BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 25 April 2024

Die Afkop Hond

 FAMILIE IS KOSBAAR...

Dis deel van die De Konings se familie oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...

Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.

Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie neef Thomas…waardeer!) Thomas  as oudste neef is  soort van die skakel en verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer afgestof.

Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes. Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar tevergeefs.

In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense. Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...

Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar Bontes het nie ‘n kop nie...”  Die presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...

Die volgende dag is daar weer na Bontes gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes ‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...

Thomas het ons nou weer na die einste brug gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.


Thomas, my oudste neef


Die treinbrug oor die Gamtoos


Tannie Miem is nou op 93 jarige ouderdom, my oorlede Pa se enigste lewende sibbe. Nog vol energie en helder van verstand. Natuurlik ken sy die storie van die afkop hond. Ek het haar gevra. Maar sy self onthou niks van die gebeure nie, sy was te jonk.

Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook moeilik om te verklaar...

Wat sou kon gebeur het?  Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!


Natanie (13) en tannie Miem (93)






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.