BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 25 April 2019

TERWYL ALLES WANKEL...

WEET DAN JY IS ‘N ONTVANGER VAN ‘N ONWANKELBARE KONINKRYK EN WEES DANKBAAR! 


Een van die rykste biljoenêrs in Denemarke verloor drie van sy vier kinders in die onlangse bomaanvalle deur Moslem ekstremiste in Sri Lanka.* Tragies! Ook ons hier op Tsumeb is die afgelope tyd amper op ‘n wrede manier herinner daaraan dat die geskape werklikheid wankelbaar, tydelik, broos en verganklik is : Die onsinnige moorde op Arandis, die !Uris Lodge wat afgebrand het en talle ellendes en siektes! O, ja en dan is daar ook nog die Notre Dame... 


In HEBREËRS 12:25-29 lees ons van wankelbare en onwankelbare dinge. Daar is inderdaad net twee soorte goed in die ganse heelal : wankelbaar en onwankelbaar! Ons kan alles onder hierdie twee noemers indeel. Reeds in die Ou Testament word hierdie feit duidelik gemeld. Psalm 102:27,28 vertel : "Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ‘n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie." 

Die geskape sigbare werklikheid is wankelbaar, eindig, nietig, tydelik! God alleen daarteenoor is onwankelbaar, ewig, onvernietigbaar! 


WEES GEWAARSKU! 

Ongelukkig spandeer mense meestal hulle tyd en energie op die wankelbare dinge. Die hartseer feit is, meeste mense plaas al hulle hoop en toekomsvreugde op die wankelbare dinge. Met kinders van God moet dit anders wees – ons is die ontvangers van ‘n onwankelbare koninkryk. Kom ons kyk mooi wat die skrywer hier vir ons wil leer: 

Hy rig ‘n kragtige waarskuwing! “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?” (25) 

Pasop! Luister na God! Dit was een van die bittere lesse wat uit die woestyntog geleer is – keer op keer het Israel nie op God se waarskuwings ag gegee nie en die skrikwekkende gevolge gedra! 

Dis nou nog belangriker om te luister. Hy stel hier ‘n kontras met die Sinaï gebeure : destyds het God se stem gekom van ‘n aardse berg om die bepalings van die Ou Verbond af te kondig, nou word die Nuwe Verbond (evangelie) vanuit die onsigbare Sion uit die hemel afgekondig! Hoeveel minder sal ons die oordeel nou vryspring as ons hierdie Woord van God verwerp. Ongehoorsaamheid aan die evangelie bring nog ‘n erger oordeel as ongehoorsaamheid aan die wet van die Ou Verbond! Die Goeie nuus het ‘n keersy,’n anderkant van die muntstuk. Die genade is groter in die Nuwe Verbond, maar die skrikwekkende konsekwensies as ek my nie aan hierdie genade steur nie is ook groter! 

Toe God vanaf Sinai gepraat het was daar ‘n aardbewing. “Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: "Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel." (26) Nou met die aankondiging van die Nuwe Verbond gaan dit nog verder. Hy haal aan uit die profeet Haggai. “So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe.” (Haggai 2:6) Die aankondiging van die begin van ‘n nuwe bedeling! Die bedeling wat deur Jesus aangekondig en ingelui is!

Vir die skrywer is hierdie woorde ‘n duidelike bewys - Die materiële dinge (wankelbare, tydelike dinge) gaan geskud word, gaan tot niet gaan, om plek te maak vir ‘n hele nuwe onverganklike bedeling. Alle geskape dinge is tydelik. Maar daar gaan ‘n herskepping plaasvind! Die koninkryk van God wat aan die kom is, is onwankelbaar en ewig! (Dink sommer aan die droom van Nebukadnesar - die groot klip wat die beeld vernietig!) God se koninkryk is nie maar net ‘n verbygaande tydelike instelling soos alle aardse dinge nie! Dis nie ‘n lugkasteel of bedrogspul nie. Dis nie maar die lee beloftes van ‘n Obama, Trump, Zuma of Ramaphosa wat almal uiteindelik weer gaan teleurstel nie... God se koninkryk is onaantasbaar, volmaak, onwankelbaar... 

