars van bykans enige seksuele afwyking en vergrype. Solank dit in “integriteit” gedoen word! Hoe word dit bepaal? En deur wie? ‘n Saamblyer, poligamis of biseksueel wat in sogenaamde “integriteit” lewe met al sy aanhangsels sal dus ook predikant kan word! 

Daar word slegs die illusie van gesprekvoering en verdraagsaamheid geskep, want die opdrag word reeds aan ATLAS gegee om ‘n “kerklike formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” Ons praat nog, maar ons maak solank ‘n formulier om sonde amptelik te seën! En let op hulle kies hulle woorde mooi. Nogal “burgerlike verbintenisse”. Hierdie term word weereens as kompromis gebruik om die behoudendes te paai. Hulle noem dit nie nou al ‘n “huwelik” nie. Dis uiterste skynheilige bedrog! Sommige predikante het alreeds “huwelike” bevestig tussen homoseksuele en daar word nie teen hulle opgetree nie. 

Die besluit wil maar net die Bybelgetroue lidmate tydelik paai om ‘n massa uittog uit die kerk te probeer verhoed. Die taktiek is duidelik om te probeer tyd koop om die onrustige lidmate mettertyd te oortuig om nie meer die Bybel te glo en God se standaarde te handhaaf nie! En diegene wat uiteindelik nie gaan saamloop nie, sal aktief vervolg word. “Mark my words!” 

Ekself glo dat daar inderdaad in liefde en deernis met alle mense omgegaan moet word wat stry teen die sonde en in gebrokenheid voor die Here die pad van heiligmaking wil stap. Dit sluit homoseksuele in... Hierdie besluit van die AS gaan egter nie daaroor nie, maar is ‘n slinkse plan om sonde te sanksioneer en uiteindelik die regverdiges te vervolg. 

Die Algemene Sinode het ‘n wolweskuilplek geword. Polities korrek, maar teologies verward. Die skape van Jesus moet hiervan kennis neem en die pad vorentoe loop met slangversigtigheid en duifopregtheid, anders gaan ons onkant gevang en opgevreet word! (Matteus 10:16) 


Selfdegeslagverhoudings

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.
5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte,  lidmate se:
6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
6.2 toegang tot die sakramente,
6.3 integriteit van verhoudings, en
6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.
7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:
7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
7.2 toegang tot die sakramente,
7.3 integriteit van verhoudings, en
7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.
8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,
8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.
9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ‘n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ‘n ingeligte besluit neem.
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
11. Die Algemene Sinode
11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;
11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;
11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.
11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.
12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

8 opmerkings:

  1. Vir die wat nog enigsins twyfel lees die kort Bybelboek (2 bladsye) van Judas!

    AntwoordVee uit
  2. Inderdaad Johannes! Jy kon dit nie beter, duideliker, eerliker en meer akkuraat gestel het nie!

    Die woorde van 2Thess. 2: 8 tot 12 beskryf die tyd en die situasie wat nou besig is om in die NGK tot volheid te kom: “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid”.

    Mag die HERE aan ons genade, wysheid en krag verleen om staande te bly (2Thess. 2: 15 tot 17) sodat die woorde van Op. 3: 8 ook op ons van toepassing sal wees! Dit is nou die tyd waarvan Jesus in Matt. 24: 9 tot 13 gepraat het. Valse profete, misleide mense, ‘n toename in ongeregtigheid, ‘n afgekoelde liefde vir die HERE en sy kinders.

    Laat ons volhard in die Woord van die HERE en in voortdurende volhardende gebed en smeking voor God se troon!

    Amen, ja kom, Here Jesus!

    Hector Jooste
    (NGK Otjiwarongo, Namibië)

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Johannes, Hector
      Die pad wat die Algemene Sinode nou al vir so lank neem is regtig ontstellend. Dit bly ongelooflik tragies dat 200 afgevaardigdes vir 'n hele geloofsgemeenskap van die NG Gemeentes so 'n besluit kan neem. Inderdaad is daar geen ander weg as om as belydende Christen te bly volhard in die gebed, en te verootmoedig voor die Here. As ons dan so uiteenlopende uitlegging van Gods Woord het ...aanbid ons sekerlik nie dieselfde 3 Enige God nie. Diversiteit op die markplein is verstaanbaar maar hoe kinders van die Lig en duisternis saam kan loop in die kerk van die Here Jesus Christus verstaan ek nie, want dis onmoontlik dat ons dieselfde belydenis kan he.

      Ek wonder of die Alg Sinode ook die pad so sou geloop het as dieselfdegeslag "huwëlike" onwettig was in die RSA ?

