BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 14 Oktober 2015

DANKIE DOPPERS!




KLASSIS MOOT VAN DIE GKSA SE MOSIE VAN LEEDWESE, SKOK EN AFKEUR TEEN DIE NGK SE BESLUIT AANGAANDE HOMOSEKSUALITEIT

Die Gereformeerde Kerke in Klassis Moot (BetEl, Daspoort, Meijntjieskop, Elofsdal, Innesdal, Kandelaar, OosMoot, Bronkhorstpruit, Pretoria(d), Wonderboom Suid, Totiusdal, Andeon, Bergsig) het die volgende mosies eenparig aanvaar by vanaand se vergadering:

Die Gereformeerde kerke in klassis Pretoria-Moot neem met leedwese, skok en afkeur kennis van die onlangse besluite van die Sinode van die NG Kerk, wat homoseksualiteit aanvaar en goedkeur in so mate dat mense wat ‘n openlike homoseksuele leefwyse beoefen, selfs as predikante toegelaat word en dat verbintenisse tussen sulke mense kerklik bevestig mag word.

Die Bybel wys homoseksualisme onvoorwaardelik af, soos duidelik onder meer uit Romeine 1: 26 en 27. Die besluit van die NG Kerk word diep betreur en noodsaak herbesinning van die ooreenkoms met die NG Kerk soos goedgekeur op die laaste algemene sinode van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Ons as Gereformeerde Kerke se ekumeniese verhouding met die NG Kerk het verlede week ‘n praktiese werklikheid in ons lewens geword met die NG Kerk Sinode se pro-homoseksualisme besluit.

Na aanleiding van hierdie besluit van die NG Kerk spreek hierdie vergadering van Gereformeerde Kerke in Pretoria-Moot sy kommer uit oor ons ekumeniese verhouding met die NG Kerk, asook ons hartseer oor genoemde besluit se liefdelose veragting van die HERE, sy Woord, en ons naaste.

Dit doen ons terwyl ons harte uitgaan na ons broeders en susters in die NG Kerk wat die geestelike aanslag en dwingelandy van afvallige Kerk-strukture baie erg beleef.

Hierdie vergadering se bede is dat die HERE al sy ware gelowige kinders in die NG Kerk en ook in die Gereformeerde Kerke deur sy Gees sal vul en lei (Efes 5:19; Rom 8:13-14; Gal 5:16) om hulself te verloën en sy Naam en waarheid teenoor die NG Kerk se pro-homoseksualisme besluit te bely, en haar oor haar euwels te bestraf (Mark 8:34-38; HK Sondag 12 v/a 32).

[Ons Gereformeerde broers se duidelike standpunt is vir ons 'n troosvolle bemoediging in 'n tyd wanneer ons eie Algemene Sinode ons in die rug steek - Johannes de Koning]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.