BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 05 Julie 2013

DIE BELOFTE BY DIE DAM

- ‘n groen Land Rover en ‘n lang bediening.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer daaroor, kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd aangepaste uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na sy nuutmaking deur die Gees (kliek op WAARLIK VRY)  en studies op Kalkbaai was Johan de Koning nou ‘n jong sendeling in diens van die Dorothea Sendinggenootskap. Op ‘n keer was hy bevoorreg om saam met Mnr. Hans von Staden, die sending se stigter en leier op toer te gaan na die Oos Kaap. So na aan sy ouerhuis en na ‘n geruime tyd reeds in die werk is hy vergun om vir ‘n week verlof te neem. Dit was heerlik om tuis te wees, en te kon getuig van God se seëninge. In Pretoria het daar egter nog ‘n heerliker verrassing vir hom gewag.



By sy terugkoms in Pretoria vra tannie Rosa Kuhn, een van die senior werksters vir hom: “Hoe dink jy my boetie, waar gaan ons heen?” “Rhodesië toe” was sy haastige antwoord. (Op daardie tydstip het die behoefte om na Rhodesië uit te reik prioriteit geniet.) “Nee, nie Rhodesië toe nie, maar Suidwes toe,” sê sy. Johan het ‘n uitroep van opgewondenheid gegee. Dit was te goed om waar te wees...



Die rede vir hierdie groot blydskap was ‘n belofte wat Johan kort vantevore gemaak het. Dit het so gekom. Na ‘n lang reeks dienste, het een van die ouer werkers in die sending, Marie Young eendag ‘n voorstel aan hom gemaak. “Hoekom neem jy nie Vilho saam met jou na die huis (van die De Wijns) by die Hartebeespoortdam nie, dan gaan rus jy ‘n paar dae en is jy ook nie so alleen nie.” Dit was soos dit later sou blyk ten diepste nie haar plan nie, maar so het Johan geglo, die Here se agenda. 

Evangelis Vilho Shijandja, ‘n Kwanyama afkomstig uit die destydse Suidwes-Afrika, en Johan het toe al ‘n veldtog of twee in Suid-Afrika saam gewerk en oor dinge in “sy land” gesels. Die dinge waarvan Vilho gepraat het was vreemd vir Johan, van die slegte behandeling van kontrakwerkers wat swaar gekry het op sommige plase tot Vilho se eie ondervindings met leeus. By die dam het hulle heerlik ontspan, berg geklim en dikwels saam gebid, ook natuurlik vir Suidwes en Vilho. Na ‘n tyd van gebed en Bybelstudie neem Johan, Vilho se Bybel en sê: “Ek gaan hierdie versie in jou taal lees en ek beloof jou ek sal dit nie weer vergeet nie... Weet jy waarom ek dit doen? Net om daardeur vir jou te sê, binne twee jaar sal ek in jou land gaan dienste hou.” Die vers was Johannes 1:12. Vilho was bly oor sy entoesiasme al was Ndonga, nie eintlik sy taal nie. (op daardie stadium was daar nog nie ‘n volledige Bybel in Kwanyama nie en het die meeste Kwanyamasprekendes ‘n Ndonga Bybel gebruik.)

Niemand sover sy kennis gestrek het, het van sy woorde aan Vilho geweet nie, en hier word dit binne ‘n paar ‘n kort tyd nou ‘n werklikheid. Dit was ‘n heuglike vreugde. Twee maande na sy belofte by die dam was Johan, Vilho en ander spanlede op weg na Suidwes.

 Dit was die begin van ‘n ingrypende koersverandering in sy loopbaan en lewenslange verbintenis met Suidwes-Afrika wat later Namibië sou word.

