BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 05 April 2019

AFSPRAAK BY BET-EL


- DIE GETROUE GOD ONTMOET MET ‘N SKELM VLUGTELING! 

Dis ‘n donker en harde tyd vir Jakob! Die nag het hom ingehaal en hy slaap met sy kop op ‘n klip! Soos ons weet is hy op hierdie stadium ‘n vlugteling, want hy het saam met sy ma Rebekka, bedrog gepleeg en sy bejaarde pa Isak mislei en sy tweeling broer Esau woedend gemaak. Jakob is ‘n bedrieër en sy skelmgeit het hom nou ingehaal! Hy vlug vir sy lewe... 

Die wonderlike van hierdie verhaal in GENESIS 28:10-22 is dat God nie hierdie glibberige skelm vergeet nie, maar Homself aan Jakob openbaar op ‘n onverwagte plek op ‘n onverwagte tyd! God is inderdaad alomteenwoordig, orals! Hy kan Homself enige tyd en enige plek aan enige mens openbaar. Hy reël ’n ontmoeting soos en wanneer Hy wil... Ook juis met mense wat aan die hardloop is, wat dalk juis probeer wegvlug van God. Ook aan mense in die grootste nood en ergste krisis. Bang mense, benoude mense, stukkende mense, skuldige mense, sondige mense... Jakob sou kon dink dat hy ver is van sy voorvaderlike heiligdom by Berseba, net om hom nou vas te loop in God self. Dit verbaas hom en dit laat hom eintlik skrik. “Jakob het wakker geskrik en gesê: "Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie." Jakob het bang geword en gesê: "Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel." (16,17) Dit laat mens dink aan Psalm 139:7-12.* Jakob moes ontdek, ook hier ver van sy huis is God naby, hier is God aktief, hier staan hy voor die poorte van die hemel! 

God kan jou enige tyd, enige plek ontmoet! 

Dis opmerklik dat die skelm vlugteling Jakob nie hier ‘n skrobbering of teregwysing van God kry nie. Hy kry nie raas nie. Inteendeel, Hy kry ‘n bemoediging en versekering. God verskyn aan Hom as die getroue en genadige God. God verskyn aan die bedrieër nie omdat hy ‘n bedrieër is nie, ook nie omdat hy tog wel oor goeie eienskappe sou beskik nie, maar omdat God getrou is aan sy verbond! God se verbond wat hy aan sy oupa Abram gemaak het, aan sy pa Isak oorgedra is word nou herhaal aan Jakob! “Toe kom staan die Here by Jakob en sê: "Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.” (13,14) Dis ‘n basiese herhaling van die drie elemente van die belofte aan Abram : ‘n groot nageslag, ‘n land en die seën aan alle nasies! Dis ‘n oorvloedige ruim belofte. Die grondgebied sal “uitgebrei” word soos ‘n dam wat sy walle oorstroom! Jakob se sonde en mislukkings kon nie die waarheid van God se verbondsbeloftes uitwis nie! 

Jakob kry ook meer as net ‘n algemene herhaling van God se beloftes. God praat met hom baie persoonlik in sy situasie binne die raamwerk van sy verbond. “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het." (15) Detail maak vir God saak. God sien die nood van sy vlugteling kind raak. Hy het ’n besondere behoefte aan God se teenwoordigheid, leiding en beskerming en dis waarvan God hom nou verseker! 

God werk baie intiem en persoonlik met ons. 

Jakob se hart kon nie onaangeraak bly teenoor die goedheid en genade van God nie. Dit wek ’n reaksie by hom en hy maak ’n gelofte aan God en stig sommer daar en dan ’n aanbiddingsplek.(20-22) Na sy ontmoeting met die lewende God kon Hy nie anders nie, hy verbind homself daartoe om God te dien, ook met sy besittings. Natuurlik is ’n gelofte aan God ’n bitter ernstige saak! Die Skrif waarsku op baie plekke teen onnadenkende geloftes. Tog gebeur dit dat sondaars se harte so oorweldig word deur God se goedheid en genade dat hulle nie anders kan as om hulleself aan Hom oor te gee en trou aan Hom te beloof nie! Natuurlik ons redding is nie gebou op ons geloftes nie, ons geloftes is ’n reaksie op God se redding! 

Beleef jy nood, is jy dalk besig om van God weg te vlug, het jou sondige keuses of onverantwoordelike besluite jou ingehaal? God het nie sy beloftes aan jou vergeet nie. God ontmoet met jou by Bet-El, nou! 

VRAAG : Waar is jou Bet-El, jou huis van God? Weet jy dis nie in die eerste sin ’n plek nie maar ’n PERSOON. Jesus! 

Jesus self is nou die tempel, die huis van God (Bet-El) in die finale sin! Dis merkwaardig dat Jesus self na hierdie stukkie geskiedenis van Jakob verwys. 

Verder sê Jesus vir hom: "Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op— en afklim na die Seun van die mens toe." (Johannes 1:51) 

Die engele wat heen en weer op en af gegaan het op die trap/leer in Jakob se droom was die aanduiding dat hy met n Goddelike heiligdom en teenwoordigheid te make gehad het.` n Hemelse bevestiging dat God hier is! Die engele gaan opwaarts na die hemel om aan God te rapporteer en daal weer af om God se bevele uit te voer. As Jesus na hierdie gedeelte verwys is om vir sy dissipels te laat verstaan dat hulle hemelse bevestiging sal kry dat Hy die Messias is wat deur God aangestel is. Soos elke Jood vir Jakob as die stamvader van Israel geëer het, moet almal nou Jesus as die Messias erken!** God openbaar Homself nou nie meer in besonder op ‘n fisiese plek en heiligdom soos Bet-El nie, maar in Jesus self! Hy vervang die tempel. (vgl. Joh 2:18-22) Al God se beloftes het in Jesus waar geword. As jy jou vertroue op Jesus alleen plaas, is al hierdie beloftes joune! In Jesus word jy deel van Abram se nageslag, in Jesus word jy ‘n erfgenaam van die nuwe Kanaän, in Jesus is jy ‘n ware geseënde! In Jesus kan jy nou ook hoor: “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan...” Hierdie beloftes is nie vir goeie mense bedoel nie, maar vir skelms en sondaars soos Jakob en ek en jy! Hierdie beloftes kom na jou in hierdie moeilike tyd van verspeelde kanse, verkeerde keuses, mislukte planne, sonde verskeurdheid, ellendes van droogte, siekte en gebrek... 

Deur vertroue op Jesus alleen, kry ek deel aan die volle rykdom van God se beloftes! 

En as ek en jy hierdie beloftes glo en sy genade aanvaar kan ons nie anders nie as om onsself aan God toe te wy nie. Soos die ongelowige Thomas wat ook ’n genadige ontmoeting met Jesus beleef het na die opstanding. Mag sy reaksie : “My Here en my God!” ook my en jou reaksie wees. Jakob het ‘n kortstondige ervaring gehad, jy kan deur Jesus God se majesteit, sy liefde, sy redding permanent beleef! Want Jesus is daagliks by sy mense deur die inwonende Heilige Gees! 


*Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (Psalm 139:7-12)



** Carson, The Gospel according to John, p164



Enige tyd, enige plek... daar waar Jesus met jou ontmoet is die heiligdom van God!




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.