      Mag die genade van ons Here Jesus Christus , die liefde van God, en die krag van die Heilige Gees ons dra in hierdie vervalle deurmekaar wereld. Vrede !

      JP Rossouw
      NG Gemeente Omaruru

      Vee uit
  3. More Johannes!

    Met die lees van jou puik artikel allermaal het die Woorde in Mark 15:18-20 (OV) by my opgekom "en hulle het Hom begroet: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle slaan Hom met 'n riet op die hoof en spuug op Hom en val op die knieë en bring Hom hulde. En toe hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die purperkleed uit en trek Hom sy eie klere aan; en hulle lei Hom weg om Hom te kruisig..." O hoe verskriklik die verwaandheid van mense en rade en sinodes om Hom te spot en Sy Woord te verdraai en hulself en hulle sonde te regverdig omdat dit die skares tevrede stel (Mark 15:1 "En dadelik, vroeg in die more, het die owerpriesters saam met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele Raad 'n besluit geneem; en nadat hulle Jesus geboei het, het hulle Hom weggelei en aan Pilatus oorgelewer..." en v8 "En die skare het geskreeu en begin vra..." Maar Sy oordeel wag, "...elke knie sal buig..." ook dié Sinode.

    Ek wonder altyd of mense weet hoe swaar 'n meulsteen weeg...niemand sal kan watertrap met een om jou nek nie; en niemand gaan kan staan teen die oordeel van die Lewende God nie, in wie se hande dit verskriklik is om te val. Blinde leiers van blindes, en struikelblokke. My hart ween saam terwyl daar predikante soos jy & Hector is wat na julle kuddes moet omsien te midde van sulke besluite, en talle lidmate oral is wat ons Heer opreg dien. Ons bid vir die kerk, en vir julle.

    Gaan voort om hierdie kosbare artikels te plaas my broer. Mag die Here dit gebruik. En mag Hy ons staande en getrou hou deur Sy genade.

    Taylor Ridgard
    (AEB, Pretoria)

    AntwoordVee uit
  4. Ds Johannes en die ander wat teen die uitsprake van die sinode opstaan, ek eer julle. Maar wat nou van hier af? Ons weet die NG Kerk het sy siening by die sinode duidelik gemaak, gaan julle nog onder die vaandel van die NG Kerk staan? Ons kan nie deel wees van die groot sambreel en nie met sekere stelling saam stem nie. Ons is vir hulle of teen hulle. Deut 7:25 en 26 is duidelik oor die gruwel wat ons in ons huise inbring nie.
    Vir enige verder vrae kontak my asb gerus op 083 294 5255, Suid Afrika.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Broer die saak is om verskeie redes nie so eenvoudig nie. Eerstens, die plaaslike kerk is volledig kerk. Ons is nie 'n tak van 'n groter kerk nie. Ons self besluit byvoorbeeld wie hier mag preek en wat hier geleer word.
      Die praktiese vraag is waarheen? Hier is soveel kosbare skape van Jesus - wie moet hulle versorg? Die kerklike toneel orals is baie deurmekaar...

      Enige gesprek en verheldering is egter welkom!

      Vee uit
  5. Johannes

    Die AS se besluit lei my gedagtes onomwonde na Rom 12:2 toe. "Don't let the world around you squeeze you into it's own mould.". Ons het aan die wêreld gelykvormig geword. Ons het toegelaat dat die wêreld ons in sy vorm-skema ingegiet en ingedruk het. Ons is nou in pas gekom met die denk en leefpatroon van vriend wêreld romdom hierdie kwessie. En dis hartseer en pynlik. Ons laat nie meer toe dat God ons verander en ons denke vernuwe sodat kan onderskei en doen wat sy wil en vir Hom goed en aanneemlik is nie.

    Jesaja 8:20 waarsku dat wie nie volgens die woord praat nie, sonder toekoms is!! Em 'n huis wat onderling verdeeld is kan nie staande bly nie.

    As gemeentes het ons die Here se wysheid en leiding nodig hoe om hierdie sensitiewe aangeleentheid verantwordelik te hanteer. Veral ook om die eenheid van die Kerk van Christus te dien en te bewaar.

    Groete in Hom.
    Coen Sutton

    AntwoordVee uit
  6. Dankie - ek voorsien (gegee die agtergrond van hierdie onverkwiklike uitgerekte en nog steeds onafgehandelde Taakspanne se verslae sedert 2007) dat die stryd wat voorlê in die NGK baie gaan verloop soos wat dit die afgelope paar jaar in die UMC in Amerika afspeel. Die fliek Denial se boodskap aan die NGK se “leierskap” is dalk alreeds te laat.......

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.