BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 18 Julie 2015

IN DIE DONKERSTE NAG...

- is ons nie "embarrassed" nie!


“Paulus wat help jou evangelie jou, wat het al jou geloof jou in die sak gebring? Kyk na die feite Paulus : jy sit in die tronk, jy ly ongerief, jy is niks, jy besit niks, 'n wrede dood wag op jou... Is dit soos jou Jesus jou behandel, is dit nou wat jy vir al jou moeite en geloof kry?”

WERK DIE EVANGELIE? IS DIT DIE MOEITE WERD?

Dis nogal ‘n goeie vraag : Werk die evangelie, is dit soos in regtig, baat dit 'n mens enigsins - of het dit dalk eerder 'n verleentheid geword, dalk 'n kat in die sak? 

Ek sou my kon voorstel dat sommige van Paulus se kennisse hom met sulke opmerkings gekonfronteer het. Dis heel moontlik dat sommige van ons ook al met sulke aanmerkings voor die kop geslinger is. "Jong, jy is mos 'n groot Christen, maar kyk hoe sleg gaan dit met jou..." Nog meer waarskynlik dat ons al self in tye van angs, hartseer, beproewinge hierdie soort vrae in ons binneste geopper het: “Ek wonder, werk die evangelie regtig, maak dit 'n verskil, is dit die moeite werd om 'n Christen te wees?”

Hoe sou jy sulke twyfelvrae beantwoord van andere of in jou eie gemoed? Ek dink ons kan 'n goeie aanduiding in 2 TIMOTEUS 1:3-12 kry hoe Paulus dit sou geantwoord het.

Paulus self verkeer inderdaad in haglike 'n toestand; dis sy tweede gevangenskap in Rome. Hy verwag enige oomblik om tereggestel te word. Ons lei dit af uit 2 Tim 4:6 – “die tyd van my dood is voor die deur”. (Hy is vir alle praktiese doeleindes in die dodesel) Tog is dit merkwaardig, juis in hierdie omstandighede skryf hy 'n bemoedigingsbrief aan Timoteus. 

Timoteus was nog betreklik jonk en sy verantwoordelikhede het miskien vir hom te veel geword. Ons kan aflei dat hy ook swaargekry het – (8)- “ontberings”. Dit lyk asof hy miskien depressief, bevrees of dalk moedeloos geraak het. Daarom Paulus se kragtige bemoediging in vers 7 : "Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing." 

Nou hoe moedig Paulus vir Timoteus aan, wat sê hy om hom weer moed in te praat? Dis nogal belangrik dat ons dit sal raaksien. Paai Paulus hom met : “Ag,Timoteus alles is darem nie so erg nie, jong jy moet jouself maar net 'n bietjie regruk, wees 'n man en byt vas?” Nee, weet u wat - hy vat hom terug na die "basics" - die basiese feite van die evangelie. Hy voer hom weer 'n opsomming van die grondwaarhede van die evangelie. Natuurlik het Timoteus dit baie goed geken, maar Paulus herinner hom net so 'n bietjie. 

"Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.
Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring." (9-10) 

Let op - "die mag van die dood gebreek het" - dis veelseggend as mens besef dat Paulus self die dood hier in die gesig staar. (Dit lyk vir my baie belangrik as mens verward voel, hartseer, vol twyfel, moedeloos - vergewis jouself net weer van die basiese feite van die evangelie!)

Paulus se onwrikbare vertroue op God en die evangelieboodskap bring hom by die klimaks van 12. 

"Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou."

Wat wil Paulus nou eintlik hier sê? Hy sê in effek, ek weet ek is in die tronk juis omdat ek hierdie evangelie verkondig. maar ek staan nie beskaamd as gevolg van die evangelie nie. Ek is nie in 'n verleentheid nie, ek is nie uitgeboul nie. Inteendeel! Ek is trots op die evangelie... Ek wonder nie of ek die regte keuse gemaak het nie. Ek is hoegenaamd nie ontnugter nie, die Here het my nie in die steek gelaat nie (onthou weer, hierdie man sit in 'n dodesel) Waarom hierdie positiewe gesindheid, blydskap en vertroue? Sê Paulus nou maar net vir homself, “ag dinge is nie so erg soos dit lyk nie?” 

