BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 25 Augustus 2019

PANIEKERIG!

Soveel dinge dreig om ons paniekerig te maak... Nou praat ek nie vandag van die droogte hier by ons, die Amasone wat afbrand (foto Global News) of Trump se handelsoorlog nie. Dit gaan oor al die chaos, goddeloosheid en verwarring op die kerklike toneel... (kliek) Soveel stemme en sienings... Wie moet ek glo? Wat gaan van my word? Hoe weet ek wat is reg? Hoe gaan ek veilig by die hemelse wenstreep kom?

Valse lering saai verwoesting. Juis ook binne die kerk. Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse leringe wat Bybelse norme ongeldig verklaar (Dit lei tot etiese onsekerheid. Wat is nou reg/verkeerd?)..), valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, valse lering wat al die fokus op predikers, profete en wonderwerkers plaas... en so kan mens aangaan... 

Niks onder die son is egter nuut nie! Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus in 2 Timoteus 2 teen die gevaar hiervan. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies rig hulle groot skade aan! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” (16-18) 

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ons die skuddende aanslag van valse leringe oorleef? Meer persoonlik, gaan ek en jy wat weet dat ons aan Jesus behoort veilig by die hemelse wenstreep kom? Die Goeie Nuus is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee! Vastigheid te midde van aardskuddende valse lering en verwarring! 

GODDELIKE FONDASIE

Dis die vertroosting wat Paulus aan Timoteus gee in 2 Timoteus 2:19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament, onwankelbaar! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot, DIE KERKBODE kan propaganda maak... nogtans God se fondament staan vas! 

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU! 

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! (En die volgorde is nogal baie belangrik!) 

OU TESTAMENTIESE AGTERGROND 

Die stelling van Paulus oor die Goddelike fondament het ‘n duidelike Ou Testamentiese agtergrond. Dis die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses se gesag waarvan ons lees in Numeri hoofstuk 16. Dit het oor meer as ‘n persoonlike saak gegaan, dit was ‘n verwerping van God se openbaring en ‘n poging om God se volk te mislei. (Net soos wat Himeneus en Filetus wou maak!) Wat was Moses se reaksie? “Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: "Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom.” (Numeri 16:4,5) Moses laat als rustig in God se hande. God het mos geweet wie Hy verkies het en wie aan Hom behoort! (Die eerste deel van die fondasie waarvan Paulus praat). Korag, Datan en Abiram het toe te doen gekry met die oordeel van God self! Die res van die volk het duidelik die opdrag gekry om weg te kom van hulle en hulle nie deur hulle sonde te laat besoedel of beïnvloed nie! “Hy sê toe vir die gemeente: "Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie." (Numeri 16:2) 

TROOS EN OPDRAG

Kom ons kyk nou verder na die detail van die fondasie waarvan Paulus praat: 

Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! (Al is dit nie altyd vir ons duidelik nie) Psalm 1 sê ook : “Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.” (OAV) Uiteraard,“ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou en ons bewaar! Dieselfde waarheid as wat hy in Filippense 1:6 op ’n ander manier sê! "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom." Geliefdes, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend gestel in Judas 24,25! “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. 

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin! Bedink God se beloftes! 

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel, Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk. “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.” (21) 
Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (22) Die OAV gebruik die direkte woord “vlug.” Gebruik jou voete as dit nodig is! Tree drasties op... 

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Daar is ‘n VASTE GODDELIKE FONDAMENT!

 Hou twee sake voor oë! 

1) Fokus op God se genade en almag soos geopenbaar in Jesus wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! 

2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies... 

God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Wat hy hier skryf is dus baie meer as mooi teorie... Hoor sy vertroue in die aangesig van die dood in dieselfde brief: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:18 )

Hiervan kan elke kind van God ook seker wees te midde van die storms!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.