BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 13 Oktober 2015

“WAS HIERDIE SKANDE VAN DIE GESIG VAN CHRISTUS AF!”

- onderskei tussen verleiding en liefde.

Die aangrypende verhaal van die bekende martelaar vir Jesus in die tyd van die koue oorlog en die ystergordyn, Richard Wurmbrand, het so baie vir ons vandag te leer te midde van die stryd wat woed vir die siel van die NG Kerk.

Die onderstaande kom uit die merkwaardige verhaal van sy onmenslike lyding, “VIR CHRISTUS GEMARTEL” :

Toe die Kommuniste eers eenmaal aan die roer was, het hulle op knaphandige manier die middele van verleiding teenoor die Kerk gebruik. Die taal van liefde en die taal van verleiding is dieselfde. Die man wat ‘n meisie as vrou wil hê en die een wat haar slegs vir een nag wil hê om haar later weg te gooi sê albei: “Ek het jou lief!” Jesus het ons geleer om te onderskei tussen die taal van verleiding en die taal van die liefde en om die wolwe in skaapsklere van die regte skape te onderskei.

Toe die Kommuniste aan bewind gekom het, het duisende priesters, pastore en predikante nie geweet hoe om tussen die twee stemme te onderskei nie.

Die Kommuniste het ‘n kongres van alle Christelike liggame in ons parlementsgebou (van Roemenië) belê. Daar was vierduisend priesters, pastore en predikante van alle denominasies. Hierdie vierduisend priesters, pastore en predikante het Josef Stalin tot erevoorsitter van hierdie kongres gekies. Terselfdertyd was hy president van die Wêreld beweging van die Goddeloses en ‘n massamoordenaar van Christene. Biskoppe en pastore het die een na die ander in ons parlementsgebou opgestaan en verklaar dat die Kommunisme en die Christendom fundamenteel dieselfde is en naas mekaar kan bestaan. Die predikante het die een na die ander die Kommunisme geprys en die nuwe regering van die lojaliteit van die Kerk verseker.

Ek en my vrou was teenwoordig op hierdie kongres. My vrou het gesê : “Richard, staan op en was die skande van die gesig van Christus af! Hulle is besig om in Sy aangesig te spuug.” “As ek dit doen,” het ek gesê, “verloor jy jou man.” “Ek wil nie ‘n lafaard vir ‘n man hê nie”, het sy gesê.

Ek het opgestaan en die kongres toegespreek. Ek het nie die moordenaars van Christene geprys nie, maar Christus en God en gesê ons lojaliteit is in die eerste plek aan Hom verskuldig Die toesprake op hierdie kongres is uitgesaai en die hele land kon van die spreekgestoelte van die Kommunistiese parlement die boodskap van Christus hoor. Later moes ek hiervoor boet, maar dit was die moeite werd.


[Inderdaad moes Wurmbrand ‘n baie hoë prys betaal vir sy dapper opstaan vir Jesus. Hy moes veertien jaar van byna ondenkbare foltering deurmaak.]

Dis nou in die NG Kerk ‘n tyd van beslissing en noodsaaklik om tussen die taal van verleiding en ware liefde vir God en sy Woord te onderskei. Die begeleidende brief wat die Algemene Sinode uitgestuur het om almal te paai na hulle skokbesluit om homoseksuele gedrag reg te verklaar drup van hierdie verleidende liefde! Gaan ons val daarvoor? Gaan ek en jy opstaan vir die eer van ons Verlosser?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.