BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.