WEES DANKBAAR! 

En nou die heerlike ongelooflike nuus : Ons wat glo in ons volmaakte Hoëpriester Jesus is ontvangers hiervan! Ons wat staatmaak op sy offer en nie op ons eie goedheid nie, is burgers van die onwankelbare koninkryk! Ons het ‘n vaste belegging in ‘n ewige onverganklike bate! 

Die enigste logiese, redelike reaksie : Wees dankbaar! “Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil” (28) Die essensie van ons reaksie op God se genade is altyd dankbaarheid. Dankbaarheid is natuurlik iets konkreet, nie net teorie of gevoel nie... Dit moet behels dat ons God dien met eerbied en ontsag! Eerbiedige respek is nie onvanpas in die konteks van dankbare liefde vir God nie. (God is ‘n Vader, ja maar ‘n Vader vir wie ons respek het, nie ‘n speelmaatjie nie!) Prakties : Ons moet Hom dien soos Hy dit wil. Dit druis direk in teen die humanisme wat die mens in die middelpunt stel. Ons moenie God dien soos ons voel of soos dit vir ons lekker of voordelig is nie, maar soos Hy dit wil! Ons kry konkrete voorbeelde van hierdie dankbare diens in hoofstuk 13 : Broederliefde, gasvryheid, praktiese medelye, respek vir die huwelik en seksuele reinheid, ‘n lewe vry van gierigheid en vol vergenoegdheid, die bring van lofoffers! 

GOD IS VUUR! 

Nou hoekom is die dien van God in dankbaarheid en respek so ‘n ernstige saak? Die skrywer draai gee doekies om nie! “want ons God is ‘n verterende vuur.” (29) Nooit mag ons vergeet wie God is nie – ‘n verterende vuur! Ook in die konteks van die Nuwe Verbond waarop die Hebreërskrywer soveel klem lê! God se karakter is nie nou skielik anders nie! Hy het nie skielik in die Nuwe Testament ongeërg en slap oor sonde geword nie! Vuur simboliseer die angswekkende heiligheid van God, sy onverdraagsaamheid en toorn oor alle sonde. Dink aan: Sodom en Gomorra (met vuur uit die hemel verwoes), doringbos (die vuur wat brand), Sinaï (vuur en rook). Ook in die profete kry ons hierdie waarheid: 

“Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in ‘n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer, en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig.” (Jesaja 10:17,18) 

God is ‘n verterende vuur! Hierdie aspek van sy karakter word vandag feitlik volkome verswyg... 

Wanneer laas het ‘n sinode lidmate hieraan herinner? Ons sal oneerlik wees en ontrou aan die Woord as ons dit verswyg! 

God as vuur en God as liefde is nie teenstrydig nie, maar deel van dieselfde werklikheid. Respek en verwondering oor sy groot genade gaan saam met ‘n besef van sy skrikwekkende heilighed! 

Who can behold the blazing light? 
Who can approach consuming flame? 
None but Thy wisdom knows Thy might; 
None but The word can speak Thy name. (Isaac Watts) 

Is jy ‘n ontvanger van hierdie onwankelbare koninkryk? Wys jou lewe dit? Onthou weer die onwankelbare koninkryk van God is die enigste vaste bate in die heelal wat ware sekuriteit bied! (Terloops - Materialisme is die aanbidding en verering van hierdie einste wankelbare dinge...dis nie net afgodery nie, dis dwase afgodery!) Maak ons skatte in die hemel bymekaar of is al ons aandag steeds gefokus op die koorsagtige gejaag na aardse bates en aansien? Bates wat gaan brand...

Dien ons God met eerbied en ontsag? Of dien ons die eie ego en eie ek? 

Leef soos mense wat ‘n onwankelbare bate besit wat God ons gegee het! Leef heilig, leef dankbaar!  En wees nou eerlik:

Waar is jou hart, jou hoop, jou belangstelling, jou beleggings...?

*Anders Holch Povlsen is die eienaar van die klere kettinggroep Bestseller en grootste aandeelhouer in die klere reus Asos. Hy is ook volgens Times die grootste grondeienaar in die Verenigde Koninkryk.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.