“Julle, Christene is nie konsekwent nie.”
So dikwels verskyn daar siniese opmerkings in die media wat
neerkom op : “Julle Christene is inkonsekwent, julle veroordeel
homoseksualiteit omdat dit in die Bybel verbied word, maar hoekom stenig julle
nie ongehoorsame kinders nie? Dis mos ‘n bevel wat mens ook in die Bybel kry.” (Snaaks dat mense so lief
is vir hierdie “steniging van kinders” argument – nou die dag sien ek ‘n ou
gebruik dit om nie meer in die bestaan van ‘n hel te glo nie.) Of – “Hoekom eet
julle skulpvis, daar is dan ‘n duidelike verbod daarop in dieselfde Bybel? Hoekom eerbiedig julle nie al die bevele in
Levitikus nie? Julle pick en choose net wat julle pas.”
Sulke uitlatings klink natuurlik vir oningeligte ateïste, skeptici, Skrifskenders en Kletskerk aanhangers baie oortuigend, maar enigiemand wat met
nugterheid na die totale konteks van die Bybel kyk behoort geen probleem te
ondervind om die kwaadwillige dwaasheid van hierdie tipe stellings raak te sien
nie.
Kom ons probeer verduidelik. Die antwoord lê in kort in die
heerlike, maar eenvoudige feit dat Jesus gekom het en die hoogtepunt van God se
openbaring is. “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot
die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur
die Seun” (Hebreërs 1:1)
Jesus het as Middelaar van ‘n beter Nuwe Verbond, die Ou
Verbond met sy instellings en wette vervang. Waarom offer ons nie meer bulle,
skape en bokke nie? Daar is mos duidelike voorskrifte hieroor? Vir elke
evangeliese gelowige is die antwoord baie eenvoudig. (sien die hele Hebreërs 8-10) Jesus se offer
van Homself aan die kruis was as finale
offer algenoegsaam vir die kwytskelding van al ons sondeskuld en dit maak
verdere bloedoffers totaal onnodig. “Maar Jesus Christus het één offer vir
die sondes gebring... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder
word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.”
(Hebreërs 10:12-14) Trouens, enige bloedoffer sou vandag neerkom op ‘n
miskenning van sy kruisdood.
Ja, maar wat van al die etiese opdragte soos die verbod op
die veelbesproke skulpvis? Hoekom hou
Christene deur al die eeue hierdie wette nie meer nie?
VERANDER, VERDIEP, VERSKERP, VERVUL
Jesus self het hierdie
dinge duidelik kom verander. Hy het byvoorbeeld alle kos rein verklaar (Markus 7:19) en op 'n ander keer direk teen die Ou Verbond se bepalings aan ‘n melaatse geraak (Markus
1:41) en hom genees. As Seun van God, wat groter as Moses is het Hy die gesag
om dit te doen. In sommige gevalle het Hy die bepalings van die Ou Verbond
verdiep en verskerp soos wat Hy gedoen het met die gebod dat jy nie mag egbreuk
pleeg nie! (Matteus 5:27-30) In hoofsaak het Jesus nie die wet (tora) sommer
net summier afgeskaf nie, maar Hy het dit vervul. Hy het dit nie weggegooi nie,
maar aan die anderkant het Hy dit ook nie maar net onveranderd gehandhaaf nie.
Jesus het alles tot hulle diepste en finale bedoeling gebring. Daarom kon
Paulus sê dat iets soos die sabbat ‘n skaduwee (teken/heenwysing) na Christus
was. (Kolossense 2:16,17) Die sabbat was ‘n tydelike wegwyser na Christus, maar
noudat Hy gekom het, mag ons nie meer daarby vashaak nie. Die werklike saak
waaroor dit gaan is Jesus Christus self en ons moet aan Hom alleen vashou!