Nee, hy gee 'n gewigtige rede. "Ek is daarvan oortuig....!” (12) Uit die konteks is dit die waarheid van die evangelie. Ek is nie verleë nie, ek kan alles hanteer, probleme in die oë kyk, ek is wat ek is, selfs hier in die tronk staan ek nie beskaamd nie, agv die vaste waarheid van die evangelie. Die Here self waarborg sy evangelie, Hy is magtig om dit in stand te hou. In hierdie feit lê my hoop en troos. “Timoteus, jy moet ook vashou aan hierdie vaste waarheid aan die evangelie. Dan sal jy nie bang en verskrik en paniekerig wees nie.” Paulus bemoedig Timoteus deur hom weer terug te bring na die sekerheid van die evangelie, die Godgewaarborgde evangelie. Die Goeie nuus van die kruis en opstanding!

Wat anders is vas en seker as juis die evangelie, en net die evangelie?

Laat ons realisties wees. Oornag (letterlik) kan jou finansiële bates, jou gesondheid, jou intellektuele vermoëns, jou geliefdes weggeneem word... (kliek op MATRIEKDOGTER)  Enige oomblik kan dit ook die einde van jou aardse bestaan wees. Al wat gewaarborg kan word is die kosbare beloftes van die evangelie omdat ons Here dit waarborg.(Let wel - die evangelie waarborg nie ons gesondheid, voorspoed ens. nie, maar die Ewige Lewe.) Die evangelie laat jou nie in die steek nie, daarom kan Paulus sê : “Maar dit skrik my nie af nie...” Dus, dink vir jouself, wat is dit wat regtig tel, wat maak ten diepste saak, waarvan moet jy ten alle koste seker maak, wat moet jy soek met alles, wat moet heel eerste kom? 

Vriend, jy moet seker maak dat jy persoonlik deel in die beloftes van die evangelie, dit toe eien. Die wat die evangelie glo sal nooit beskaamd staan nie - die teenoorgestelde is natuurlik net so waar- diegene wat hulle sekuriteit en geluk bou op enige iets of iemand anders sal defnitief beskaamd staan, teleurgesteld word. Hulle sal eendag uitroep : “Wat 'n dwaas was ek nie gewees nie!” 

Waarop bou jy? Is die evangelie jou anker? Sonder hierdie boodskap kan ons nie lewe nie en nog minder kan ons sterwe.

Die troos van die evangelie behels nie om as ek hartseer is 'n gepaste Bybelteks te soek en te hoop ek voel vir 'n rukkie beter nie. Nee, ek ontvang die waarheid, omvattende waarheid wat handel oor verlossing en genade maar ook oor straf! Hemel, maar ook hel. Die evangelie gee waarheid, en die gevolg daarvan is troos. Jy kan nie by die waarhede verbyglip en net vat wat jy graag wil hê of nodig het nie. Nee, jy moet die waarheid as geheel aanvaar en die byproduk is troos, blydskap en al daardie dinge..

Die wat die evangelie vertrou en op Jesus hoop word nooit teleurgestel nie, staan nooit verleë nie, selfs nie in hulle donkerste ure van smart en lyding nie. Paulus se lewe en gesindheid wat hy in die brief weerspieël is 'n praktiese bewys daarvan. 

Kom ons dink sommer aan ‘n ander bekende voorbeeld : H G Spafford was ‘n welaf man, maar het als verloor in die bankineenstorting in die VSA. Dit was nie die ergste wat hom getref het nie. Hy kry op ‘n dag die nuus van sy vrou wat saam met sy vier dogters per skip na Europa toe is dat al vier sy dogters verdrink het na ‘n botsing op see! Wat was sy reaksie op hierdie uiterste tragedie? Hy het ‘n lied geskryf... When peace like a river attendeth my way,When sorrows like sea billows roll,Whatever my lot, though hast taught me to say,It is well, it is well, with my soul! 

Geliefdes, die evangelie werk, dis nie 'n kat in die sak nie, maar 'n kosbare, die kosbare skat ook in nagdonker tye! AMEN



[erkenning aan 'n boodskap van dr.Martyn Lloyd-Jones]





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.