- "Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor!"
Wat dink ek oor die feit dat die NG Kerk se
Algemene Sinode homoseksuele-burgerlike verbintenisse goedgekeur het en
predikante nou toelaat om sulke verbintenisse in die kerk te bevestig?
Ek antwoord graag en begin deur te wys op Jesus as
ons Here en enigste Hoop!
"Dáár is die Lam van God wat die
sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29) roep Johannes die Doper uit
toe hy vir Jesus sien. Ek onthou nog goed die woorde van prof Flip Theron in
die Dogmatiek klas , “Menere moet nooit toelaat dat
iemand jou sonde van jou af wegneem nie, want dan kan Jesus Christus dit nie
wegneem nie!” As ons mekaar se sonde wegneem, mekaar
ontsondig, mekaar regverdig in ons sonde, mekaar se sonde institusionaliseer,
mekaar se sonde wettig dan kan Jesus ons nie meer verlos nie. Die NG Kerk het sopas
die sonde van homoseksuele dade gewettig, geïnstitusionaliseer, weggeneem en
vrygespreek! Diegene wat die NG kerk
se vryspraak aanvaar, MIS die vryspraak
van Jesus al het HY daarvoor met sy
kruisbloed betaal! Dit is die toppunt van liefdeloosheid!
Miskien argumenteer jy dat sekere homoseksuele dade
nie sonde is nie, want Paulus was onbewus van die “kern-homoseksualiteit” in
die 21ste eeu se homoseksuele-verhoudings gekenmerk deur liefde en trou. Dan
was Paulus seker ook onbewus van “kern-gieriges”, “kern-egbrekers”, “kern-pedofiele”
, “kern-alkoholiste”.....
Daarom bly hy ongemaklik konsekwent wanneer hy ons
sonde aanspreek, “Laat julle nie mislei nie:
geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans
wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters
of rowers sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie! [Nie een
van die sondes is erger as die ander nie, maar ons durf nie waag om enige een
van hulle te wettig nie, want dan geld die volgende vers nie meer nie!] So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle
is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en
deur die Gees van ons God!” ( 1 Korintiërs 6:9-11; Nuwe Direkte vertaling)
Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese
eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die
Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor! Dit laat my
sidder en herinner onmiskenbaar aan Jesaja 5:21, “ Ellende wag
vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig
duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” Spr16:25
Oor die vraag wat Jesus sou gedoen het en of hy vir
prof Carson sou beaam het?
Jesus het alle sondaars met ope arms ontvang en
liefgehad, want dit is vir hulle sonde wat hy gesterf het. Jesus het ook vir
die sonde van homoseksuele dade gesterf. Wanneer die owerspelige vrou wat op
heterdaad in egbreuk betrap is voor Jesus staan en die skare haar wil stenig,
dan spreek Jesus haar vry met die woorde, “Gaan
maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Johannes 8:11) Ek
reken dat Jesus min of meer dieselfde sou sê vir ’n homo-seksuele persoon wat
op heterdaad betrap sou word, “Gaan maar en moet van
nou af nie meer sonde doen nie.”
In die evangelies sien ons dat Jesus die snykant
van God se wet in die nuwe bedeling veel skerper kom maak het! In Levitikus 20:10 lees
ons, "Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou
van ’n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die
vrou wat egbreuk pleeg.”
In Matteus 5:27 sê Jesus, "Julle
het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ [aangehaal
uit Eksodus 20:14] Maar Ek sê vir julle: Elkeen
wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk
gepleeg.”
Ek wonder wat sou Jesus gesê het van Levitikus 20:13, "Twee
mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak
word. Hulle verdien die dood.”
In die lig van Jesus se uitspraak in Matteus 5:27
sou Jesus waarskynlik min of meer iets soos die volgende gesê het, "Julle het gehoor dat daar gesê is: Twee
mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Maar Ek sê vir julle:
Elke man wat na ’n ander man kyk en hom begeer, het reeds in sy hart met hom ’n
homoseksuele daad gepleeg.”
Om terug te kom by die vraag of Jesus prof Don
Carson sou beaam het?
Kom ons kyk weer waarmee prof Carson sy antwoord
afsluit. “Homosexuality has become in our
day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live
under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely
everything. You just can’t duck that one. Sooner or later you face that issue
or you die.”
Kom ons luister nou na Jesus se woorde in Matteus 5:18-19
waar hy kommentaar lewer oor die vervulling van die wet wat onder andere
Levitikus 20:13 ook insluit en daarby ons ook vermaan om die Woord te
gehoorsaam. “ Dit verseker Ek julle: Die hemel
en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet
sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van
hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in
die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal
hoog geag word in die koninkryk van die hemel.” Ek dink tog Jesus sou prof Don Carson beaam het as
iemand wat onmiskenbaar buig voor die gesag van die Woord om dit te gehoorsaam.
Jy verwys in jou epos na die Algemene Sinode se
besluit as wonderlike nuus, maar weet jy daar is vele NG Kerk lidmate wat
anders op die Sinode besluit gereageer het. Die algemene gevoel is ’n gevoel
van verslaentheid en hartseer omdat die Woord van God geminag is in
hierdie saak. Baie lidmate voel na die besluit nie meer tuis in die NG kerk
nie.
Verder gee die Algemene Sinode ruimte dat albei
standpunte binne een denominasie gehandhaaf kan word (kerkrade moet self
besluit), dit is nie alleen onhoudbaar nie, maar ook vals en skynheilig.
Hier het ons twee Skrif-interpretasies wat ligjare van mekaar
verwyder is (sien dr JI Packer se artikel aangeheg) en onmoontlik binne dieselfde
geloofsgemeenskap geakkommodeer kan word. Een predikant sal twee gays binne in
’n stabiele verhouding oproep tot bekering en ’n ander een sal hulle bemoedig
om hulle homoseksuele identiteit met vrymoedigheid uit te leef. Dit is blatante
skynheiligheid en grens aan godslastering.
Dus moet lidmate en gemeentes van die NG Kerk nou
self kies watter lewenswyse en praktyk hulle wil navolg. Watter een sal ons
kies?
Wanneer ons kies moet ons net besef dat God se
Woord nie verander het nie, “Gras verdor
en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (Jesaja 40:8).
Daarmee saam moet ons kies met die wete dat “Jesus
Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs
13:8).
“ Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg kan lyk, maar die uiteinde
daarvan is die dood.” (Spreuke 16:25)
Vriendelike groete in Christus
(Boegenoemde brief is 'n duidelike antwoord van ds. Erik van Zyl, sendeling in Kaokoland en dosent by NETS in 'n brief na aanleiding van 'n onderhoud met DA Carson oor wat Christene te doen staan wanneer 'n denominasie ten gunste van homoseksuele leraars besluit)
Dit is 'n baie goeie brief die. Ek sal dit graag wil deel.
AntwoordVee uitBaie dankie broer Erik, dis besonder duidelik gestel!
AntwoordVee uitDis mooi Erik. Waardeer jou
AntwoordVee uit