Beteken dit dat Ou Testamentiese wette en veral ‘n boek soos
Levitikus niks meer vir ons te sê het nie? Inderdaad bly dit deel van God se
Woord en is daar steeds baie nut daarin om dit te bestudeer. Ons kyk egter
daarna deur die bril van Christus se afgehandelde werk. Die groot
grondbeginsels wat hierdie wette onderlê soos die heiligheid van
God (vgl 1 Petr 1:16 met Lev 11:44,45
ens.), die opdrag tot liefde vir God en die naaste, die oproep tot God se mense
om anders te wees te midde van ‘n korrupte heidendom ens. spreek nog steeds
kragtig tot ons. Soms word opdragte van die Ou Verbond wel direk en onveranderd
in die konteks van die Nuwe Verbond herhaal, soos : “Eer jou vader en jou
moeder” (Efesiërs 6:2) In so ‘n geval
weet ons dat dit presies net so op ons van toepassing bly. Die verbod op homoseksuele
gedrag wat ons in Levitikus vind, val ook in hierdie kategorie, want die Nuwe
Testament verklaar ook duidelik dat dit sonde is.* (Romeine 1:18-32; 1
Korintiërs 6:9-11)
DAAR BESTAAN DUS BAIE GOEIE REDES WAAROM DIE KERK STEEDS GLO DAT HOMOSEKSUALITEIT TEEN GOD SE BEDOELING MET DIE MENS INDRUIS, MAAR DAT DIE EET VAN KREEF NIE 'N SONDE IS NIE.
En wat dan nou van die “steniging” van ongehoorsame kinders?
God se volk, die kerk van Jesus, anders as onder die bedeling van die Ou
Verbond vorm nie ‘n staatkundige en etniese eenheid wat burgerlike wette moet
daarstel nie. God se volk is nou
versprei in baie state en onder baie volke. Die beginsel van straf vir
ongehoorsaamheid geld steeds, maar die Nuwe Testament bemoei hom nie met die voorskryf van
burgerlike strawwe nie. Die Nuwe Testament lê die klem op die verkondiging van
die evangelie, die eis tot bekering en die najaging van heiligmaking. Dis nou
genadetyd, maar daar wag ‘n finale oordeel...
Alle oordele en strawwe in die Ou Testament is maar eintlik voorfilms van die finale afrekening wat by die wederkoms sal plaasvind!
O, en as jy gewonder het oor ‘n hel, ja daar is so iets,
want Jesus het nogals baie en baie duidelik daaroor gepraat!
Vir meer oor die geheelkonteks en groot prentjie van die Skrif, kliek op LUGFOTO VAN DIE BYBEL
Vir meer oor die geheelkonteks en groot prentjie van die Skrif, kliek op LUGFOTO VAN DIE BYBEL
*Oor die hele kwessie van die kerk se houding teenoor die vraagstuk omtrent homoseksualiteit beoog ek om vorentoe in diepte op in te gaan.
Hi Johannes,Dankie vir die grondwaarhede van die Skrif.Wat 'n stuk verfrissing bring God se Woord nie.....
AntwoordVee uitDankie Albie vir die aanmoediging!
AntwoordVee uitOor die "lugfoto van die Bybel"... ons "outannie"-groep is besig met Bybelstudie uit Handelinge waar ons behoorlik lang dele lees. So lees ons net vanmiddag die verskillende toesprake van Petrus en ook Stefanus s'n in die eerste 7 hoofstukke. Hoe wonderlik om die goue draad van God se Plan daar raak te lees, met vele verwysings van wat in die OT staan.
AntwoordVee uitHandelinge is 'n fantastiese boek wat net vanuit die OT agtergrond verstaan kan word. Vir die studie van Handelinge wil ek graag die boek van Dennis E Johnson, "The Message of Acts in the history of Redemption" baie sterk aanbeveel.
Vee uitGod bless.
AntwoordVee uitDag broer Etienne, dis so wonderlik om jou hier raak te loop. Mag die Here jou in die besonder naby wees in hierdie tyd.
Vee uitLiefdegroete in Jesus
Hallo Johannes, hier is ook 'n goeie aanvullende artkel tot die onderwerp wat die saak ook mooi verduidelik. Kliek op Gaan na http://theaquilareport.com/the-bible-homosexuality-and-shellfish-by-matthew-everhard/
AntwoordVee uitGroete, Wolf.
Dankie Wolf, baie lanklaas van jou gehoor. Mag dit goed gaan deur Sy genade.
Vee uit