In Junie 1961 is Johan dus die eerste keer na Suidwes. Hulle het met ‘n Taunus bussie deur die Kalahari gereis. In Windhoek het hulle in die berugte Ou Lokasie sowel as in die nuwe woonbuurt Katutura gewerk. Dit was ‘n tyd van wonderlike ondervindings en merkwaardige bekerings. In Desember 1961 en Januarie 1962 was Johan vir die tweede keer in Suidwes. Daar is weer dienste in Windhoek gehou en die Aminuis reservaat is ook in Januarie besoek. Die rooi Kalaharisand van Aminuis was te veel vir die Taunus. Toe Johan op ‘n keer wou ratte wissel was daar geen koppelaar nie. So in tweede rat ry hy toe tot by die van der Westhuizens waar hy tuis was. Die man het darem geduld gehad en meer kennis van voertuie as hy. Die een na die ander stuk rubber is versny om die nodige koppelaaronderdeeltjie te maak. Maar elke keer sodra die koppelaar getrap word spuit die vloeistof uit. Met die laaste probeerslag het die Here egter hulle gebede verhoor...

Die Taunus het sy deeltjie gedoen, maar was duidelik nie geskik vir die toestande in Suidwes veral vir daardie jare nie. Dis dan nou waar die besondere verhaal van die groen Land Rover in die prentjie kom...

Johan was nou reeds in Suidwes gewees, maar streng gesproke was die belofte aan Vilho om in sy land te preek nog nie vervul nie, want sy land was eintlik Ovamboland in die verre noorde. Johan het gevolglik ‘n brief aan pastoor Hukka, die hoof van die Finse Sending in Ovamboland gepos om toestemming te vra om in dié gebied te gaan werk. Die antwoord het gekom: “As jy net evangelisasie werk wil kom doen is julle baie welkom om in Julie volgende jaar (1962) te kom.”

Hierdie goeie nuus het uitbundige vreugde gewek. “Ek gaan Ovamboland toe!” Johan se gasheer en ou skoolmaat, die apteker Pierre Retief by wie hy in Windhoek tuis was, het op sy tipiese dröe manier gereageer: “En waarmee dink jy sal jy Ovamboland toe gaan, seker nie met die Taunus-bussie nie. Vir Ovamboland het ‘n mens ‘n Land Rover nodig.” “Wel, God stuur my, en as Hy my stuur sal Hy ook die Land Rover stuur.” Met die woorde net so “profeties” uit sy mond as sy belofte aan Vilho by die dam, stap hy toe na sy kamer en gaan op sy knieë. Hier bid hy ‘n ernstige smeekgebed tot God vir ‘n Land Rover. “Here, U stuur my na Ovamboland, stuur nou asseblief ook vir my ‘n Land Rover.” Al het hy geen idee gehad hoe die Land Rover kon kom nie, was daar ook geen twyfel dat God sou voorsien nie. 

Johan is per trein terug na Pretoria. Sy vriend Danie Blom, ‘n oud medestudent van die Bible Institute te Kalkbaai  het vir ‘n tyd sy werk kom oorneem in Suidwes. Eers na hulle troue in Februarie 1962 sou hy en Ria terug gaan na hulle groot taak in die Dorsland...

Met sy aankoms by die sendingstasie te Roslynn by Pretoria, vind hy een van die werkers besig om ‘n kappie te bou vir ‘n Chev bakkie. Hy hoor toe die onderlangse fluisterstemme wat sê: “Die bakkie is joune vir Suidwes.” Hy was baie lief vir Chevrolet bakkies, terloops, hy het groot geword met Chev voertuie. Daardie dae was jy mos of ‘n Fordman of ‘n Chevman en Johan was laasgenoemde. Maar dit was nie ‘n Land Rover nie en hy het gebid vir ‘n Land Rover...

