BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 11 Oktober 2015

ONS SAL NIE STILBLY NIE!

Oor die skande wat die Algemene Sinode van die NG Kerk oor ons gebring het mag ons nie swyg nie.


Dit raak soveel gelowiges binne en buite ons kerk. Mens se hart wil breek oor die gevolge van hierdie onbesonne daad!

Ek hoor soveel stemme van hartseer, ontnugtering, vertwyfeling...

Saterdagaand sê ‘n jongmens vir my : “Dit voel of die duiwel in die kerk inkruip”

Sondagoggend in my finale jaar katkisasieklas het die katkisante self hierdie saak aangeroer en ons kon ‘n lekker gesprek hê. EK vra hulle toe oor hulle gevoel/mening oor die AS se besluit. Hulle antwoorde raak jou diep. Dit was min of meer die volgende:

“Geskok.”

“Ek het dit verwag, omdat die wêreld in daardie rigting beweeg en die kerk raak al hoe meer soos die wêreld.”

“Teleurgesteld, as een sonde goedgekeur word, wat is die volgende?”

“Dis boos, dis ‘n gruwelike sonde.”

“Deurmekaar.”

“They were not following the Lord, but became like the world.” (Portugeesprekende katkisant)

Ons kon toe ‘n verrykende gesprek voer uit 1Korintiërs 6:9-11. Ons moet sonde sonde noem, juis sodat daar vergifnis en herstel kan kom!

Die kommentaar van ‘n Rooms Katolieke vriend van my maak mens skaam. Sy reaksie – “Ek het net een woord hieroor : skokkend”

Iemand skryf  soos volg (gedeeltelike aanhaling):

“O, my hart skeur vir wat ons aan Jesus Christus doen.

Ons is veronderstel om Sy rein bruid te wees wat Hy sonder vlek of rimpel aan die Vader wil voorstel. Maar, die Woord is waar wat sê smal is die weg, en min vind dit. Ons gaan 'n baie groot verassing kry op die oordeelsdag. Mens dink hulle is op weg na die Hemel, maar hulle wil nie met hulle sonde breek nie. Stry jy dan om in te gaan by die nou poort, sodat jy nie ook een is wat moet hoor "Gaan weg van my af, julle werkers van ongeregtigheid".

Ek gooi hierdie humanistiese sogenaamde liefde en deernis waarmee die NG Kerk sinode hulle besluite geneem het van my af weg. Ek wil niks daarmee te doen hê nie. Ek distansieer my uit en uit van dit. Wat my aanbetref het die NG Kerk sy eie god geword en kan ek nie meer na hom luister nie.

Mag God ons genadig wees.”

Ja, mag Hy ons genadig wees. Mag hierdie ontsteltenis ‘n impetus tot ware hervorming en herlewing wees!

STEMME 

Baie dankie ook aan so baie stemme wat mens hoop gee...
Ek waardeer dit en besef opnuut die kosbaarheid van Jesus se Bruid wat haarself gereed maak vir die Bruidegom. Laat ons mekaar daartoe aanspoor!

Ja, ek hoor die stemme van smart, ontnugtering en teleurstelling, MAAR ek hoor ook bemoedigende stemme van die wat bereid is om op te staan vir die waarheid en hulle liefde vir Jesus. By gisteraand se Bybelstudie oor Reformasie (ons behandel Nehemia - wat 'n fantastiese Bybelboek!!) hoor ek ook "stemme" wat dui op 'n nuwe begin, 'n nuwe toewyding aan ons Here en aan mekaar!

Kom ons stap die pad saam! Die Here van die kerk sal ons wel op die regte plek laat uitkom!




1 opmerking:

  1. Wat my verder ook baie erg omgekrap het was toe ek nou in prof. Johan van Rensburg se lywige verslag gelees het dat die Taakspan vir Homoseksualiteit nou hierdie keer alleenlik bestaan het uit lede wat almal apriories ten gunste van homoseksualiteit was en dit duidelik ten doel gehad het om dit by die Sinode goedgekeur te kry. As ek reg onthou het die vorige Taakspanne lede van beide kante gehad. Op die konsultasies was hierdie Taakspan negatief of koue skouers gehad vir insette wat van hulle siening verskil het. Daar was geen sprake van neutraliteit of objektiwiteit nie. How eerlik is dit nou in ag geneem so 'n kontensieuse saak?

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.