Na hulle troue in Heidelberg, Kaap was hy en Ria met ‘n span werkers op die plase te Odendaalsrus. Die tyd vir Danie om terug te keer uit Suidwes het aangebreek. Hy stuur toe ‘n telegram en vra of hy met die Taunus (waarmee hy in Suidwes gewerk het) moes kom of met die trein. Johan was toe verplig om die sendinghoofkantoor te skakel. Die gesprek het as volg verloop: “Tannie, Danie het getelegrafeer om uit te vind of hy met my voertuig moet kom. Ek het op Dorothea verneem dat ek die Chev bakkie gaan kry, wat moet ek vir Danie laat weet?” “Sê maar vir Danie hy moet met die bussie kom. Jy moet na hoofkantoor kom as julle klaar is, ek het iets baie beter vir jou as die bakkie.” Johan druk toe vinnig die spreekbuis toe en sê vir Ria: “Dit is ‘n Land Rover”

Op die hoofkantoor, Eulogia aangekom, vra tant Lettie von Staden : “Raai wat het ek vir jou?” “‘n Jeep”, antwoord Johan. “Nee nie ‘n Jeep nie, ‘n Land Rover.” “Ekskuus tannie, maar dit is wat ek bedoel,” borrel dit uit van blydskap. “Maar tannie, ek moet eers vertel hoe ek die Land Rover gekry het. Tannie, ek het een gebed gebid.” En hy vertel haar die verhaal van daardie dag by Pierre.

“Ja” sê sy, “maar ek sal jou ook vertel hoe ons die Land Rover gekry het. Ons het besef die Taunus is te swak vir Suidwes se paaie en ons het ook gebid vir ‘n Land Rover. ‘n Vrou het in haar boedel in Amerika ‘n bedrag geld bemaak en dit was £1334. Toe ons die prys vir ‘n Land Rover gaan uitvind was dit die presiese bedrag. Ons het geweet dit is vir jou Land Rover. Nou kan jy dit gaan haal by Sydney Clow Motors.”

Johan se hart het in aanbidding oorgeloop het. Hulle het ook net daar in gebed dankie gesê. Daardie eerste aand is hy en tant Lettie na ‘n diens van dr. Eric Hutchinson met die Land Rover. Wonderlik genoeg, die boodskap het juis gegaan oor geloof in God. 

Die verhaal van daardie wonderlike groen Land Rover sou seker ‘n boek kon wees.

Pastoor Angula van Ovamboland het eens opgemerk : “Die Land Rover is wonderlik, ‘n mens hoor hom nie loop as hy aankom nie, en jy sien ook nooit dat hy petrol inneem nie.” Johan se antwoord was : “Die Land Rover loop mos nie met petrol nie, maar op geloof.” 

Die Land Rover het wel van brandstof gebruik gemaak, maar was in baie opsigte ‘n geloofskar. Menige man, vrou en kind het in die Land Rover, Jesus Christus as Verlosser leer ken. 

Toe die Land Rover lankal nie meer daar was nie, het Johan steeds na baie jare mense wat die Here gevind het by plekke waarheen die Land Rover hulle gedra het.

So het hulle te Duineveld ’n reeks dienste gehou. Dit was ’n mooi geleentheid waar Ria en toe nog twee kinders saam kon gaan. Veral is bedags by die skoolkinders ook dienste gehou. Dertien jaar later hou Johan by Kalkrand stil om iets by die winkel te gaan kry. Hy het sy bekende wit helmet opgehad. By die deur van die winkel groet ’n jong meisie. “Ekskuus, meneer, maar u sal my nie ken nie, maar is u nie meneer de Koning nie?” “Ja,” sê hy. “Meneer, 13 jaar gelede was ek in standerd 2 toe meneer op Duineveld met die groen Land Rover dienste gehou het, in daardie diens het ek tot bekering gekom. Ek was maar 9 jaar, en weet u ek is steeds op die Here se pad. Oor twee weke gaan trou ek, en die man met wie ek gaan trou het ook onder meneer se diens tot bekering gekom”.

Wat ‘n vreugde om so ‘n getuienis te kon hoor. Toe hy vir sy vriend, Ds. George Hugo van hierdie voorval vertel was sy opmerking: “Dit is die seën wat ’n mens beleef na ’n lang bediening …”


Die groen Land Rover met sy TP registrasienommer in diens van die evangelie iewers in die Noorde.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.